Aanhangers en kunsliefhebbers het verlede Dinsdag (14 April) in Malmesbury ter viering van die Maggie Laubser-dag byeengekom.
Die dag is as ‘n historiese en kulturele oomblik beskryf toe die bekendstelling van die heel eerste en nou jaarlikse Maggie Laubser-dag gevier is.
Laubser – een van Suid-Afrika se invloedrykste kunstenaars en ‘n boorling van die Malmesbury-distrik op die plaas Blaauwblommetjieskloof (1886-1973) het 140 jaar later op 14 April 2026, op haar geboortedatum, “huis toe gekom” danksy die inisiatief van die Maggie Laubser-stigting, wat die tuiskomsprojek gedryf het. Die dag was deel van ‘n groter poging om Laubser se werk weer aan nuwe gehore bekend te stel terwyl haar plek in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis vereer word.
Die dag het met die amptelike opening van die Maggie Laubser-kunsuitstalling begin, waar 30 oorspronklike werke uit die Sanlam-kunsversameling, onder leiding van die kurator Stefan Hundt, by die Malmesbury-museum ten toon gestel word. Daarbenewens is ‘n permanente Maggie Laubser-hoekie onthul, wat haar nalatenskap in die dorp verewig.
Volgens Deon Oliver, die stigter van die Maggie Laubser-stigting, wat verheug was oor die groot opkoms, was dit lekker om so baie belangstelling te sien. Oliver het sowat drie jaar gelede in ‘n gesprek met vriende besef ander mense raak net so opgewonde soos hy wanneer daar oor Maggie gepraat word. Die stigting is nie lank daarna nie tot stand gebring.


museum, knip die seremoniële lint met die amptelike opening van die Maggie Laubser-uitstalling. By haar staan Deon Oliver, die stigter en voorsitter van die Maggie Laubser-stigting.


kenning is deur Deon Oliver van die Maggie Laubser-stigting aan haar oorhandig.

“Maggie het in die laat dertigs gesê sy wil so graag iets vir haar mense gedoen het, maar het nie geweet dit gaan so moeilik wees nie. Ons staan vandag hier om te sê: Dankie, Maggie. Dit is ‘n voorreg om te sien wat jy gedoen het. Gesondheid op 140 jaar.”
Dit is die eerste keer dat Malmesbury haar op hierdie manier vereer, voeg hy by. “Mense besef nie sy is hier gebore en getoë nie en dit gaan daaroor om daardie storie terug huis toe te bring.”
Hundt het op sy beurt gesê hy was aangenaam verras oor die gebou wat die stigting vir die uitstalling in gedagte gehad het. “Dit is eintlik baie gepas vir ‘n uitstalling van Maggie Laubser.”
Hundt verduidelik hy het van haar oudste tot een van haar nuutste werke gekies om hier uitgestel te word om ‘n goeie idee van haar werk oor die jare te kry.
Volgens kenners het die Swartland, die plaaslewe en sy mense ‘n groot rol in haar latere werke gespeel. Daarna het gaste na Café Myrtledene beweeg vir ‘n voorlegging met dr. Lydia de Waal en Amanda Botha, wat Laubser se lewe, werk en invloed bestudeer het. Die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren van Riebeek-Kasteel het ‘n gedig ter ere van Maggie geskryf en aan gaste voorgelees. Die gedig se woorde is ook getoonset deur die sangpaar Raaf – nou ook inwoners van Riebeekvallei – wat dit gesing het. Die dag is op ‘n hoë noot deur ‘n begeleide kunstoer deur Hundt afgesluit.






You must be logged in to post a comment.