PAARL – Drie mans is die afgelope Sondag (18 Mei) in Paarl in hegtenis geneem nadat ’n voertuig wat glo met brandstofdiefstal verbind word, deur ‘n private sekuriteitsmaatskappy in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) opgespoor en voorgekeer is.
Volgens ‘n Facebook-plasing deur Vetus Schola in die Paarl, het die voertuig vroeër die dag ’n waarskuwingsboodskap in Paarl-Sentraal geaktiveer wat aangedui het dat die betrokke voertuig gesoek word in verband met brandstofdiefstal.
Die waarskuwingsboodskap is op ’n relevante groep gedeel, waarna die bestuurder van Navic Cloud gebasseer in Somerset-Wes, vir Vetus Schola in die Paarl in kennis gestel het en die die verdagte se ligging gedeel het.
Navic Cloud help ondermeer veiligheidsmaatskappye, buurtwagte, wetstoepassers en gemeenskappe om voertuie wat met misdaad verbind word, op te spoor en te identifiseer.
Lede van Vetus Schola hettoe onmiddellik na die voertuig se laaste bekende ligging beweeg. Intussen het die Paarl-polisie se honde-eenheid asook die SAPD se blitspatrollie in die Wynland ook ondersteuning gebied.
Omstreeks 15:48 is die voertuig deur die blitspatrollie en Vetus Schola se gewapende reaksielede voorgekeer waar drie manlike insittendes is in die voertuig aangetref is.
Lede van die Paarl-polisie het met die ondersoekbeampte van Swellendam gekommunikeer waar die beweerde brandstofdiefstal plaasgevind het, waarna al drie verdagtes in hegtenis geneem is.
Die voertuig en verdagtes is daarna na die Paarl-polisiekantoor geneem vir verdere verwerking en ondersoek.
LEES OOK: Alleged fuel theft syndicate suspect arrested in Witbank
Die publiek word aangemoedig om waaksaam te bly en verdagte aktiwiteite aan te meld.






