KIMBERLEY – Dorothy-Anne Howitson was ‘n onvermoeide vegter om omstandighede vir persone met gestremdhede te verbeter en het vuriglik die noodsaaklikheid van polio-entstof oor en oor beklemtoon.
Sy het presies geweet waarom en waarvoor sy veg want uit eie ondervinding het sy die vernietigende krag van polio geken.
Op 7 Januarie 1957 het Dorothy-Anne wakker geword en kon slegs haar ooglede beweeg. Sy was 14 maande oud. Polio het haar oornag verlam gelaat.

FOTO: Verskaf
“As ‘n polio-oorlewende kan ek nie die gedagte verdra dat enigeen hierdie voorkombare virus wat jou lewe vir altyd verander, moet kry nie,” het sy altyd gesê.
In veldtogte het sy gedurig beklemtoon dat polio ongeneesbaar is, maar totaal voorkombaar deur entstowwe.
“Om polio as ‘n kind op te doen, het ‘n onuitwisbare invloed op my lewe gehad. Die pyn, die gestremdheid en die lewenslange stryd is ‘n voortdurende herinnering van polio se vernietigende krag.”
“Ek het met die gevolge van polio saamgeleef, en glo my, jy sal nie wil hê enigeen wat jy ken moet so ‘n lewenslange stryd voer weens ‘n siekte wat voorkombaar is nie,” het sy ook gesê.
Dorothy-Anne, wat as ‘n hoogs-intelligente en stylvolle vrou met ‘n “dazzling smile” beskryf is, is op 20 Oktober vanjaar – twee dae voor haar 70ste verjaarsdag – in Kimberley oorlede. Dit was vier dae voor Wêreld Poliodag, wat jaarliks op 24 Oktober plaasvind.
Oor Wêreld Poliodag was sy passievol, en het jaar na jaar toegesien dat die media daarvan bewus is. Per geleentheid het sy op haar deeglike manier ‘n berig oor die stand van polio oor die wêreld heen verskaf, met statistiek van onder meer die Wêreldgesondheidsorganisasie aangeheg.
LEES OOK: Polio still a threat to all
Sy moes vir die grootste deel van haar lewe met ‘n rolstoel oor die weg kom, en selfs nadat post-polio sindroom by haar diagnoseer is, het sy onverpoos aan haar doelwitte gewerk.
Haar ma het van vroeg koerantknipsels oor Doll, soos sy genoem is, gebêre: In ‘n koerantonderhoud in Januarie 1961 vertel die jong Doll aan die joernalis dat sy haarself soveel as moontlik wil help en geen las in die huis wil wees nie. Haar ysere wil het toe reeds gewys.
Polio laat haar oornag verlam
Toe Dorothy-Anne op 22 Oktober 1955 in Porterville gebore is, was polio-entstowwe nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie.
Dié entstof, ontwikkel deur die Amerikaner, dr. Jonas Salk, is in daardie jaar as veilig en doeltreffend verklaar, maar was eers vanaf 1956 in Suid-Afrika beskikbaar.
Teen 7 Januarie 1957 het Dorothy-Anne nog net een polio-inenting ontvang en was dit twee weke voor haar volgende inenting.
Met die poliovirus wat haar oornag verlam gelaat het, het sy vir baie maande hulpeloos gelê – in die Princess Alice Home wat vol kinders met polio was, en ook by haar ouerhuis. Die Howitsons het toe in die Strand gewoon. ‘n Fisioterapeut van Engeland het haar en ander kinders begin behandel en terapie het oor jare gestrek. Haar ma, ‘n onderwyseres, is touwys gemaak om haar met terapie by te staan.


FOTO’S: Verskaf
Ná die eerste jaar van fisioterapie kon Dorothy-Anne regop sit wanneer sy neergesit word. Sy het die gebruik van haar regterarm teruggekry en kon begin om boeke deur te blaai.
Ná die tweede jaar van fisioterapie kon sy in ‘n vertrek beweeg deur rond te rol. Op vierjarige ouderdom kon sy met behulp van loopysters en ‘n leerborsrok wat haar liggaam regop hou, stadig op haar bene voortbeweeg terwyl sy aan die muur of stoele vashou.
Haar ouers – Basil en Joey – en broer John het haar nie bejammer nie, maar ten sterkste ondersteun. Deel van haar en John se huistake was dat hy skottelgoed was en sy die messegoed afdroog. Sy moes ook help wasgoed opvou nadat haar ma haar teen die bed staangemaak het.
In haar kinderjare is haar pa, later ‘n posmeester, na Uitenhage, Jan Kempdorp, Warrenton, Kimberley en weer na die Strand verplaas.
Tydens November 1963, toe Dorothy-Anne agt jaar oud was, het die gesin na Jan Kempdorp verhuis. In 1964 is sy as st.1-leerling by die Elizabeth Conradie-skool (Elcon) in Kimberley ingeskryf, waar sy in 1973 matrikuleer het.
Tydens haar skooljare het sy tien operasies ondergaan, onder meer rugoperasies en spieroorplantings. Ná matriek het sy deur ‘n korrespondensiekursus as boekhouer kwalifiseer.
Lewenstaak om lot van mense soos sy te verbeter
As 25-jarige het sy in ‘n koerantonderhoud gesê sy is seker God het ‘n rede gehad waarom hy haar ‘n persoon met ‘n gestremdheid gemaak het. Sy was oortuig een van haar lewenstake is om die lot van mense soos sy te verbeter.

