Noordkaap Bulletin

LUR salig ‘onbewus’ van sy administrateur se strafregtelike aanklagte

Bentley Vass. LUR van Coghsta Noord-Kaap
Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake. FOTO: Verskaf
Noordkaap Bulletin

LUR salig ‘onbewus’ van sy administrateur se strafregtelike aanklagte

Bentley Vass. LUR van Coghsta Noord-Kaap
Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake. FOTO: Verskaf

Bentley Vass, Noord-Kaapse LUR van samewerkende regering wat die week die Sol Plaatje-munisipaliteit onder administrasie geplaas het, is “onbewus” dat Winston Modisa Moyahi, een van die administrateurs wat hy aangestel het, deur aanklagte van bedrog en korrupsie in die gesig gestaar word.

By ‘n spesiale raadsvergadering op Woensdag 6 Mei waar die publiek en die media deur speaker Dipuo Peters belet is om dit by te woon, het Vass die toepassing van Artikel 139(1)(b) van die Grondwet aangekondig.

Sy redes hiervoor is die ineenstorting van verhoudings en bestuur, mislukking in dienslewering, institusionele onstabiliteit, verlies aan openbare vertroue weens die voortslepende hofsake tussen die stadsbestuurder en die speaker, versuim om op direktiewe te reageer en ter wille van stabiliteit  en goeie bestuur.

Bradley Swartland, Dipuo Peters, Thomas Mongwe, Bentley Vass, Martha Bartlett,  Winston Moyahi en Tsholofelo Mekgwe by die aankondiging dat die provinsiale regering by die Sol Plaatje-munisipaliteit ingryp. FOTO: Charné Kemp Credit: Charne Kemp

Vass meen die ingryping is nie vir “politieke gewin” nie, maar ‘n grondwetlike verpligting om stabiliteit terug te bring, goeie bestuur te verseker en te sorg dat die tegniese kundigheid van die administrasie gebruik word om beleid korrek te implementeer.

Hy het tydens die nuuskonferensie wat op die raadsvergadering gevolg het en wat die speaker op sy versoek belê het, kategories verklaar hy is “onbewus” van enige kriminele kwessies rakende sy administrateurs. Vass het die media uitgenooi om die toepaslike inligting aan hom te verskaf sodat hy dit verder kan neem.

Hy sê hy kan spanlede vervang indien daar ernstige probleme aan die lig kom.

Ondanks dié stelling, is hy en die provinsiale uitvoerende raad “vol vertroue dat die regte span gekies is, gegrond op hul geloofsbriewe en agtergrond in plaaslike regering en bestuur.”

Aangestelde administrateur verlede jaar in hegtenis geneem

Tot verlede jaar was Moyahi die bestuurder van die munisipaliteit se Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI). Die BFI, wat R2,5 miljard behels, word beskryf as die munisipaliteit se grootste waterinfrastruktuurprojek tot op hede.

Moyahi is in Mei verlede jaar saam met vyf ander deur die Valke in hegtenis geneem in verband met die konstruksiesaak van die Kimberley Geestesgesondheidshospitaal wat uit die vroeë 2000’s spruit, waar die begroting van R297 miljoen tot meer as ‘n miljard rand gestyg het. Hy en sy medebeskuldigdes word onder meer aangekla van bedrog, korrupsie en geldwassery; Moyahi weens sy rol as ‘n voormalige direkteur van Babereki Consulting.

LEES OOK: Another six arrested in Kimberley Mental Hospital’s R1 bn construction case

Die bewering is dat die direkteure van Babereki Consulting R51 miljoen van die departement van paaie, vervoer en openbare werke ontvang het, terwyl hulle geen kontrak met die departement gehad het nie. Hy en die ander is verlede jaar op borgtog vrygelaat. Die saak is reeds na die hooggeregshof oorgeplaas.

Moyahi is in Mei verlede jaar weens dié aanklagte deur Thapelo Matlala, stadsbestuurder, op spesiale verlof geplaas.

Die munisipaliteit het destyds in ’n verklaring gesê die aanklagte hou nie verband met Moyahi se rol by die munisipaliteit nie. Die besluit om spesiale verlof toe te staan, is geneem om die “reputasierisiko” van die instelling te beskerm terwyl die saak voortduur.

