KIMBERLEY – Geen openbare deelname-proses is gevolg voordat stootskrapers grond omgedolwe het vir die nuwe woonbuurt oorkant Roodepan en langs die oorvol besoedelde Kamfersdam-pan nie. Só het Thapelo Matlala, stadsbestuurder van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley, Woensdag 22 Julie in die hooggeregshof in die stad getuig.
Voorts moes hy ook erken dat die munisipaliteit die uiteindelike magtiging oor die ontwikkeling het, wat goedgekeur is ondanks die feit dat die Homevale-rioolsuiweringsaanleg jare lank al wanfunksioneel is.
Hy is as verweerder en rekenpligtige amptenaar gedagvaar om te getuig in die siviele eis van Brenda Booth van Northern Cape Ranchers (NCR) en ‘n benadeelde grondeienaar waar Kamfersdam geleë is.
Die saak is reeds twee jaar gelede aanhangig gemaak omdat massas ongesuiwerde water uit die wanfunksionele aanleg in Kamfersdam en op Booth se grond stroom en haar grond verswelg. Haar huis kan binne ‘n jaar ook onder water wees, vrees sy.
Hofbevele verontagsaam
Ondanks hofbevele waarin die munisipaliteit ‘n plan in werking moes stel om die volume water wat hy in Kamfersdam vrylaat, te beperk en die aanleg op te knap, is dit nie gedoen nie.
Ingevolge die hofbevel wat Booth op 22 Maart 2024 bekom het, moes die munisipaliteit binne 60 dae ‘n tegniese verslag by die hof indien. Hierin moes die munisipale bestuurder verduidelik wat die stappe is om binne 120 dae die e.Coli-vlakke binne aanvaarbaar vlakke te verlaag, en om nie meer as 30 megaliter per dag, behalwe water los te laat, en geen rou riool in Kamfersdam pomp nie. Booth sou ook insae in die verslag hê en kommentaar lewer. Sou almal daarmee tevrede wees, sou dit ‘n hofbevel word of bygewerk word.

LEES OOK: Riool-ramp by Kamfersdam dwing Transnet tot reddingsplan van miljoene rande
Die vereiste tegniese verslae is of nie ingedien nie, of was van swak gehalte met geen doelwitte en sperdatums nie.
Booth wil die munisipaliteit aan minagting van die hof skuldig bevind, en het daarom die stadsbestuurder gedagvaar om te getuig hoekom die munisipaliteit nie aan die hofbevele gehoor gee nie.
Sy voer aan die water verswelg die weiding, bedreig plante en diere en besoedel die grond in so ʼn mate dat die waarde daarvan gedurig verminder. Die stad se bekende flaminke wat eens daar gebroei en oorleef het, het lankal verdwyn.
Amptenare het ‘n statutêre plig om die omgewing en waterbronne te beskerm.
Die N12-roete word ook bedreig en Transnet was vroeër vanjaar genoodsaak om die mangaanvragspoorlyn teen miljoene rande op plekke met tot vyf meter te lig nadat dit in onbruik geraak het omdat dit onder rioolwater was.
Geld is skraps
Matlala se verweer was dat hy van September verlede jaar tot Maart vanjaar nie op kantoor was nie weens sy skorsing. Die munisipaliteit het nie geld om die probleem spoedig op te los nie.
Een van die tydelike maatreëls wat ingestel kan word is om ‘n wanfunksionele pyplyn van drie kilometer lank, wat na Langleypan strek, te herstel om sodoende water weg van Kamfersdam te lei. Die munisipaliteit sukkel egter om die R10 miljoen hiervoor opsy te sit.
“Ons het reeds begin om maandeliks geld uit ons inkomste opsy te sit, spesiaal vir dié doel. Ons het darem bemande kamera- en ander sekuriteitsmaatreëls by die Homevale-aanleg in werking wat voorvalle van diefstal en vandalisme drasties verminder het.”
LEES OOK: Adjunkminister braak gal oor Sol Plaatje-munisipaliteit se ‘afjak’
Matala reken ook die munisipaliteit sal binne drie maande ʼn positiewe antwoord van die departement van waterwese en sanitasie, asook die Nasionale Tesourie kry oor ‘n aansoek om R3 miljard van die Begrotingstoelae van Infrastruktuur. Die munisipaliteit het reeds voorlopige toestemming verkry.
Matlala het agt maande “dag en nag” aan die voorlegging gewerk om al die munisipale aanlegte, nie net Homevale nie, te vernuwe.
Volgens hom werk die 15 megaliter gedeelte van die Homevale-aanleg, en word ʼn gedeelte van afvalwater daarom gesuiwer.
Gebrek aan daadwerklike stappe
Adv. Danie Olivier, namens Booth, het Matlala in kruisondervraging genoop om te erken hoewel hy geskors was, daar ‘n waarnemende munisipale bestuurder was om sy take te verrig. Die munisipaliteit as entiteit moet sy pligte jeens inwoners nakom. Boonop moet die munisipaliteit ‘n begroting hê om krisisse soos dié op te los. Booth se frustrasie spruit uit die gebrek van daadwerklike tegniese planne, stappe en spertye.
“Nou word nuwe ‘n ontwikkeling van bekostigbare huise langs Kamfersdam gebou waar mense toilette gaan spoel, maar die rioolaanleg is wanfunksioneel. Al is die departement van menslike nedersetting en omgewingsake betrokke, rus die uiteindelike verantwoordelikheid by die munisipaliteit.”
Matlala het geantwoord die raad het die grondskenking en die ontwikkeling daarop goedgekeur sonder om die kwessie van sanitasie te oorweeg weens druk oor die provinsiale behuisingstekort.
“Ek het al by die betrokke direkteur-generaals van die departemente vir hulp gaan vra.”
Regter Almé Stanton het Matlala ook met vrae gepeper oor die grootte van die munisipale begroting vir sanitasie, wat volgens hom onder ‘n R100 miljoen is.
Volgens Matlala kan ‘n pyplyn na Langley die probleem effens verlig, want ideaal gesproke moet die aanleg in volle werking wees. Hy het die regter verseker ‘n bod is reeds geadverteer om die pyplyn op te knap.
‘Munisipaliteit verantwoordelik’
Wanneer die munisipaliteit grond skenk, word die proses deur die komitee vir ruimtelike beplanning, omgewing en grondgebruikbestuur (Spelum)-komitee gelei en aan die raad vir goedkeuring voorgelê. Daarom word geen openbare deelname prosesse gevolg nie.
Volgens hom is ‘n omgewingsimpakstudie gedoen voor die projek goedgekeur is.
Regter Stanton het hom verwys na die Grondwet, die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur wat tersaaklik is vir behuisingsontwikkelings.
“Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die omgewingsimpak op die omgewing. Die plaaslike koerante berig daagliks oor die rioolkrisisse in die stad,” het sy gesê.
“Ek neem kennis,” het hy geantwoord.
Hy het onderneem om die provinsiale uitvoerende raad te nader oor berigte dat hulle die rioolprobleem as ‘n “ramp” beskou, sodat die provinsie moontlik geld kan gee om die probleme te begin oplos.
LEES OOK: Kamfersdam: Kby se ‘flaminkparadys’ bevat hoë vlakke E.coli




You must be logged in to post a comment.