Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) verwelkom die nuwe fokus op praktiese realisme wat tydens die jaarlikse Departement van Basiese Onderwys (DBO) Lekgotla na vore gekom het. Die verskuiwing vanaf hoëvlak-tegnologiese “pypdrome” na die versterking van fundamentele vaardighede soos geletterdheid en syfervaardigheid is ’n deurslaggewende stap in die rigting van ’n stabiele onderwysstelsel.
So sê Paul Sauer, die uitvoerende hoof van dié onderwysunie in ‘n nuusverklaring.
Die SAOU beklemtoon egter dat beleid sonder aanspreeklikheid en menslike ondersteuning nie die deurdringende krisisse in ons skole sal oplos nie.
“Ons is diep teleurgesteld oor die gebrek aan daadwerklike fokus op die 14 leerders wat onlangs tragies in ‘n skoolvervoer-ongeluk oorlede is. ’n Paar minute se stilte is nie genoeg nie. Dit is ’n nasionale ramp wat dringende wetgewing en strenger optrede teen onverantwoordelike vervoerders vereis, ” sê Sauer.
Hierdie is ook nie ‘n geïsoleerde voorval nie. “Ons ouers verdien die gemoedsrus dat hulle kinders veilig by die skool sal aankom.”
Sauer sê daar is groot kommer oor die “Stille Revolusie” en die belangrikheid van ambagte.
Die feit dat 66% van Bachelor-toelatings in 2025 uit geen-fooi-skole kom, is ’n bewys dat talent
nie deur inkomste bepaal word nie, sê hy. Die SAOU waarsku egter teen “akademiese snobisme”.
“Terwyl universiteitstoegang belangrik is, het Suid-Afrika ’n kritieke tekort aan ‘n vaardige,
ambags georiënteerde professionele werksmag.”
“Ons doen ’n beroep op die DBO om die “Drie-Stroom Model” te prioritiseer om die byna 500 000 leerders wat jaarliks uit die onderwysstelsel val – die sogenaamde “leaky pipeline” – toe te rus met praktiese vaardighede wat betekenisvolle ekonomiese deelname verseker.”
Verder sê Sauer die uitbreiding van moedertaalonderrig na 12 000 skole en die klem op spelgebaseerde leer in die Vroeë Kinderontwikkelingsfase (VKO) word heelhartig ondersteun. Navorsing wys dat geletterdheid die poort na alle ander leer is – insluitend kodering en robotika.
Sauer wys uit ‘n kritieke leemte in die Lekgotla se agenda is die psigososiale welstand van beide leerders en opvoeders.
“Ons wil meer beraders en maatskaplike werkers in skole sien. ’n Skool kan slegs so sterk wees soos die gesondheid van sy mense.”





