Die verdwyning van Joshlin Smith met haar kenmerkende blou-groen oë het Suid-Afrika se hart en siel aangegryp. Hierdie kind het vanuit ‘n klein sinkhuisie in Saldanha aan die Weskus spoorloos verdwyn en ‘n jaar later heers steeds meer vrae as antwoorde.
Noudat die drie beskuldigdes verlede week in die Kaapse hooggeregshof aan mensehandel en ontvoering skuldig bevind is, wil almal steeds weet – waar is Joshlin?
Oor die afgelope twee maande het ‘n verhaal wat meer hartverskeurend is as wat enigiemand hom of haar sou kon voorstel, in die hof ontvou. Onder meer het Joshlin se ma, Kelly, en haar ma se kêrel tereggestaan op aanklagte oor haar verdwyning.
Ooggetuies het Kelly glo gesien waar sy haar dogter in ‘n motor gelaai het – met ‘n vreemde vrou agter die stuur.
Getuienis dui daarop dat Kelly meer besorg was oor haar verhouding as haar kinders se welstand en op die dag van Joshlin se verdwyning was sy boonop onder die invloed van dwelms.
Armoede en werkloosheid die norm
Die tragedie van Joshlin se storie lê egter nie net in haar verdwyning nie, maar in die omstandighede wat daartoe gelei het. Dit is ‘n verhaal wat daagliks in duisende huishoudings, waar armoede en werkloosheid die norm is, herhaal word.
Die klein sinkhuisie waarin Joshlin en haar sibbe gewoon het, vertel sy eie verhaal van verwaarlosing en gebrek. Dit is ‘n ruimte wat nooit bedoel is vir kinders om in groot te word nie – ‘n plek waar warmte, geborgenheid en stabiliteit net woorde sonder betekenis is.
Wanneer ons kyk na gevalle soos dié van Joshlin, is dit maklik om die vinger te wys en veroordeling uit te spreek. Tog dwing dit ons om dieper te kyk na die stelselprobleme in ons samelewing.
Wat dryf ‘n ma om haar kind aan ander oor te gee? Watter omstandighede lei daartoe dat dwelms ‘n uitweg uit ‘n harde werklikheid bied? Hoekom is daardie maatskaplike toelaag, hoe skraal ook al, soms die enigste bron van inkomste vir ‘n gesin?
Die hartseer werklikheid is dat duisende Joshlins oral bestaan – kinders wat gebore word in omstandighede waar hul basiese behoeftes – voedsel, klere, liefde, ondersteuning – daagliks in gedrang kom; kinders wie se toegang tot geleenthede beperk is deur die blote toeval van waar en aan wie hulle gebore is.
Wetteloosheid
Die gedagte dat Joshlin dalk verkoop is aan ‘n gesin wat haar ‘n beter lewe kan bied, is inderdaad kompleks. Dis ‘n gedagte wat ontstaan uit ‘n plek van desperaatheid – ‘n wens dat hierdie kind êrens daar buite ‘n warm bed het, drie maaltye per dag geniet en omring is deur mense wat haar lief het en ondersteun. Maar dit ignoreer die trauma van ontvoering en die wetteloosheid wat dit verteenwoordig.
Die werklike vraag wat ons as samelewing moet vra is: Hoekom laat ons toe dat kinders in sulke omstandighede grootword? Hoekom bestaan geen voldoende stelsels om gesinne te ondersteun voordat hulle by sulke kritieke punte kom nie? Elke kind verdien liefde, veiligheid en geleenthede – ongeag die ekonomiese status van sy/haar gesin of familie. Elke kind verdien ‘n samelewing wat omgee en wat nie net reageer wanneer tragedies soos dié van Joshlin gebeur nie, maar proaktief werk om die omstandighede te voorkom wat daartoe lei.
Die werklikheid van ‘n geslag wat “bakhand staan”, is nie die gevolg van
inherente luiheid of ‘n gebrek aan ambisie nie – dit is die produk van ‘n siklus van armoede, waar toegang tot behoorlike onderwys, gesondheidsorg en werksgeleenthede beperk is. Dit is die gevolg van ‘n verlede wat steeds sy skaduwee oor die toekoms werp.
Terwyl ons wag om te hoor waar Joshlin Smith is en wat met haar gebeur het, moet ons ook besef dat haar storie ‘n spieëlbeeld van ‘n groter probleem is. Dit vra van ons om verder te kyk as die hofverskynings en koerant- opskrifte. Dit vra ware empatie – nie net vir Joshlin nie, maar vir die duisende kinders wat in soortgelyke omstandighede vasgevang is. Dit vra vir ‘n samelewing wat bereid is om na die ongemaklike waarheid te kyk en verantwoordelikheid vir al ons kinders te neem.
As Joshlin Smith se verdwyning ons enigiets leer, is dit dat ons nie kan bekostig om weg te kyk van die werklikheid van armoede en die uitwerking daarvan op gesinne en families nie. Die werklike tragedie sou wees as ons toelaat dat nog ‘n geslag kinders soos Joshlin grootword sonder die ondersteuning, hulpbronne en geleenthede wat hulle inderdaad ook verdien.