Dit is amper weer tyd vir die kykNET Buite-ekspo Limpopo wat van 24 tot 26 Julie op die welbekende Sondela-natuurreservaat en spa buite Bela Bela plaasvind.
Die ekspo beloof om soos iets vir almal te bied. Die fokus is op die talle buitelewe-uitstallers watdie nuutste produkte in die mark wat buitelewe-, kampeer- en viertrekvoertruie betref, aanbied.
Die geleentheid word in ‘n veilige plaasatmosfeer aangebied en die meeste uitstallings wys hoe dit werklik gebruik sou word.

Daar word weer verskeie aktiwiteite aangebied as deel van die ekspo. Hierdie jaar is daar weer vir die arenalien verslaafdes ‘n Maxxis 4×4 Extreme-geleentheid waar lede van die publiek ook hul eie voertuie op die dag kan inskryf.
Daar is ook helikopter-ritte deur Capital Air Helicopters waarmee besoekers die Bosveld uit die lug kan besigtig. Daar gaan hierdie jaar ‘n pannekoekbak-kompetisie (met ‘n ‘twist’) aangebied word saam met Jimmy’s Sauces en kykNET-akteurs van die sepies Diepe Waters en Binnelanders.
Hoewel die ekspo nie ‘n musiekfees is nie, is daar steeds musiek wat verskaf word danksy kunstenaars soos Pieter Smith (ook die MC vir die naweek), Ignus, Mari Bosman, Ossewa Show (met Pieter Smith, Fatman en Ignus), Chereé, Skemer, Logan Pietersen, Fatman en Byron Minnie.
Besoekers kan ook gratis saam die immergewilde ‘Mnr 4×4’ – André de Villiers van André 4×4 en aanbieder van 4×4 met Andre wat op op kykNET uitgesaai word, ry. Hierdie ervaring in verskillende voertuie is iets wat nie gemis mag word nie.
Waterberg Toyota bied ook veldren-rit-ervarings aan die publiek. Wat beter om jou hartklop bietjie op te jaag saam met die ervare manne in een van hul voertuie?
Die 1659 Wines Wyntuin en die Ketelkraal-biertuin en Kroeg bied iets nats vir die keel. Daar sal ook ‘n groot verskeidenheid kosverskaffers wees.
Daar is ook ‘n kunsmark met ‘n groot verskeidenheid gehalteprodukte.
Vir die kinders is daar Just 4 Fun-pretpark en Bee-Bee die By kom die Saterdag met een van hul treffer-vertonings.
Kaartjies vir dagbesoekers is beskikbaar op Open Tickets deur ekspo.co.za te besoek. Daar is ook kaartjies by die hekke beskikbaar. Kaartjiespryse vir dagbesoekers wissel tussen R30 vir kinders tot R120 vir volwassenes. Naweekpakette en pensioenaris-tariewe is ook beskikbaar.






You must be logged in to post a comment.