Tereska Kabuika, ‘n jong en talentvolle o.20-vrouerugbyspeler van Atlantis, het Vrydag (15 Mei) na haar tuisdorp teruggekeer en ‘n rugbykliniek vir meisies o.12 en o.14 saam met sportadministrateurs by Grosvenor Primêr se sportterrein aangebied.
Kabuika, wat onlangs haar buiging in die Sanlam-Boland-vrouespan gemaak het, het reeds die koppe laat draai met haar verbysterende spoed op die rugbyveld. In die onlangse PnP Vroue-superliga 1-kompetisie het sy ses drieë gedruk, wat haar een van die uitstaande vrouespelers gemaak het.
Haar teenwoordigheid het jong spelers gewis gemotiveer en inspireer. Volgens die koördineerder en rugbyafrigter Lyle Maart het die idee ontstaan toe hy tydens ‘n o.20-vrouerugbywedstryd opgemerk het dat ‘n paar van die meisies sukkel om die bal te versprei.
Hy het besluit om ‘n kliniek vir jonger meisies aan te bied, wat nie net hul vaardighede sal slyp nie, maar ook entoesiasme vir die spel sal aanwakker.
Van die meer as 50 spelers wat opgedaag het, het omtrent 60% vir die eerste keer met rugby kennisgemaak. Die sessie het op die basiese beginsels gefokus, aangesien meer as die helfte van die spelers vir die eerste keer rugby gespeel het. “Die belangstelling was groot en ek hoop dat die blootstelling rugby onder jong meisies verder sal ontwikkel,” het Maart gesê.
Kabuika se pad na sukses is merkwaardig. Sy het WP-kleure in atletiek en netbal verwerf voordat sy twee jaar gelede by die Mamre-vroue-rugbyklub aangesluit het. Sy is in 2025 in die Sanlam-Boland-o.20-span, wat aan die SA kampioenskap in Johannesburg deelgeneem het, ingesluit.
Daarna is sy vir die Boland-vrouespan gekies. Sy is onlangs na die Junior Springbokvroue-o.20-oefenkamp in Stellenbosch genooi, waar sy die keurders beïndruk het.
Die moontlikheid dat sy in Julie teen die VSA en Nederland se o.20-spanne kan uitdraf, lyk belowend.
Omdat sy reeds deel is van die senior rugbystruktuur, was die oorskakeling na die o.20-vlak heel natuurlik.
“Harde werk en inspirasie van internasionale spelers motiveer my om verder te presteer,” het sy gesê. Haar boodskap aan jong meisies is eenvoudig: “Wees gedissiplineerd en gee alles, sodat julle ook eendag rugby op ‘n hoë vlak kan speel.”
Brooke Arendse (13) van die Hoërskool Saxonsea sê die kliniek was die moeite werd omdat dit haar balvaardighede verbeter het. Chloë Meyer, ‘n ringbalspeler van die Hoërskool Proteus, hou van rugby se groter speeloppervlakte, wat die speelveld gelyk maak en wedywering verder aanmoedig.
Maart en sy afrigtingspan – David Tippens, Eon Page, Sherwan Daniels, Sharon Lombard en Kwela Wawa – hoop junior en senior vrouerugbyspanne sal binnekort in Atlantis op die been gebring word – nie net in skoleligas nie, maar ook op klubvlak.
Hy het Grosvenor Primêr, die raadslid Allister Lighburn en die Atlantis-rugbyklub vir hul ondersteuning bedank, asook die skenkers wat verversings voorsien het.
“Ons hoop dit is die begin van groot dinge en ons gaan binnekort weer ‘n tweede kliniek aanbied,” het Maart gesê.