In the Kimberley Magistrates’ Court op Wednesday, 28 May, are from the left Laurencia Crause, Louis Adriaan van Niekerk, Winston Modisa Moyahi, Motlalepula Elias Selemela and Ruth Palm. Photo: Supplied / Hawks
In die Kimberley landdroshof op 28 Mei 2025 is van links Laurencia Crause, Louis Adriaan van Niekerk, Winston Modisa Moyahi, Motlalepula Elias Selemela en Ruth Palm. FOTO: Valke

Vrae onbeantwoord, ook oor waarnemende stadsbestuurder

In Oktober verlede jaar het die DA antwoorde geëis oor Mohayi se status omdat hy toe reeds ses maande lank weg was. Die DA het gesê hy is in die duister gelaat oor of Mohayi steeds betaal word, wie sy verlof goedgekeur het en wie sy kritieke werk doen. Bekommernis is uitgespreek oor moontlike finansiële wanbestuur, en die teruggee van onbestede geld vir die BFI-projek.

Prentjies is nou verhang met die provinsiale ingryping waar Matlala as stadsbestuurder aan Mohayi en die ander administrateurs verslag moet doen.

LEES OOK: Manager at water infrastructure project takes special leave amid court charges

Die DA veroordeel die aanstelling van Mohayi as administrateur. Heinrich Pieterse, DA-koukusleier, meen dis onverklaarbaar dat Vass vir Mohayi as geskik beskou om om toesig te hou oor die munisipaliteit.

“Dit laat ernstige vrae oor die geloofwaardigheid, oordeel en integriteit oor diegene wat Vass aangestel het om die munisipaliteit te administreer.

“Ons kommer is ook gegrond oor Vass se uiters ontstellende sekondering verlede jaar van die veroordeelde bedrieër, Busisiwe Mgaguli, as waarnemende stadsbestuurder.  Die raad wag steeds op aanspreeklikheid rakende twyfelagtige betalings van altesaam R600 000 in openbare fondse wat deur Mgaguli gemaak is.

“Dis onmoontlik om die Artikel 139-ingryping ernstig op te neem wanneer alle aanduidings is dat dit nie gaan oor verbeterde dienslewering nie, maar eerder deur ’n vasbeslotenheid om beheer te kry van die R2,5 miljard BFI-projek.”

Die DA ondersoek moontlikhede om die ingryping teen te staan om “openbare hulpbronne teen verdere misbruik en die integriteit van die munisipaliteit te beskerm” ingevolge die Wet op Munisipale Strukture wat openbare finansies reguleer.

“BFI-geld en alle munisipale hulpbronne behoort aan Kimberley se inwoners en nie aan die ANC nie,” sê Pieterse.

‘Deursigtigheid’ onder verdenking

Theo Joubert, VF Plus LPW en voorsitter van die portefeuljekomitee vir samewerkende regering, sê die ingryping word deur die stadsbestuurder met ʼn dringende hofaansoek teengestaan.

“Ons kan nog nie ‘n uitspraak lewer oor die geldigheid van die ingryping nie. Enige ingryping moet egter geloofwaardig, professioneel en bo verdenking wees. Die doel van ’n artikel 139-ingryping is immers om goeie regering, finansiële dissipline, openbare vertroue en administratiewe stabiliteit te herstel.

“Dis daarom uiters problematies indien persone wat volgens mediaberigte met ernstige strafregtelike aantygings verbind word, deel is van ’n span wat juis integriteit en goeie regering moet herstel. Die beginsel van onskuld moet uiteraard gerespekteer word, maar die vraag na geskiktheid, openbare vertroue en behoorlike keuringsprosesse bly geldig.”

Die uitsluiting van die media en publiek tydens die bekendstelling van die administrasiespan wek verder ernstige kommer oor deursigtigheid. ’n Artikel 139-ingryping is ’n buitengewone grondwetlike proses wat juis openbare vertroue behoort te versterk nie geheimhouding te bevorder nie, sê Joubert.

  • Navrae aan Vass se woordvoerder het onbeantwoord gebly.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article