Die Afrikaanse digkuns se pad vorentoe ná Breyten Breytenbach, die bekendstelling van digbundels van onder andere die Suid-Afrikaans-Kanadese digter Klara du Plessis van haar nuutste tweetalige digbundel Ek’t Act, van Marlise Joubert, wat vanjaar 80 word, se jongste bundel Atrium, en van Herman Wasserman se debuutbundel Waterman en Wium van Zyl se Poëme.
Die belangrike rol wat Breyten Breytenbach deur sy werk en sy menswees gespeel het, word vanjaar uitgelig by die Tuin van Digters-digfees op Wellington.

Die Afrikaanse digkuns se pad vorentoe ná Breyten Breytenbach, die bekendstelling van digbundels van onder andere die Suid-Afrikaans-Kanadese digter Klara du Plessis van haar nuutste tweetalige digbundel Ek’t Act, van Marlise Joubert, wat vanjaar 80 word, se jongste bundel Atrium, en van Herman Wasserman se debuutbundel Waterman en Wium van Zyl se Poëme.

Daarby ook die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir ‘n Afrikaanse debuutbundel, die huldiging (postuum) van die digter Johann de Lange, en die pryswennende digter en skrywer Gaireyah Fredericks wat ‘n huldigingsgedig aan Breyten Breytenbach gaan voordra.

Dit is enkele van die hoogtepunte by vanjaar se 14de Tuin van Digters-digfees, die “Tuiste van die Afrikaanse digkuns”, op 12 en 13 September by die Breytenbach Sentrum in Wellington. Vanjaar se tema is Wanatoe.

Liefhebbers van die Afrikaanse digkuns kan ook uitsien na verskeie ander digtersgesprekke, musikante wat toonsettings van gedigte sing, voorlesings deur opkomende digters van hul gedigte, en praguitstallings in die twee galerye. 

Volgens Francois Lötter, vir die negende jaar die programorganiseerder van Tuin van Digters, is die Breytenbach Sentrum se trust en direksie voorbereid en gereed om die nagedagtenis van Breyten, wat op 24 November 2024 in Parys, Frankryk oorlede is, en sy visie vir die Sentrum in stand te hou.

“Daarom word voortgegaan om gevestigde sowel as jong digters en woord- en kunsskeppers uit alle gemeenskappe te betrek en bewus te maak van die belangrike rol wat Breytenbach deur sy werk en sy menswees gespeel het.”

Lötter sê om dit te beklemtoon bied PEN Afrikaans by vanjaar se Tuin van Digters ‘n paneelgesprek “hienatoe” aan. Die digter Danie Marais sal as fasiliteerder saam met mededigters  Alwyn Roux, Keith Oliver Lewis, Ryan Pedro, Klara du Plessis en Diana Ferrus die feestema “wanatoe” belig en saam gesels oor die toekoms van die Afrikaanse poësie – met spesiale aandag aan nuwe wisselwerkings, temas en stemme wat die digkuns vorentoe dra.

Ter hulding van Johann de Lange, wat op 27 Maart oorlede is, sal die digter Daniel Hugo, wat nou saam met De Lange gewerk het ‘n praatjie lewer. Die akteur en stemkunstenaar Chris van Niekerk sal gedigte van DeLange voorlees.

Breyten Breytenbach se grootword huis op Wellington, wat nou bekendstaan as die Breytenbach-sentrum, speel weer gasheer vir die Tuin van Digters-digfees. FOTO: Isabeau Botha

Daar is ook twee uitstalings.

Vir GEE, AANGEE: NOOIT OPGEE, in die Breytenbach Galery is gevestigde kunstenaars deur die hoofkurator, Anne-Ghrett Erasmus, en die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren genooi om ’n visuele gesprek te voer met Breyten Breytenbach. Kunstenaars kon Breyten se digkuns én skilderkuns as vertrekpunt en inspirasie gebruik om kunswerke te skep wat Breyten se nalatenskap eer, erken en verder neem.

Vir die uitstallings WANATOE, SOENTOE in die Cloete Gemeenskapsgalery het Anne-Ghrett en Marieke Kruger, kunstenaar, onderwyser en lektor, jong, ongevestigde kunstenaars van die toekoms geïnspireer en leiding gegee. Kruger het ’n keuse van haar top oud-studente van verskilende instansies genooi om deel te neem aan hierdie uitstaling om die pad vorentoe ná Breyten in hule kuns aan te dui. Bespreek by Anne-Ghrett Erasmus Coetzee by 083 415 0002In die Tuin van Digters se groepuitstalling in die

genooi om deel te neem aan hierdie opwindende uitstalling.

Marí Borstlap, regisseur, aktrise en ontwerper wat onder meer die regie gedoen het van Onder ’n Bloedrooi Hemel en Breyten Breytenbach se laaste drama Verwelkingslied by vanjaar se Suidoosterfees, is die openingspreker van die kunsuitstallings. Dit vind Vrydag 12 September om 18:00 plaas.