FOTO: Verskaf
Op daardie tydstip het sy saam met haar ouers in George gebly en was sy die stigter van die Access-groep. Dié groep het hulle onder meer beywer om opritte of skuinstes en ander hulpmiddels by besighede en kantoorgeboue te laat oprig om dit vir persone met gestremdhede toeganklik te maak.
Vir Dorothy-Anne was die fokus voortdurend om diegene wat met rolstoele of looprame oor die weg moes kom, asook persone wat doof of blind was of enige ander liggaamlike gestremdheid het, se belewenis in die samelewing te verbeter.
“Ons is ook mense. Ons het ook die reg om by ‘n deur te kan ingaan.”
In Augustus 1981 het sy haar eerste vaste aanstelling by die destydse Kimberley-hospitaal (nou die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal) gekry waar sy tot 1998 gewerk het.
In hierdie tydperk het sy ‘n kwalifikasie in sielkunde, bestuur, en arbeidsverhoudinge verwerf. Sy was ‘n Sondagskool-onderwyseres en was lief om naaldwerk te doen, veral kruissteekborduurwerk en was by die Christel Armstrong-breigilde betrokke. Boonop het sy haar ma opgepas wat aan Parkinson se siekte gely het. Dorothy-Anne was ook ‘n vrywilliger by Hospice, en as opgeleide berader het sy sterwensbegeleiding gedoen.
Ná sy in 1996 met post-polio sindroom diagnoseer is, is sy ongeskik vir verdere werk by die hospitaal verklaar. Weereens het dit haar nie gehalt nie.
Sy was deurlopend by veldtogte betrokke om omstandighede vir persone met gestremdhede te verbeter. Dit sluit toegang tot geboue, lughawens en vliegtuie in en die ongehinderde beweging op sypaadjies en in winkels. Sy het aktief in organisasies soos Rotary International en die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede (NCPD) gedien.
LEES OOK: Kommer oor nuwe polio-gevalle in Afrika
In dié hoedanigheid het sy gereeld toesprake by nasionale en internasionale konferensies gelewer.
Tot kort voor haar dood was sy die sekretaris van die Vereniging van en vir Persone met Gestremdhede (APD) Frances Baard-distrik en was aktief by Loslitdag betrokke. Vroeër was sy vir ‘n lang tydperk voorsitter van die voormalige Noord-Kaapse Vereniging vir Persone met Liggaamlike Gestremdhede.
Betrokke by bewusmaking oor wêreld heen
In Julie 1995, toe ‘n senior klerk by die Kimberley-hospitaal, is sy deur die Nasionale Raad vir Liggaamlik Gestremdes afgevaardig om Suid-Afrika by die internasionale Rehabilitasiekongres in Djakarta, Java, te verteenwoordig waar toeganklikheid vir persone met gestremdhede by toerismebestemmings onder meer bespreek is.
Op daardie tydstip was sy as streeksverteenwoordiger van die National Environmental Access Programme (NEAP) by projekte betrokke om meer toeganklikheid vir persone met gestremdhede te verseker. Saam met die destydse Suid-Afrikaanse Toerismeraad (Satoer) het sy vasgestel wat sulke persone se behoeftes by onder meer vakansieoorde en besienswaardighede was om toeganklikheid te verbeter.
Dorothy-Anne het ook ten doel gehad om kerke, dokterspreekkamers en openbare geriewe meer toeganklik vir persone met gestremdhede te maak.
Destyds, sou ‘n persoon in ‘n rolstoel wou gaan fliek, moes hulle die volle tarief betaal, maar by die agterste deur ingedra word. Op daardie tydstip het sy van net een openbare toilet in Kimberley geweet waarvan persone in rolstoele gebruik kon maak, en om geld by ‘n kitsbank te trek, was onmoontlik.

