Die fiasko met vanjaar se nasionale atletiekkampioenskapsbyeenkoms vir skole bevestig opnuut waarom die skoolbeheerliggaamorganisasie Fedsas reeds jare al versoek dat skolesport ’n funksie van die departement van basiese onderwys moet wees.
Die atletiekbyeenkoms, wat vandag (8 April) sou begin, is op die nippertjie uitgestel tot 29 April 2026. Dit is verskuif na die Pilditch-stadion in Pretoria omdat die Royal Bafokeng-stadion in Rustenburg nie meer beskikbaar is nie. Die byeenkoms word gesamentlik gereël deur die departement van basiese onderwys, die departement van sport, kuns en kultuur en Suid-Afrikaanse Skole-atletiek (Sasa).

“Dit is nou tyd vir aanspreeklikheid. Atlete word direk benadeel en ouers ly beduidende finansiële verliese weens onbeholpe amptenare se gebrek om basiese beplanning uit te voer. Koppe moet rol,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.
Deacon sê vanjaar se chaos is selfs erger as verlede jaar, toe daar nie voldoende akkommodasie en maaltye beskikbaar was vir die nasionale byeenkoms in Bloemfontein nie.
“Ten spyte van versoeke om optrede en ontvangs van verslae het net mooi niks verander nie. Hier is ons nou ’n jaar later en weer is ons top-skoolatlete uitgelewer aan onbevoegde staatsamptenare. Atlete het die hele seisoen hard gewerk om spesifiek vandeesweek piekprestasie te behaal. Ouers het aansienlike uitgawes aangegaan en verlof geneem om hul kinders te ondersteun. Provinsies het kostes aangegaan en honderde opvoeders moes reëlings tref om tydens skooldae afwesig te wees om as beamptes diens te doen.”
“Ons doen ’n dringende beroep op die betrokke ministers om onmiddellik in te gryp en toe te sien dat die reëlings van die byeenkoms nou op hoë vlak behartig word. Ons eis ook ’n deursigtige ondersoekproses en duidelike terugvoer oor tugstappe. Daarmee saam soek Fedsas ook ’n nasionale openbare verskoning aan leerders en ouers, asook ’n meganisme om ouers en provinsies vir hul verliese te vergoed.”
LEES OOK: New date and venue but national school athletics will continue.
Volgens Deacon toon die departement van sport, kuns en kultuur telkens dat daar nie voldoende begrip is van die skoolomgewing, skoolkalender en die dinamika tussen skoolbyeenkomste nie. “Die samewerking tussen die departemente is gebrekkig en die spanning tussen Sasa en Atletiek Suid-Afrika dra nie juis by tot stabiliteit nie.”
Deacon sê indien skolesport ’n funksie van die departement van basiese onderwys is, sal dit ook ’n beter belyning met die skoolkalender meebring. “Skolesport moet aktief bevorder en befonds word. Nie net is dit bepalend vir die loopbane van ons sportlui van die toekoms nie, maar dit speel ook ’n belangrike samebindende rol in skoolgemeenskappe en die breër samelewing.”






You must be logged in to post a comment.