Maak gereed vir Kunstekaap se uitklopgalakonsert op 8 November om 17:00 ter viering van 55 jaar se wonder in die kunste ’n spoggeleentheid wat op luisterryke wyse hulde bring aan die teatersentrum se indrukwekkende reis van uitsluiting na voorgesette insluiting.
Die Kunstekaap se 55-galakonsert weerspieël ’n merkwaardige reis van Suid-Afrika se eie oorgang van uitsluiting tot demokrasie, diversiteit en insluiting.
Die reis
“Kunstekaap het ná 55 jaar tot ’n tuiste vir die volle spektrum van Suid-Afrikaanse kuns, kultuur en genres ontwikkel . Dit is alles deur ons gedeelde geskiedenis van stryd en veerkragtigheid gevorm ,” sê Kunstekaap se uitvoerende hoof, Marlene Le Roux.
Sy voeg by: “Die uitvoerende kunste besit ’n treffende krag – dit bring ons bymekaar. ’n Lied vra nie waar jy gebore is nie; ’n Danser se beweging vereis geen vertaling nie; In ’n teater sit vreemdelinge langs mekaar, haal saam asem, lag saam en word saam stil.
“Vir ’n paar uur verdwyn die afstand tussen ons. Dis hoe samehorigheid gebou word – nie deur ’n verordening nie, maar deur gedeelde ervarings, een opvoering en een gehoor op ’n keer. Dit is die reis van die Nico Malan na Artscape (Kunstekaap), en dit behoort aan ons almal.”
Van Suid-Afrika se mees gevierde kunstenaars en opkomende artistieke stemme sal in ’n buitengewone tapisserie van sang, dans, jazz en poësie saamkom.
Die program, met Sandra Prinsloo, Denise Newman en Thoko Ntshingaa as aanbieders, vereer legendariese kunstenaars met diep Kunstekaap-bande, insluitend Coenie de Villiers, Dizu Plaatjies, Amanda Strydom, Thembi Mtshali-Jones, Vicky Sampson, Ian Smith en Koos Kombuis, saam met topuitvoerings deur Kunstekaap se geassosieerde kunsgeselskappe.
Gunstelinge op die program sluit in Jodi Jantjies, Mandisi Dyantyis, Loukmaan en Emo Adams, Alistair Izobell, Jody Abrahams, Robin Pieters, Nuur Leeman en digter Siphokazi Jonas, wat die kollig gaan deel met divas soos Lynelle Kenned, Zanne De Lange, Fancy Galada en Karin Kortje.
Gedeelde viering
“A Place for All bring legendes en opkomende stemme, kore en orkeste, jazz, dans en poësie byeen in een viering van die diversiteit wat hierdie instelling kenmerk. Dit is ’n gepaste beeld van wat ’n nasionale kultuurbate kan wees wanneer dit oop en betroubaar is én goed versorg word,” sê Zak Gordon, die voorsitter van die Kunstekaap-raad.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, voeg by: “Ek wens almal geluk wat gehelp het om van Artscape ’n hoeksteen van ons provinsie se kulturele lewe te maak. Mag die volgende 55 jaar nog groter kreatiwiteit, inklusiwiteit en uitnemendheid inspireer.”
Gayton McKenzie, die minister van die departement van sport, kuns en kultuur, sê: “Van Kaapse jazz tot die riel en van ons kore tot woordkuns, bring hierdie gala die vele stemme byeen wat ons kulturele lewe so ryk maak. Ek wens die raad, die personeel en elke kunstenaar, wat van hierdie huis ’n tuiste vir almal gemaak het, geluk .”
Besoek www.artscape.co.za vir nog inligting.
LEES OOK: Dinamiese produksie by Baxter gee nuwe lewe aan Vivaldi se ‘Vier seisoene’





