Noordkaap Bulletin

Konsepregulasies verbied uitsluiting van swanger leerders, fokus op voortgesette onderwys

Onderwys
Konsepregulasies vir die hantering van swanger leerders is uitgereik. FOTO: Unsplash / Clarissa Watson

Konsepregulasies vir die hantering van swangerskappe onder leerders is daarop gemik om die uitsluiting van swanger leerders te voorkom, skorsing te verbied en voortgesette onderwys te verseker.

Tydens die bekendstelling van dié konsepregulasies het die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, gesê voortgesette onderwys van dié leerders moet deur middel van aangepaste akademiese, fisiese en psigososiale ondersteuning gedoen word.

Volgens die konsepbeleid moet skole die swangerskappe van leerders onder 16 jaar by die departement van maatskaplike ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanmeld.

Indien die betrokke manspersoon ‘n personeellid is, moet dit by die polisie, departement van maatskaplike ontwikkeling en die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders (SARO) aangemeld word.

LEES OOK: Kommer heers oor styging in tienerswangerskappe

Indien ‘n mediese verslag eksamenbywoning vir swanger leerders, vanaf graad 4 tot graad 11, verhoed, sal die uitslae deur bestaande assesserings bereken word. In geval van swangerskappe by graad 12-leerders, word skoolhoofde verbied om dié leerders vir die Nasionale Senior Sertifikaat te deregistreer.

Ná die geboorte van die baba is skole verantwoordelik vir die ondersteuning van die leerder se terugkeer skool toe.

‘Verkragting ‘n werklikheid by tienerswangerskappe’

Priscilla Isaacs, DA LPW en Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder van onderwys, sê die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap moedig skoolgemeenskappe aan om kommentaar te op dié konsepregulasies te lewer.

“Die Noord-Kaapse tienerswangerskapkoers van 17,2% is heelwat hoër as die nasionale koers van 14,1%. Die werklikheid is dat baie tienerswangerskappe ontstaan weens verkragting sowel as drank- en dwelmmisbruik wat onverskillige optrede aanwakker.

In slegs drie maande – Oktober tot Desember verlede jaar – het 38 kinders van 14 jaar en jonger in die Noord-Kaap geboorte geskenk.

“Hierdie syfers, wat nie miskrame of aborsies insluit nie, bevestig dat die euwel van statutêre verkragting met elke moontlike meganisme beveg moet word,” sê Isaacs.

Die party verwelkom die verpligting op skole om swangerskappe onder leerders jonger as 16 jaar by toepaslike owerhede aan te meld.

Isaacs sê verkragtings stroop reeds jong meisies van hul onskuld en pad na selfbeskikking, en hulle moenie nog boonop van toegang tot onderwys ontneem word nie.

  • Die konsepregulasies is op 25 Maart in die Staatskoerant gepubliseer. Openbare kommentaar kan teen 24 April aan Adv. Zukile Ntshwanti by LearnerPregnancyRegz@dbe.gov.za gestuur word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article