Light bring dringende hofaansoek oor Graaff-Reinet se naamsverandering

Minister of Arts, Sport and Culture, Gayton McKenzie, is determined to repatriate the remains of South Africa's people taken abroad during the colonial era and those who died in exile as anti-apartheid activists.
Minister of Arts, Sport and Culture, Gayton McKenzie.

Light bring dringende hofaansoek oor Graaff-Reinet se naamsverandering


Derek Light, ‘n bekende prokureur gebaseer in Robert Sobukwe Town (voorheen Graaff-Reinet), het vroeër vandeesweek aan die Komani-Karoo Express bevestig dat hy pas ’n dringende hofaansoek gebring het om die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, te verplig om ’n besluit oor besware teen die naamsverandering van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe Town te neem. 

Hierdie naamsverandering, tesame met 20 ander geografiese naamsveranderings in die Oos-Kaap, is deur McKenzie goedgekeur en op 6 Februarie 2026 in die Staatskoerant gepubliseer.

Light het hom van die begin af teen die naamsverandering verset en aangevoer dat die kennisgewing in die Staatskoerant gebrekkig was omdat dit nie die publiek behoorlik oor die beswaarproses ingelig het nie.

Hy het verder aangevoer dat die naamsverandering nie die meerderheid inwoners se wense weerspieël nie, dat die publiek nie behoorlik die geleentheid gebied is om insette te lewer nie en dat die besluit indruis teen die beleid dat histories belangrike plekke slegs in uitsonderlike gevalle hernoem behoort te word.

Voor die sperdatum van 5 Maart 2026 het Light ’n omvattende beswaar, gesteun deur navorsing, ingedien en aangedui dat hy die minister se besluit, indien nodig, in die hof sou betwis.

Ná die indiening van sy beswaar het hy genoem dat 90 dae ’n redelike tydperk is vir die Minister om oor die besware te besluit. Dié tydperk het egter verstryk sonder dat ’n besluit geneem is, wat hom genoodsaak het om die dringende hofaansoek te bring. Hy hoop om op 24 November ’n hofbevel te verkry.

Intussen het die Ministerie van Sport, Kuns en Kultuur Dinsdag, 14 Oktober 2026, gerugte op sosiale media dat die naamsverandering van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe Town, asook ander geografiese naamsveranderings in die Oos-Kaap, herroep is, ten sterkste ontken.

Die bewering dat ’n hofsaak oor die aangeleentheid gewen is, is eweneens as vals bestempel.

Volgens die Ministerie het minister Gayton McKenzie geen van die geografiese naamsveranderings wat op 6 Februarie 2026 in die Staatskoerant gepubliseer is, teruggetrek, herroep of gewysig nie. “Geen nuwe besluit is geneem nie, en geen aankondiging oor ’n terugtrekking is aan enige persoon, politieke party of organisasie gemaak nie.”

Die Ministerie het ook bevestig dat geen hof nog uitspraak oor die aangeleentheid gelewer het nie en dat AfriForum se hersieningsaansoek in die Hooggeregshof van Suid-Afrika se Gauteng-afdeling in Pretoria steeds hangende is.

AfriForum het in Mei 2026 die Hooggeregshof in Pretoria genader om die naamsverandering van Graaff-Reinet na Robert Sobukwe Town tersyde te stel, met die argument dat die proses ongrondwetlik en onregmatig was en dat die dorp se historiese en kulturele betekenis nie behoorlik in ag geneem is nie, terwyl provinsiale beleid bepaal dat histories belangrike plekke slegs in uitsonderlike gevalle hernoem behoort te word.

Die Ministerie het beklemtoon dat geen kommentaar oor die meriete van AfriForum se saak gelewer sal word nie aangesien die saak sub judice is, maar het onderneem om die regsproses te respekteer en die hof se uiteindelike uitspraak te aanvaar.

Die boodskap wat tans op sosiale media die rondte doen, word deur sommige aan Samantha Graham-Maré, LP, toegeskryf.

Die Ministerie kon nie bevestig of die boodskap wel van haar afkomstig is nie, maar het beklemtoon dat geen kommunikasie aan haar of enige ander persoon uitgereik is waarin die beweerde terugtrekking van die naamsveranderings aangekondig word nie.

Graham-Maré het intussen ten sterkste ontken dat sy die betrokke bewerings gemaak het. Die nuus oor Light se jongste hofaansoek kon moontlik tot die verwarring op sosiale media bygedra het. Die aansoek is egter daarop gemik om die minister tot ’n besluit oor die besware te dwing en beteken nie dat ’n hof die naamsverandering tersyde gestel het nie.

Die Ministerie doen ’n beroep op die publiek, die media en openbare verteenwoordigers om inligting by die departement te verifieer voordat dit versprei word. Amptelike verklarings is beskikbaar op www.dsac.gov.za en die departement se amptelike sosialemediaplatforms.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article