Hoe sou ‘n mens kon raai dat jy eendag weer na inkleurpotlode en -boeke sou gryp? Dít nadat jy van HB-potlood na Bic-pen na Olivetti-tikmasjien na MS DOS-rekenaar na Microsoft- of Apple-platskerms, waarmee wonderwerke bykans verrig word, gevorder het.
Die inkleur van prentjies is vanaf kindsbeen ‘n bekende aktiwiteit. Terwyl ‘n mens met groot konsentrasie probeer het om binne die lyntjies te bly, het dié eenvoudige aktiwiteit fyn motoriese vaardighede en hand-oog-koördinasie verbeter, en kreatiwiteit aangewakker. Boonop het dit fokus en geduld verbeter.
Inkleurboeke vir ‘grootmense’ word ‘n stokperdjie
In die 1960’s het inkleurboeke vir volwassenes ‘n vlugtige oplewing beleef met die skep van satiriese en inkleurbare strokiesprente met hoofsaaklik politiek as agtergrond.
Inkleurboeke vir volwassenes (geen “PG”-klassifikasies en ouerleiding hier betrokke nie!) het oor die wêreld heen rondom 2015 gewild geraak. In 2014 is ongeveer 1 miljoen inkleurboeke vir volwassenes verkoop, en in 2015 het die verkope na meer as 12 miljoen opgeskiet. Dit het daartoe gelei dat van die mees bekende vervaardigers van inkleurpotlode uitdagings ondervind het om voor te bly in die produksie daarvan.

Die gewildheid daarvan is vermoedelik aangehelp deur die sukses van ingewikkelde, terapie-georiënteerde boeke soos Johanna Basford se Secret Garden. Hierdie soort boeke het – ook te danke aan sosialemedia-neigings – die behoefte na lae-tegnologiese en stresverligtende aktiwiteite aangewakker. Nostalgie het boonop ‘n rol gespeel, en die gebruik van dié inkleurboeke het ‘n standhoudende stokperdjie-neiging geword wat tydens die Covid-19 pandemie verder versterk is.
Snuffel ‘n mens vandag se dae deur die verskeidenheid inkleurboeke vir volwassenes, is die keuse groot – om nie eens van die stelle inkleurpotlode, viltpenne en dergelike te praat wat jou so opgewonde soos ‘n kind laat voel.
Maar waarom is dit so gewild?
Bevorder bewustheid
Inkleur dra tot “mindfulness” by – die vermoë om op die oomblik gefokus te bly en dit werklik bewustelik te beleef. Wanneer jy inkleur, fokus jy op kleurkeuses en om binne die lyne – en soms doelbewus buite die lyne – te bly. Jou fokus kan selfs bydra om steurings om jou uit te skakel.
Met dié inkleurproses is daar geen kwaai juffrou wat jou met ‘n liniaal oor die kneukels gaan raps nie – jy kan onbevange, slegs vir jouself, inkleur. Soms dwaal gedagtes, maar die proses laat jou terugkeer na fokus en konsentrasie waartydens jy die geleentheid kry om van stresvolle gedagtes weg te kom.

Verminder stres
Inkleur is ‘n gesonde manier om stres te verlig. Dit kalmeer die brein en laat jou liggaam ontspan – selfs ‘n angstige hartklop en oppervlakkige asemhaling bedaar, en op ‘n manier voel jy getroos. In dié meer ontspanne toestand en terwyl jy inkleur, kan ‘n mens in jou onderbewussyn dit wat stresvol of kommerwekkend is, uitpluis.
Omhels die onvolmaakte
Daar is geen regte of verkeerde manier om in te kleur nie. Boonop is dit ‘n nie-mededingende aktiwiteit, met geen druk om teen tyd of vir ‘n eerbewys in te kleur nie. Jy kan vir so lank of so kort inkleur as wat jy wil en hoef nie ‘n prent of ‘n bladsy op een slag te voltooi nie.
Kleur in sonder oordeel of verwagting. Dit maak nie saak of jou prentjie netjies of deurmekaar is nie. Wat wel saakmaak, is dat jy dit geniet en ontspan.
Bied pouse weg van skermtyd
Inkleur dra by tot die “behandeling” van foonskeidingsangs en verminder skermtyd. Om jou selfoon neer te sit en “digitaal te detoks” is voordelig omdat dit jou brein en liggaam toelaat om te herstel van voortdurende stimulasie. Dié voortdurende stimulasie en om kort-kort te kyk of daar ‘n boodskap op jou foon is, lei tot stres, verswak slaapgehalte en ook fokus.
Skep ek-tyd
Weens die nimmereindigende verpligtinge as volwassene is dit nodig vir selfbehoud om ek-tyd en selfs persoonlike ruimte te skep. Hiervoor is inkleur ideaal. Om die ek-tyd boonop verder te voer, kan jy inkleur waar niemand jou steur nie, of kan jy jou inkleurboek en -potlode só bêre dat niemand anders “jou” boek en potlode onderskep nie.

Hou kognitiewe voordele vir bejaardes in
Wanneer ‘n bejaarde inkleur, dra dit by om behendigheid, fyn motoriese vaardighede en hand-oog-koördinasie te handhaaf. Dit kan ook help om kognitiewe agteruitgang te voorkom.
Kort nadat jy daardie nuwe inkleurboek wat jy met die hand uitgesoek het, se eerste prent met splinternuwe potlode begin inkleur, gaan jy wonder waarom jy dit nie reeds lankal begin het nie.
Bronne: Mayo Clinic Health System; Huffpost; RestInPieces ; Bleeding Cool
LEES OOK: Hobby kept on track for next generation: Model railway enthusiasts go full steam ahead





You must be logged in to post a comment.