Oos-Kaapse Jeugkoor sing sy pad na wêreldverhoog by Summa Cum Laude-fees

Die Oos-Kaapse Jeugkoor.
Die Oos-Kaapse Jeugkoor. Foto: Verskaf

Oos-Kaapse Jeugkoor sing sy pad na wêreldverhoog by Summa Cum Laude-fees


OOS-KAAP – Die Oos-Kaapse Jeugkoor is gereed vir ’n besondere internasionale uitdaging tydens die Summa Cum Laude (SCL) on Tour-fees by Sun City.

SCL on Tour is ’n nuwe hoofstuk vir ’n fees wat in Wene, Oostenryk, ontstaan het. Die Choral Celebration Network Foundation beskryf dit só: “Where music met Vienna, now it meets the world — SCL on Tour brings the sound of youth to new horizons.”

Die fees bring die Summa Cum Laude-ervaring na nuwe bestemmings; Suid-Afrika is die eerste bestemming in 2026, met Shanghai, China, as volgende bestemming in 2027.

Die fees nooi ook kinderkore, jeugkore, musiekgroepe, orkeste, koper- en houtblasorkeste en ensembles om deel te neem aan die kompetisie of aan die nie-mededingende vieringe.

Gustel Agenbag
Die Oos-Kaapse Jeugkoor staan onder leiding van Gustel Agenbag. Foto: Verskaf

Die Oos-Kaapse Jeugkoor sal Vrydag, 7 Augustus uit Gqeberha vertrek om aan die kompetisie-gedeelte deel te neem.

Die koor bestaan uit 67 lede van 16 verskillende skole en tuisskole in die Nelson Mandelabaai Metro en staan onder leiding van Gustel Agenbag, tans hoof van die musiekdepartement by Collegiate Girls’ High School in Gqeberha.

Hul nuwe lede is voor die internasionale avontuur tydens die Bon Voyage-konsert op Sondag, 2 Augustus by Collegiate bekendgestel.

Die koor se repertorium vir die fees is doelbewus saamgestel om plaaslike identiteit met die fees se internasionale kompetisievereistes te verbind. Hul program sluit in Dansgebed deur Peter Louis van Dijk, ’n tradisionele werk eie aan hul kultuur, en die Latynse voorgeskrewe werk Locus Iste deur Anton Bruckner, wat vir gemengde hoërskoolkore by SCL on Tour 2026 bevestig is.

Tydens hul verblyf sien hulle onder meer uit na die drie-uur-wildrit in die Pilanesberg Nasionale Park en die “Drumming Circle” by Sun City se Antieke Amfiteater wat deel van die feesprogram is.

Die koor sal Vrydagoggend na die O.R. Tambo-lughawe vlieg en van daar af per bus na Sun City reis om aan die kompetisieprogram deel te neem.

Vir meer inligting oor die Summa Cum Laude (SCL) on Tour-fees, besoek die Choral Celebration Network Facebook-blad of www.sclontour.org/scl-on-tour-2026.

Oos-Kaapse Jeugkoor
Die Oos-Kaapse Jeugkoor maak gereed vir ’n besondere internasionale uitdaging by die Summa Cum Laude on Tour-fees. Foto: Verskaf

LEES OOK: Skole in noordelike voorstede is voor in die koor in ATKV-Applous-koorkompetisie

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article