KAAPSTADHortgro, wat die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf (pit- en steenvrugte) verteenwoordig, het sy operasionele betrokkenheid met Transnet verskerp en oorweeg nou formele regstappe weens voortgesette operasionele mislukkings by die Kaapstadse hawe.

Dit volg op volgehoue en wesenlike onderprestasie by die Kaapstadse houerterminaal sedert die begin van die seisoen, wat steeds beduidende en meetbare skade aan die land se uitvoerekonomie veroorsaak.

Hortgro sê in ‘n verklaring hy is tans besig om die direkte en indirekte inkomsteverliese vir produsente te kwantifiseer, wat spruit uit onaanvaarbare vlakke van swak vruggehalte in markte, afslagpryse, bykomende koste om uitvoere na ander hawens te herlei, en die gedwonge gebruik van konvensionele vaartuie.

Hoewel die bedryf die toewyding en pogings van operasionele spanne erken wat onder uiters moeilike omstandighede werk, dui die volgehoue en omvangryke prestasieprobleme by die Kaapstadse houerterminaal op diepgewortelde strukturele tekortkominge wat verder strek as geïsoleerde voorvalle of eksterne ontwrigtings soos ongunstige weerstoestande.

“Oor baie jare het Hortgro konstruktief en te goeder trou met Transnet en hawebestuur in gesprek getree, insluitend ’n doelbewuste besluit om nie die media te betrek terwyl oplossings intern aangespreek word nie,” luidens die verklaring.

“Ten spyte van hierdie pogings het produktiwiteit nie herstel tot internasionaal mededingende of betroubare operasionele vlakke nie, ondanks aansienlike nuwe toerustingbeleggings ná meer as ’n dekade van kapitaalonderbesteding en gereedheidsversekerings voor die seisoen.”

Die bedryfsorganisasie sê internasionale produktiwiteitsstandaarde van bruto kraanbewegings per uur wissel tussen 25 en 30 terwyl die terminaal in Kaapstad glo onder 20 bly.

LEES OOK: Early start sets the tone for a promising apple and pear season

“Die kommersiële gevolge van hierdie volgehoue onderprestasie is nou ernstig, en opsies om verlore inkomste te verhaal en bykomende koste te dek, word ondersoek.”

Sedert die begin van die 2025/2026-uitvoerseisoen vir sagtevrugte het die bedryf reeds direkte verliese van meer as R350 miljoen gely, met verdere blootstelling wat daagliks toeneem namate vertraagde vaartuie bestemmingshawens bereik.

Teen die tweede week van die seisoen het uitvoervolumes met 9% gedaal, terwyl inspeksievolumes met 37% gestyg het, wat gelei het tot ’n abnormale opbou van sowat 1 688  wat koud gehou moes word.

“Dit verteenwoordig ’n geskatte R1 miljard se vruginventaris wat tans in gevaar is, uitgesluit addisionele volumes wat reeds by agterhawefasiliteite opgegaar is.”

Hortgro
Hortgro sê die Kaapstadse hawe se houerterminaal presteer nie soos wat dit moet nie. Illustrasiefoto: Pexels

Uitvoerders is genoodsaak om volumes teen buitengewone koste via alternatiewe hawens te herlei, insluitend:

  • ’n 140%-toename in verskepings via Gqeberha, met bykomende vervoerkoste van meer as R133 miljoen;
  • Die herleiding van ongeveer 900 verkoelde houers via Durban;
  • Ongeveer 1 200 houers via Walvisbaai, uitgesluit boetes vir wagtyd van vragmotors, ekstra koelopberging, agente se kostes en stygende gehalte-eise.

“Hierdie saamgestelde verliese knaag aan uitvoerders se winsmarges, destabiliseer landelike ekonomieë en plaas Suid-Afrika se hardverdiende reputasie as ’n betroubare verskaffer van hoëgehalte-vrugte onder toenemende druk.”

Volgens die bedryf se ontleding spruit Kaapstadse houerterminaal se onderprestasie uit vyf strukturele tekortkominge:

  • Mislukkings in menslike hulpbronne en arbeidsbestuur;
  • Tekortkominge in gesondheids- en veiligheidsbestuur;
  • Probleme met toerusting en sistemiese infrastruktuur;
  • Gebreke in operasionele prosesse, uitvoering en beheer; en
  • Kommunikasie- en aanspreeklikheidsmislukkings.

Hierdie kwessies is glo gedokumenteer en aan Transnet gekommunikeer, volgens Hortgro.

LEES OOK: Dead in the water: Why South African ports can’t stay afloat

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article