JACOBSBAAI – Inwoners in dié rustige Weskusdorp tussen Saldanha en Vredenburg in die Saldanhabaai- munisipale gebied (SBM) voer ‘n jarelange stryd teen loslopende beeste wat veral snags tuine vertrap, grasperke beskadig en selfs moontlike gevare inhou vir voertuigverkeer in besige dorpstrate.

Volgens Dick van Dijk, ‘n bekende inwoner, sakeman en eienaar van die plaaslike Abalone-gastehuis, is die beeste ‘n knaende kopseer. “Hulle verwoes my tuin en vreet gate in my grasperk, waarop ek baie geld spandeer het. Die beeste is gereeld hier en is selfs ‘n probleem vir gaste. Die vee loop tussen voertuie rond en kan dit maklik beskadig. Beesmis wat oral rondlê, is ook ‘n las vir my.”
Van Dijk sê hy kla al geruime tyd by die SBM se wetstoepassers. “Daar kom egter nie ‘n permanente oplossing nie. Beeste word eenvoudig nie geskut nie. Eienaars word nie beboet nie. En nou is die gevreesde en hoogs aansteeklike bek-en-klouseer-virus ook nog ‘n probleem. Hier is baie bokkies wat hier rondloop en die beesmis wat rondlê skep beslis risiko’s vir omliggende plase waar eienaars met vee boer.”
Volgens Van Dijk het hy selfs in Januarie 2020 ‘n saak by die polisie in Saldanha gaan maak weens skade aan sy eiendom. “Die polisie het egter bloot skouers opgetrek en my ingelig dat hulle niks aan die saak kan doen nie, aangesien hulle nie weet aan wie die beeste behoort nie.”
Jacobsbaai se voortslepende veeprobleem is selfs in 2021 deur die voormalige burgemeester, André Truter, geopper in ‘n skrywe aan Heinrich Mettler, die munisipale bestuurder.
Truter was toe die raadslid vir Wyk 5. In die skrywe vra hy dat die veeklagtes in Jacobsbaai ernstig ondersoek moet word, omdat dit ‘n daadwerklike probleem is met geen einde in sig.
Dit is nou byna ses jaar later en blykbaar is die beesprobleem se einde steeds nie in sig nie.
Volgens nóg ‘n besorgde inwoner was loslopende vee in die Jacobsbaai-gebied al ‘n kopseer byna 25 jaar gelede. “Jacobsbaai het egter baie uitgebrei en verkeer in die dorp het toegeneem. Baie huise het egter nie heinings nie en beeste teiken erwe met grasperke. Ek self het nou stukkies plastiek aan ‘n tou by my erfingange gehang om die beeste af te skrik. Hulle loop meestal snags rond en ek vrees dit kan dalk tot ‘n ongeluk in die strate lei.”

Tredoux Odendaal woon al nege jaar in Jacobsbaai en is ‘n lid van die plaaslike buurtwag. Ook hy is behoorlik keelvol vir die dorp se loslopende beeste en die gebrek aan langtermyn oplossings om dit hok te slaan. “Ek sien hulle snags rondbeweeg. Dit skep beslis gevare vir voertuigverkeer in die dorp se strate. Hulle het my plante ook verwoes en ek moes selfs my duur fontein se waterkraan toedraai om die beeste weg te hou van ‘n gerieflike drinkplek vir hulle.”
Volgens inwoners is die lastige beeste afkomstig van kleinboere se huurgrond wat vlak langs die Middelpos-woonbuurt in Saldanha geleë is. Selfs in Middelpos is beeste en boerbokke ‘n algemene gesig en diere wei rustig en ongestoord tussen huise en plakkershutte.
‘n Uitgestrekte oop veldgebied sonder heinings en ‘n grondpad tussen Saldanha en Jacobsbaai is ‘n maklike en gerieflike toegangsroete vir loslopende vee.

Volgens inwoners reageer wetstoepassers van die SBM wél op hulle klagtes. “Trokke het wél in die verlede uitgekom en die beeste was gelaai, maar ons weet egter nie waarheen dit geneem is nie. Boetes word blykbaar uitgeskryf, maar oortreders betaal dit nie. Soms kom die wetstoepassers met bakkies uit as ons kla, maar hulle jaag die beeste net op die Diazville-grondpad uit. Sulke diere behoort geskut te word, maar blykbaar het die SBM nie een nie. Die veeprobleem bly voortgaan.”
Volgens Dick van Dijk kan Nguni-beeste soms aggressief raak. “Beeste wat vrylik rondloop, en verskeie bulle en koeie insluit, is na my mening ‘n lewensgevaar vir die publiek. As ‘n bul jou takel, kan dit tot ernstige beserings lei. Die SBM moet dit besef. As hulle niks hieraan doen nie, kan hulle daarvoor verantwoordelik gehou word, sou iets met iemand gebeur.”
Weslander het die SBM vir kommentaar genader oor Jacobsbaai se beesprobleem en die vele klagtes. Volgens Tereza Burger, ‘n woordvoerder van die munisipaliteit, is die SBM bewus van loslopende vee in sekere gebiede, insluitend Jacobsbaai en Middelpos. “Daar is gevalle waar vee afkomstig is van areas waar grondgebruik-ooreenkomste met die munisipaliteit bestaan. Dit bly egter die verantwoordelikheid van die betrokke vee-eienaars/huurders om hul diere behoorlik te beheer en te voorkom dat dit openbare ruimtes betree. Hierdie situasie word as ‘n komplekse en deurlopende uitdaging hanteer, wat samewerking tussen vee-eienaars, grondeienaars, die munisipaliteit en ander rolspelers vereis.”
Burger sê wetstoepassing tree op binne die raamwerk van toepaslike verordeninge, maar volhoubare oplossings vereis ook verantwoordelike veebestuur deur eienaars. “Die munisipaliteit neem kennis van inwoners se bekommernisse rakende skade aan eiendom, die onooglike toestand en moontlike gesondheidskomplikasies. Hierdie kwessies word ernstig opgeneem. Rakende siektebeheer val dit onder die mandaat van nasionale en provinsiale landbou-owerhede.”














Volgens die SBM beskik die munisipaliteit wél oor ‘n amptelike skutfasiliteit en maak gebruik daarvan waar dit operasioneel uitvoerbaar en regsgebonde is. “Dit beteken dat nie alle gevalle onmiddellik tot skut kan lei nie, maar dat klagtes beoordeel en volgens prioriteit en beskikbare hulpbronne hanteer word.”
Burger meen die plaaslike regering besig om die huidige benadering tot die hantering van loslopende vee verder te versterk, insluitend verbeterde koördinering, nakomingsaksies en operasionele kapasiteit.
Die munisipaliteit “erken die frustrasies van inwoners en bly verbind tot die aanspreek van die probleem binne die raamwerk van wetgewing, beskikbare hulpbronne en samewerking met alle rolspelers,” het Burger afgesluit.



You must be logged in to post a comment.