Die hofsaal by die Paarl-streekhof, waar die vermeende moordenaar van die 22-jarige Jade Williams Maandag (3 November) verskyn het, was gepak met geliefdes wat geregtigheid vir dié jong pa van Wellington eis.
Die saak is Maandag tot 22 Januarie aanstaande jaar uitgestel toe die moordbeskuldigde, Edrique Langeveld, se prokureur nie by die hof opgedaag het nie.
Langeveld, wat tans uit is op borgtog, word daarvan beskuldig dat hy Williams op 16 Augustus in Wellington vermoor het.
LEES OOK: Jong Wellingtonse pa (22) vermoor 5 dae ná sy seuntjie se 1ste verjaarsdag
Williams en Langeveld het, soos wat beweer word, daardie aand in ‘n gestryery betrokke geraak, wat toe in ‘n bakleiery ontaard het.
Die familie het aan Paarl Post vertel dat Langeveld Williams glo in die gesig, hand en bors gesteek het.
Langeveld het blykbaar van die toneel af gevlug, maar is later deur die polisie aangekeer en op ‘n klagte van moord in hegtenis geneem.
Hy is toe op 19 Augustus deur die Wellington-landdroshof op R1 000-borgtog vrygelaat.

Die saak is op 10 Oktober na die Paarl-streekhof verwys, wat ernstiger misdrywe aanhoor en waar Langeveld Maandag die eerste keer verskyn het.
Williams en Langeveld was volgens die familie jare lank vriende en dus het die familie gesukkel om oor die gebeure tot verhaal te kom.
Brenten Cupido, Williams se pa, het Maandag buite die Paarl-streekhof gesê dit is vir hom moeilik om in Langeveld se teenwoordigheid te wees.
“Ons is seergemaak. Heeltemal seer – veral oor die feit dat hy op R1 000-borgtog vrygelaat is.
“Ek het eintlik verwag dat die landdros by hierdie hof [Paarl-streekhof] sy borgtog sou terugtrek.
“Dis nog vroeg in die saak, maar ons voel dat die regstelsel ons al van dag een af faal,” het Cupido Maandag aan Paarl Post gesê.

Volgens hom is die familie nie meer dieselfde nadat Williams so tragies van hulle ontneem is nie.
“Sy eenjarige seuntjie [Izayro Fortuin] is heeltemal anders nadat sy pa weg is. Hy bly hartseer; hy wil nie eet nie en sukkel om te slaap.
“Daar was siekte en sterfte in die familie. My vrou is nou nog in die hospitaal. Dit is alles die impak wat hierdie gebeure op ons familie het.”
Klein Izayro en sy pa deel dieselfde verjaarsdag op 11 Augustus.
Williams is dus vyf dae nadat hy sy eie 22ste verjaarsdag en Izayro se eerste verjaarsdag gevier het, vermoor.
Die landdros het Langeveld Maandag daaraan herinner dat die voorgeskrewe minimumvonnis in die geval van eerste oortreders 15 jaar tronkstraf is.




You must be logged in to post a comment.