FOTO: Verskaf
- Teen 1999 het sy reeds argitekte van raad bedien oor hoe om toegang vir persone met gestremdhede by hospitale en klinieke te verbeter, en het sy ‘n beleidsdokument geskryf.
- In September 2015 het sy ‘n Rotary International-kongres in Mombasa, Kenia, bygewoon, en in September 2018 was sy met ‘n amptelike besoek aan China waar sy onder meer tien elektriese rolstoele vir persone in Suid-Afrika ontvang het.
- In April 2000 is sy tot ondervoorsitter van die nuwe Suid-Afrikaanse Federale Raad vir Persone met Gestremdhede verkies, en in 2004 tot voorsitter.
- In Oktober 2002 verteenwoordig sy die NCPD in Osaka, Japan, by ‘n internasionale Rehabilitasiekongres waar sy ‘n toespraak lewer oor die rol wat die media kan speel.
- In Junie 2004 is sy na Oslo in Noorweë as onder-voorsitter van die Nasionale Raad vir Persone met Liggaamlike Gestremdhede, en is Julie 2006 na Tel Aviv in Israel.
- Vir 2008 en 2009 is sy as ‘n intern by Quadpara Association of South Africa (Qasa) benoem. Hiertydens moes sy die Suid-Afrikaanse wetgewing rakende toeganklikheid en sosiale ontwikkelingsbeleide vir gestremdes bestudeer en tipiese kwessies navors.
Dorothy-Anne was haar lewe lank ten nouste by bewusmaking oor persone met gestremdhede betrokke en die aanwakker van sensitiwiteit teenoor sulke persone.
“Sy was ‘n gelowige mens wat altyd na die hemel uitgesien het. Sy het gestaan vir dit wat reg is, en het altyd op ander mense se behoeftes gefokus en nie op haar eie nie.” So som Johanna Swanepoel haar op. Dorothy-Anne het vir baie jare in ‘n eie woonstel teenaan Johanna se huis gebly.
LEES OOK: Misbruik van dié parkeerplekke misken menseregte
Wat Dorothy-Anne nog wou doen was om ‘n aksie by winkelsentrums in Kimberley te reël waar persone in rolstoele op gewone parkeerplekke “parkeer” – as protes teen soveel nie-gestremde persone wat op parkeerruimtes vir persone met gestremdhede parkeer. Dit was een van die kwessies wat haar vurigheid na vore gebring het, en waaroor sy gereeld kapsie gemaak het.
Eerbewyse tekenend van haar invloed
Dorothy-Anne het talle eerbewyse ontvang. Maar oor eerbewyse het sy gesê: “Applous kan ‘n verslawing raak. As dit so is, moet jy jou onttrek en dit nooit weer doen nie.”
Van die eerbewyse wat sy ontvang het:
- 1999: Kimberliet van die Jaar. In die jaar verskyn haar naam op die lys van 100 toppersoonlikhede van die millenium in die Vrystaat en Noord-Kaap.
- 2005: Die premier se eerbewys as Noord-Kaapse Aktivis en Gemeenskapsbouer vir die Jaar.
- 2011 en 2013: Gemeenskapsbouer van die Jaar.
- 2012: Noord-Kapenaar van die Jaar; ontvang ook die Melvin Jones Fellow Award van die Lions Clubs International Foundation vir toegewyde humanitêre diens en onselfsugtige stryd vir die regte van gestremdes. Hiervoor is haar naam op die ererol van Lions se hoofkantoor in Illinois in Amerika geplaas.
- 2015: Rotary International Service Award for a Polio-free World for 2014 en 2015.
- 2020: Lewensprestasie-impak-eerbewys van die NCPD vir onselfsugtige, uitstaande werk en bevordering van menseregte van persone met gestremdhede.
Toewyding illustreer onselfsugtige menswees
In ‘n eerbetoon aan Dorothy-Anne sê die NCPD sy was ‘n onvermoeide voorstander vir persone met gestremdhede en ‘n baanbreker in die stryd teen polio. Volgens die organisasie het haar voorspraak oor post-polio-sindroom die mediese gemeenskap en polio-oorlewendes oor die gevare en behoorlike bestuur hiervan opgevoed.

FOTO: Verskaf
NCPD sê Dorothy-Anne se invloed het veel verder as Suid-Afrika se grense gestrek. As jong volwassene het sy met die Rotary-netwerk in Afrika saamgewerk in polio-uitroeipogings oor die vasteland heen.
Vir baie jare het sy onvermoeid bygedra tot die vordering wat daartoe gelei het dat Afrika in 2020 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as vry van die wildepoliovirus gesertifiseer is.
“Haar toewyding om toekomstige geslagte teen die siekte te beskerm wat haar lewe beïnvloed het, het haar onselfsugtige gees illustreer. Haar stem mag dalk stil wees, maar haar impak sal weergalm deur die tallose lewens wat sy aangeraak het en die stelsels wat sy help verander het,” sê die NCPD.
In 2019 het Dorothy-Anne in ‘n onderhoud aan NoordkaapBulletin gesê: “Ek hoop my nalatenskap sal wees dat mense sê sy het God verheerlik. En dat sy nooit bang was om te veg vir hulle wat self nie kan nie.” Jy het dit reggekry, Dorothy-Anne.




You must be logged in to post a comment.