Weslander

Heropening van kreefseisoen maak geen verskil, sê kleinskaalse vissers

Kleinskaalse vissers wil net ‘n regverdige lewe maak. Foto: Adrian Venter
Weslander

Heropening van kreefseisoen maak geen verskil, sê kleinskaalse vissers


Kleinskaalse visserykoöperasies het op Dinsdag 5 Mei met Willie Aucamp, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) vergader om uitdagings in die sektor te bespreek.

Aucamp het die regering se verbintenis tot volhoubare vissery, verbeterde bestuur, ekonomiese groei, werkskepping en sterker ondersteuning vir vissersgemeenskappe herbevestig.

Ministers braai snoek.
Ministers Tertuis Simmers, Willie Aucamp en, heelregs, die DA-leier Geordin Hill-Lewis by Vincent Breytenbach van die Harbour View Restaurant onlangs in St Helenabaai. Breytenbach het snoek vir gaste gebraai by die viering van die herstel van byna 300 kleinskaalse visvangvaartuigpermitte in die tradisionele lynvissektor.

Die gesprek het gefokus op die vind van oplossings vir langdurige uitdagings soos toegang tot visseryhulpbronne, deelname aan markte en medebestuur. As deel van voortgesette ingrypings het die Departement die nabykus-visvangseisoen vir Weskus-rotskreef vir kleinskaalse vissers tot Sondag 31 Mei heropen om vertragings met permitte en toekennings aan te spreek.

Volgens Hilda  Adams, voorsitter van die Weskus Kleinskaalse Vissersforum, is hulle nie seker dat die heropening vir hulle tot voordeel sal wees nie omdat baie mense nog nie aangepaste kreefpermitte ontvang nie.

“Ons sukkel ook om ons uitvoerpermitte van DFFE te kry. Dis alreeds Mei, en ons mag nie naweke kreef vang nie. Die weer speel ‘n groot rol en gedurende die week kan die weer onstuimig wees, maar naweke is daar weer goeie weer vir see toe gaan. So dit is ‘n groot bekommernis.”

Adams meen die implementering van die Beleid vir die Kleinskaalse Visserysektor in Suid-Afrika word tot dusver nie geïmplementeer nie en dat daar geen erns vanaf DFFE is om dit tot sy reg te laat kom nie.

“Ons sukkel nog te veel om reg te laat geskied aan die Beleid vir die Kleinskaalse Visserysektor in Suid-Afrika. Ons het te min ekonomiese volhoubare spesies in ons mandjies van regte. Ons het perlemoen ontvang, maar kan nie aansoek doen vir die permit nie. Ons soek geregtigheid,” voeg Adams by.

Christian Adams, ‘n visser van Steenberg’s Cove by St. Helenabaai meen die heropening beteken niks vir vissers omdat die departement nie sekere allokasie aangepas het nie. Adams meen die departement kommunikeer nie voldoende nie en gaan voort soos wat hulle goed dink.

“Daar is geen ondersteuning van die departement nie. Besluite wat geneem word, word nie in samewerking met die koöperasies geneem nie.”

Visserykoöperasies het dringende bekommernisse geopper en die regering versoek om die Beleid vir die Kleinskaalse Visserysektor in Suid-Afrika ten volle te implementeer en volhoubare bestaansbestaan te ondersteun. Hul voorleggings sal formeel deur die departement oorweeg word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article