Agri Malmesbury het die afgelope week sy jaarvergadering in die Freek Standersaal aangebied.
John Dürr, wat as voorsitter herverkies is, het in sy jaarverslag verwys na die uitdagings wat dié jaar (Mei 2025 tot April 2026) vir lede ingehou het. “Die afgelope jaar was in baie opsigte seker een van die mees uitdagende jare in die geskiedenis van landbou in die Swartland.”
Volgens hom het elkeen van die drie hoofbedrywe, naamlik die graan-, vee- en wingerdbedryf, op die een of ander wyse onder onvoorsiene gebeure op plaaslike en internasionale vlak deurgeloop.
Hy sê hoewel koringproduksie in die land toegeneem het (in 2015 is ongeveer 1,44 miljoen ton op 482 000 ha aangeplant, met sowat 2 miljoen ton op 500 000 ha in 2025) produsentepryse vasgevang bly weens onder meer die invoerpariteit met ‘n onrealistiese kans vir beduidende prysstyging oor die korttermyn.
“Gelukkig het kanola veral as goeie wisselbougewas én sy verdraagsaamheid teen droogtes en verbeterde saadtegnologie tot baie produsente se redding gekom.”
Die konflik in die Midde Ooste het enige verwagtinge tot prysstygings nog verder gedemp en terselfdetyd twee van die graanprodusente se hoofinsette, naamlik brandstof en kunsmis, ‘n verdere nekslag toegedien.
“Die onlangse skerp stygings in die brandstofprys is nog vars in ons almal se geheue. Een plaaslike uitsondering was Standard Petroleum, wat op 1 April steeds diesel teen die ou prys afgelewer het,” deel Dürr ‘n pluimpie.
Volgens hom bly die wynbedryf ook onder strukturele druk, wat sedert 2006 van 102 000ha tot 88 000ha in 2025 gekrimp het – hoofsaaklik weens lae winsgewendheid en die vervanging daarvan met ander gewasse soos sitrus, neute en bessies. Die onlangse druiweoes was egter bemoedigend met hoër volumes en boonop goeie gehalte, brei hy uit.
Dürr verwys wéér na die gevreesde bek-en-klouseer-virussiekte wat middel verlede jaar die kop uitgesteek het.
“ ’n Styging in produsentepryse van byna 25% in bees- en skaapvleis, gedryf deur uitvoer, het aanvanklik groot belofte vir ‘n goeie seisoen ingehou. Vroeg in November 2025 het die onvermydelike egter gebeur en het BKS, wat toe reeds in sewe ander provinsies bevestig is, sy verskyning in die Wes-Kaap gemaak, met katestrofiese gevolge in die uitvoermarkte van veral rooivleis. Die uitbreking het tot dalende rooivleispryse gelei weens hoë volume binnelandse voorraad en verbruikersvertroue wat ‘n knou gekry het, tesame met bewegingskontrole en streng biosekuriteitsmaatreëls. Met die positiewe geval van BKS onder die eerste melkkudde in die streek en in die Wes-Kaap, is groot finansiële skade en die verlies aan genetiese materiaal wat oor die jare opgebou is, gevoel.
“Die psigiese uitwerking op produsente en hul werknemers is dikwels onberekenbaar groot,” voeg hy by.
Dürr het namens Agri Malmesbury hul dank teenoor private- en staatsveeartse asook hul tegniese personeel uitgespreek, wat ‘n groot rol in die bekamping van die virussiekte vervul het en steeds doen.
“Die rol wat hulle vervul om hierdie hoogs aansteeklike siekte onder beheer te bring, word nie altyd na waarde geskat nie.”





