STELLENBOSCH – Die polisie in Klapmuts ondersoek ‘n saak van strafbare manslag ná ’n noodlottige motorongeluk op die R44 waarin twee volwassenes gesterf het.
Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 22:30 Saterdag 8 November plaasgevind.
Twigg het gesê die ongeluk het op die N1 naby Klapmuts plaasgevind, maar volgens Paarl Post se inligting het dit op die R44 naby die N1-afrit gebeur.
“Volgens berigte was twee voertuie by die ongeluk betrokke. Albei bestuurders is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar. Die omstandighede rakende die voorval word tans ondersoek,” sê Twigg.
Paarl Post kon vasstel dat een van die oorledenes Lyntin Carstens van Stellenbosch is.

Medelye met sy afsterwe het onder meer op Facebook ingestroom.
Dié ongeluk volg kort op die motorongeluk op dieselfde pad waarin ‘n bejaarde egpaar van Klapmuts, Thomas en Anne-Marié Rossouw, op 25 Oktober oorlede is. Die ongeluk waarin hulle oorlede is, het naby die afdraai na die Arra-wynplaas plaasgevind.
LEES OOK: Bejaarde egpaar van Klapmuts sterf saam in ongeluk op R44
- Enigiemand met inligting oor Saterdagaand se ongeluk word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel of die MySAPS app anoniem te gebruik.






