Die jongste ekonomiese syfers bevestig ’n werklikheid wat landbougemeenskappe daagliks beleef: Suid-Afrikaanse boere is ’n hoeksteen van die land se ekonomiese stabiliteit, voedselsekerheid en ontwikkeling.
Volgens die jongste BBP-syfers van Statistiek SA het die landbou-, bosbou- en visserysektor in 2025 met 17,4% gegroei teenoor 2024, verreweg die sterkste groei in die primêre sektor van die ekonomie. Hierdie groei het ’n belangrike bydrae gelewer tot Suid-Afrika se jaarlikse BBP-groei van 1,1%, terwyl die ekonomie in die vierde kwartaal van 2025 met 0,4% gegroei het.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê hierdie syfers is meer as net statistiek. Dit is ’n duidelike bewys van die kritieke rol wat landbou in Suid-Afrika speel, en van die volgehoue toewyding van boere wat onder toenemend moeilike omstandighede voortgaan om te produseer.
Van Zyl sê die jongste ekonomiese data wys dat landbou een van die min sektore is wat steeds konsekwent waarde skep vir die land.
“Hierdie groei bevestig dat landbou nie net ’n ondersteunende sektor van die ekonomie is nie, dit is een van die sektore wat die ekonomie werklik dra,” sê Van Zyl. “Agter hierdie 17,4% groei is duisende boere wat elke dag besluite neem, risiko’s bestuur, en voortgaan om te plant en te produseer ondanks onsekerheid.”
Van Zyl sê dit is belangrik dat die land besef dat hierdie prestasie nie in ideale omstandighede plaasvind nie.
“Boere werk onder druk wat min ander sektore ervaar. Ons praat van stygende insetkoste, onbetroubare infrastruktuur, logistieke uitdagings, water- en energieprobleme, beleids-onsekerheid en die voortdurende bedreiging van plaasaanvalle en landelike misdaad,” sê hy. “Ten spyte hiervan hou boere aan om voedsel te produseer en ekonomiese groei moontlik te maak.”
Volgens TLU SA is dit juis hierdie volharding wat die ware waarde van die landboubedryf weerspieël. Terwyl ander sektore van die ekonomie in sekere gevalle gekrimp het, het landbou steeds daarin geslaag om groei te lewer.
“Wanneer landbou groei, groei ’n hele netwerk daarmee saam,” sê Van Zyl. “Dit sluit insetverskaffers, vervoerbedrywe, voedselverwerking, uitvoerlogistiek en landelike ekonomieë in. Landbou se impak strek dus baie verder as die plaashek.”
TLU SA meen dat hierdie groei ook ’n belangrike herinnering is dat landbou ’n strategiese sektor vir Suid-Afrika se toekoms is. In ’n land waar werkloosheid hoog bly en ekonomiese groei onder druk is, bied landbou werklike geleenthede vir ontwikkeling, werkskepping en stabiliteit.
“Voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit begin by die mense wat die grond bewerk,” sê Van Zyl. “As Suid-Afrika ernstig is oor groei en ontwikkeling, moet die landboubedryf nie net erken word nie, dit moet beskerm en ondersteun word.”
TLU SA beklemtoon dat beleidsekerheid, landelike veiligheid, funksionele infrastruktuur en praktiese ondersteuning vir produsente noodsaaklik is om die sektor se potensiaal verder te ontsluit.
TLU SA wil daarom hierdie geleentheid gebruik om erkenning te gee aan elke boer in Suid-Afrika, van klein familieboerderye tot groot kommersiële produsente, wat dag na dag voortgaan om voedsel te produseer en ekonomiese waarde te skep.
“Agter elke statistiek is ’n boer, ’n familie en ’n gemeenskap,” sê Van Zyl. “Dit is mense wat dikwels onder moeilike en onseker omstandighede werk, maar steeds volhard. Suid-Afrika se ekonomie en voedselsekerheid rus grootliks op hul skouers.” “Ons moet besef: sonder boere is daar nie kos, stabiliteit of groei nie,” sluit Van Zyl af. “Hierdie syfers bewys dit onteenseglik.”





