Wat as ‘n intieme winterfees met twee uitvoerings en ‘n handjievol liefhebbers van klassieke musiek begin het, is nou – 22 jaar later – as die “Classics for All” stewig gevestig as een van die oudste en belangrikste klassieke musiekfeeste in die Overberg, indien nie in die land nie.
Die Classics for All vind van 8-10 Mei in die skilderagtige Overbergse dorpe Greyton en Genadendal plaas. Die geskiedkundige Genadendal is slegs vyf kilometer buite Greyton geleë.
Die feesdirekteur, Coenie Visser, sê: “Die Classics for All-fees was nog nooit net ‘n gebeurtenis nie. Dit is ‘n ontmoetingsplek vir stemme en interpretasies van klassieke musiek van oral in die wêreld. Mettertyd het dit iets diep persoonlik geword – ‘n geleentheid waar ou vriende herenig, nuwe gehore verwelkom en die gedeelde gees van Greyton en Genadendal deur musiek gevier word.”
Feesgangers, wat musiekliefhebbers van oor die land en selfs oorsee insluit, kan hierdie jaar weer uitsien na ‘n ryk en uiteenlopende program, insluitend die galakonsert met ‘n sterbelaaide rolverdeling van sommige van die beste Suid-Afrikaanse sangers en instrumentaliste, ‘n viering van Franz Schubert se 200ste verjaarsdag, die welbekende Zanne Stapelberg, die Ses Celli van die Kaapse Filharmoniese Orkes, die Genadendal Basuinkoor en vele meer.
Die Sondagmiddagkonsert met vier opkomende sterre is saamgestel deur Philippus Hugo, ‘n plaaslike pianis wat bekend is daarvoor dat hy altyd van die fees se mees onvergeetlike musikale ervarings skep.
Een van die hoogtepunte van die 2026-fees sal ongetwyfeld Carl Orff se musikale skouspel, Carmina Burana, wees – ‘n buitengewone prestasie vir die fees. Hierdie kragtige produksie sluit in die WindWorx- simfoniese blaasensemble, in samewerking met die Simfoniekoor van Kaapstad en kore van die SACS (South African College High School) en die Laerskool Greyton. Die bekroonde soliste William Berger, Lynelle Kenned en Minette du Toit-Pearce tree ook onder leiding van Levi Alexander op.
Selfs vir mense wat nie liefhebbers van klassieke musiek is nie, is die openingskoor O Fortuna van Carmina Burana waarskynlik bekend en nostalgies, want dit sal altyd verbind word met die ikoniese 1970’s-televisiereklames van Old Spice-naskeermiddel.
Die fees speel ook ‘n belangrike rol in die gemeenskap. Oor die jare het Classics for All beduidend in die musiekopvoeding in die vallei belê – deur skoolkore, instrumente, dirigentopleiding en vervoer van skoolkore na onder andere eisteddfods te finansier.
Hierdie fees bied werklik iets vir almal – u hoef nie ‘n klassieke musiekkenner te wees om hierdie fees van wêreld-klas musiek te geniet nie. Dié fees, wat oor drie dae strek, bied nie net opregte Overbergse gasvryheid nie, maar gee mense ook die geleentheid om Greyton en Genadendal te verken.
Die volledige feesprogram is by www.classicsforall.co.za te sien. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets en kan ook deur die webtuiste gekoop word.