Musiek en toonsetting van gedigte word ook nie agterweë gelaat nie. Buiten Danie (Reënwolf) du Toit en sy pa Danie se sang en gedigte is daar ook Vrydagaand ‘n optrede deur Ilana de Vlakte van Aranos in die suide van Namibië. Sy sing toonsettings van haar eie gedigte sowel as van Breyten Breytenbach.

Saterdag is daar voorlesings en sing van getoonsette gedigte van Breyten Breytenbach deur Laurinda Hofmeyr en ook Ilana de Vlakte, met Schalk Joubert op die baskitaar.

Die sanger, digter, kunstenaar, akademikus en Breyten-gespreksgenoot, Andries Bezuidenhout, sing van sy eie nuwe toonsettings, ‘n paar Koos du Plessis nommers van sy mees onlangse album, asook liedjies uit jare gelede van die Brixton Moord en Roof Orkes. Kapelaan Pat Plank, ook bekend as die beeldhouer Gerhard Barnard, is saam met hom op die verhoog as die akoestiese weergawe van die Brixton Moord en Roof Orkes se kitaarslaner.

Breyten Breytenbach was ‘n gereelde besoeker aan die Tuin van Digters.

Ander hoogtepunte by vanjaar se Tuin van Digters is:  

  • In die item ‘The Art of Finding your Voice’/ Die Kuns om jou Stem te vind’ gesels Elsibe Loubser McGuffog, skrywer en opvoeder en ook direksielid van die Breytenbach Sentrum, oor werkswinkels in die digkuns wat sy op versoek van die Suid-Afrikaanse Raad vir Engelse Opvoeders (SACEE) by Iziko Slave Lodge in Kaapstad aangebied het. Al stel SACEE belang in opleiding en sorg vir Engelse onderwysers, is die werkswinkels geskik vir dig in enige taal. Deelnemers aan die werkswinkel sal ook van hulle gedigte voorlees.
  • In ‘n aanbieding, die helfte is jou nie vertel nie, verken Thérèse Bartman (Hulme) saam met Quintin Goliath (Jitsvinger) die noodsaaklikheid sowel as die beprekings van die geskrewe woord en keer terug na die orale, klankryke tradisie van poësie.
  • ‘n Gewilde aanbieding in die digterstuin deur die Breytenbach Sentrum se jeugdireksie bestaande uit voorlesings van gedigte deur plaaslike digters en potensiële gedigskrywers.
  • Digters van NB Uitgewers, Naledi, Turksvy Publikasies, Protea Boekwinkel en ander stel hulle nuwe Afrikaanse bundels bekend. Hulle sluit in die Poolse letterkundige, vertaler, akademikus en digter Jerzy Koch met sy tweede Afrikaanse digbundel (Polkadraai), Jadrick Pedro (Lostorring), Ryan Pedro (prins), Gerhard Barkhuizen (Strik), Marthé McLoud (Ontbloot), Andrea Sieberhagen(Dwaaldae) en Caren Kearley (Dawerende stiltes). 
  • Die digter en akademikus Alwyn Roux en Neil Cochrane, medesamestelllers van Merang, vertel oor die totstandkoming van dié besondere versamelbundel.
  • Die bekendstelling van nog onontdekte Afrikaanse digters deur Diana Ferrus en haar Mengelmoesdigters.
  • Die amptelike bekendstelling van Ons Klyntji, die alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en comics publiseer.
  • ’n Uitstalling van digbundels en boeke sowel as verskeie digbundels en publikasies van ander Afrikaanse digters wat onlangs verskyn het.
  • Digters en musikante, oud en jonk, sluit oudergewoonte Tuin van Digters af met getoonsette gedigte en musiek wat die voete laat jeuk en die koppe laat (dig)dink.

Tuin van Digters word moontlik gemaak deur Dagbreektrust se trust vir kuns, kultuur en erfenis in samewerking met NB Uitgewers.

Kaartjies kan gekoop word by Quicket by https://www.quicket.co.za/events/289556-tuin-van-digters-2025/#/  

 Kaartjies kos R100 per volwassene vir Vrydag 12 September (alle programitems ingesluit), R250 per volwassene vir Saterdag 13 September (alle programitems ingesluit), R300 per volwassene vir ‘n naweekkaartjie, R100 per student vir ‘n naweekkaartjie en R50 per dag vir kinders onder 16. Toegang is gratis vir opbetaalde lede van PEN Afrikaans.

Die volledige program en ander besonderhede oor Tuin van Digters 2025 is by https://breytenbachsentrum.co.za/wp-content/uploads/2025/08/tuin-van-digters-2025-program.pdf  

Dit is ook op die Breytenbach Sentrum se webblad https://breytenbachsentrum.co.za/ en Facebook-blad. Volg die Breytenbach Sentrum op Instagram en Facebook @breytenbachsentrum en gesels saam: #TuinVanDigters #MeerDigdinkIsNodig, #altydbreyten.

LEES OOK: Breyten was lief vir die Boland

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article