Roodepan-kliniek
HB Japhta, president van CASA, spreek inwoners van Roodepan toe tydens die opmars na die kliniek. FOTO: Helena Barnard

KYK | Inwoners ruk op na Roodepan-kliniek oor sogenaamde ‘polismafia’

Roodepan-kliniek
HB Japhta, president van CASA, spreek inwoners van Roodepan toe tydens die opmars na die kliniek. FOTO: Helena Barnard

ROODEPAN, KIMBERLEY – Beweerde en sogenaamde “polissmokkelaars” wat glo by die Roodepan-kliniek in Kimberley bedrywig is, was in geen onduidelike terme nie in die visier van inwoners tydens ‘n vreedsame opmars na dié kliniek.

Die “March against Policy Mafia” na die Dr. Winston Torres-kliniek, ook die Roodepan-kliniek genoem, het op Wêreld Pasiëntveiligheidsdag, 17 September, plaasgevind en is deur die gemeenskapsorganisasie Community Alliance South Africa (CASA) uitgeroep.

Tydens die opmars wat by die kliniek geëindig het, is ‘n memorandum aan ‘n verteenwoordiger van die Noord-Kaapse departement van gesondheid oorhandig. In die memorandum word talle besware en beweerde ongerymdhede uiteengesit betreffende pasiëntveiligheid in veral die Roodepan-kliniek – waar agt van 16 mediese amptenare glo onlangs geskors is.

HB Japhta aan die woord voor die aanvang van die opmars wat vanaf die Roodepan-polisiekantoor na die Roodepan-kliniek plaasgevind het. VIDEO: Helena Barnard

Herbert Bassil (HB) Japhta van CASA sê dié opmars op Wêreld Pasiëntveiligheidsdag het juis op dié dag plaasgevind om te beklemtoon dat pasiënte nie meer altyd veilig by klinieke is nie.

“Van die mense in die begraafplaas moes nie nou al dood gewees het nie. Maar hulle praat uit die graf uit,” het Japhta tydens die opmars aan die groeiende skare gesê.

‘Nie veilig by kliniek’

“Jy gaan vir pille, nie vir ‘n polis nie,” sê ‘n inwoner van Roodepan wie se familie ná die afsterwe van ‘n familielid ontdek het dat polisse op die oorledene se naam uitgeneem is – glo deur mediese amptenare by die kliniek wie die begunstigdes op die polisse is. Dié uitneem van die polisse is ook glo sonder die medewete van enige van die oorledene se familielede gedoen.

Inwoners spreek ook kommer uit oor medikasie van deur sommige versorgers en ander mediese amptenare aan niksvermoedende of kwesbare pasiënte uitgedeel word. Hulle beklemtoon egter dat nie almal by die Roodepan-kliniek onder verdenking is vir “lewens steel” nie.

Soos wat dié inligting versprei het, het nog inwoners na vore gekom met wie dieselfde gebeur het.
Van hulle het dit eers agtergekom toe hulle die dood wou registreer, maar ingelig is dat ‘n doodsertifikaat reeds uitgereik is en deur iemand anders aangevra is.

Inwoners vertel ook dat dié sogenaamde “polisdiewe” wie op niksvermoedende pasiënte se name polisse uitgeneem het, nou beweer dat hulle familie van dié pasiënte is.

Bewerings is dat honderde duisende rande by die beweerde ongerymdhede betrokke is en dat dit waarskynlik na ander klinieke en departemente strek.

“Jy is nie veilig by die kliniek as daar ‘n polis op jou lewe is nie,” sê ‘n inwoner.

Departement beloof optrede

Die memorandum is deur Sipho Ndelaphi van die Noord-Kaapse departement van gesondheid ontvang, wat gesê het die departement sal op die memorandum reageer, en dat die departement reeds besig is om aandag hieraan te skenk.

In die memorandum versoek CASA onder meer dat alle polisse wat deur kliniekpersoneel namens niksvermoedende pasiënte uitgeneem is, waar van toepassing, met onmiddellike effek gestaak word.

Weens beweringe dat pasiënte se mediese en ander persoonlike detail nie as vertroulik hanteer word nie, word versoek dat alle stelsels om pasiëntinligting te beskerm, onmiddellik in gebruik geneem word. Inwoners vertel dat hulle met kliniekbesoeke waarneem dat pasiëntlêers wat vertroulik is, buite die kluisruimte waarin dit veronderstel is om gestoor te word, neergesit word.

Beweringe word ook gemaak dat pasiënte met chroniese en lewensbedreigende siektes se mediese uitslae deur gesonde persone gebruik word om ongeskiktheidpensioen te eis.

LEES OOK: ‘Dit voel of jou lewe gebreek is’: Hier is ontbering elkeen se woonstelmaat

Weens bewerings dat medikasie wat vir pasiënte bestem is, vir eie gewin verkoop word, versoek CASA dat die uitgee van medikasie daagliks gemoniteer word.

Voorts versoek CASA ook dat gepaste regs- en strafregtelike stappe oorweeg word teen amptenare wat by onwettige optrede betrokke bevind is, waar daar voldoende bewyse bestaan.

In die memorandum sê CASA dat dié gemeenskapsorganisasie daartoe verbind bly om konstruktief met die betrokke owerhede saam te werk in die belang van aanspreeklikheid, deursigtigheid, behoorlike administrasie en die gemeenskappe wat deur die Roodepan-kliniek bedien word.

Aanmelding by polisie bevestig

AO Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, bevestig die polisie ondersoek ‘n bedrogsaak wat by die Roodepan-polisiekantoor aangemeld is. Die dossier is op 17 September na die provinsiale eenheid vir kommersiële misdaad vir hantering en ondersoek oorgeplaas.

“Die ondersoek duur voort. Geen inhegtenisnemings is nog uitgevoer nie,” sê Shemane.

Navraag is aan die provinsiale departement van gesondheid gerig, wat ontvangs erken het. Die terugvoering sal gedeel word sodra dit ontvang is.

Ly skade tydens gesondheidsorg

Met die opmars op Wêreld Pasiëntveiligheidsdag het CASA ook onder meer “safe care for every patient, everywhere” beklemtoon, en ook die stelling “accountability not arrogance” betreffende die optrede van sommige mediese amptenare teenoor pasiënte – ook dié by klinieke.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ly een uit tien pasiënte skade tydens die ontvang van gesondheidsorg, en ongeveer die helfte hiervan word as voorkombaar beskou.

HB Japhta. VIDEO: Facebook

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article