Ná byna drie dekades hang die hoof van die Tygerberg-kunssentrum in Du Toitstraat, Parow, eindelik haar hoed op.
Fransonette Swart, sentrumhoof, tree einde Augustus ná 28 jaar diens by die sentrum uit.
TygerBurger het verlede week met haar gepraat in haar kantoor waar sy van die hoogte- en laagtepunte gedeel het.
Die sentrum vier vanjaar ook ‘n belangrike mylpaal, sy 50ste bestaansjaar.
“Ons het vroeër vanjaar ‘n geleentheid hiervoor gehou, waarna alle oudstudente, hoofde en onderwysers genooi is,” sê sy. Sy noem ook dat van die oudstudente by die sentrum al internasionale toekennings vir hul werk ontvang het, en dat ‘n hele paar van hulle ‘n loopbaan uit kuns geskep het.
Die kunssentrum bied visuele kunste en ontwerp as skoolvak aan vir leerders van skole waar dié vak nie noodwendig aangebied word nie, of skole waar daar nie die kapasiteit is vir ‘n agtste vak nie.
Onder visuele kunste kan studente kies uit fotografie, teken of skilder. Onder ontwerp kan hulle kies tussen illustrasie, keramiekwerk, drukkuns, tekstiel- of juweliersontwerp.
Die studente by die sentrum verskil nes die vakke.
“Daar is diegene wat talentvol is, en dan ook die wat kuns as ‘n vak wil uittoets. Daar is ook studente met leerprobleme, aan wie kuns ‘n praktiese oplossing bied. Ons het oulike kinders,” sê Swart.
By die sentrum kry die studente kreatiewe vryheid en word hulle leiding aangebied. As ‘n kind hier uitstap, en hy of sy wil ‘n ingenieur word, kan hulle dit doen en kuns daar ook toepas, sê Swart.
“Ons idee is nie dat ‘n kind hier uitstap en ‘n kunstenaar hoef te word nie; dit is om jou menswees te kan uitleef.”
Sedert kinderjare dol oor kuns
Vir Swart het die kunswêreld ook vroeg reeds ‘n betekenisvolle rol gespeel. Sy onthou hoe sy as kind altyd mal was oor die kunsklas, “Ek het die kunsklas ná skool skoongemaak. Dit was die hoogtepunt van my week, want daardie jare was daar elke week kunsklas.”
Sy het dit op hoërskool ook as vak geneem en onthou ook hoe sy as kind onderwyser gespeel het en dat sy ‘n passie vir boeklees gehad het. “My werk is vir my baie lekker,” sê sy.
Swart sê sy het ‘n passie vir die kunste – enige vorm daarvan.
In 1997 is sy die pos as hoof aangebied. Sy het in 1990 begin as deeltydse onderwyser en uit dié pos haar hoofskap ontvang, sê sy. Sy het ook as kunsopvoeder vroeër jare by ‘n skool in die Paarl gewerk. Swart het haar kwalifikasies in die onderwys verwerf en haar loopbaan by ‘n skool in Springbok in die Noord-Kaap begin.
Sy het die grootste deel van haar loopbaan by die kunssentrum deurgebring, ‘n gebou wat sy sê oor die jare aansienlik verander het.
Die sentrum het in ‘n stadium sy ingang gedeel met die onderwyssentrum, en die agterste deel van die gebou was aanvanklik eers kleedkamers, onthou sy. Die oorspronklike ingang was in Timmermanstraat, maar dit is verander. Daar is oor die jare nuwe planne opgestel, rondgeskuif, afgebreek, gebou en reggemaak, sê Swart. Kleedkamers en toilette is in kantore omskep – alles tot voordeel van die kunssentrum.
“In ‘n stadium is al die koper van die dakke afgesteel, wat veroorsaak het dat die dakke gelek het. Die reënwater is in bakke opgevang, maar die dakke is ook herstel,” onthou sy.
Die departement van onderwys het net voor die Covid-19-pandemie die gebou verder opgeknap.
“Ons het in dié tyd klasgegee in die gange – byna ‘n jaar lank. Die plafonne is vervang en die asbesdak is uiteindelik verwyder.”
Nuwe kragdrade is aangebring, asook ‘n waterspuitstelsel.
‘n Nuwe skool, die Tygerberg STEM Akademie, word vandag ook daar gehuisves.
Swart beplan om haar aftrede saam met haar man te geniet en beplan om deur die wêreld te reis.
Die egpaar het reeds meer as 40 lande besoek en het pas uit Portugal, Spanje en Marokko teruggekeer.
“Ek dink die sentrum kort nuwe bloed. Ek laat die sentrum in ‘n goeie toestand, sê sy.
Swart beplan om nog betrokke te bly by die kunswêreld en beoog om steeds klas te gee.



