Kwêla-kykers het duidelik gewys dit is hulle “wat vir Gansbaai lekker maak”, want dié kusdorp is as die Wes-Kaap se finalis vir Kwêla- Dorp van die Jaar aangewys. Kan Gansbaai dalk in Greyton se voetspore volg, wat in 2021 as wenner aangewys is? Dit is die vraag op almal se lippe nadat Gansbaai Sondagaand sy plaaslike teenstanders Montaqu en Riversdal uitgestof het.
“Die dorp wat die meeste stemme kry, is die wenner,” het die Overstrand-munisipaliteit se burgemeester, Archie Klaas, gesê. “Al die inwoners in die Overstrand – van Stanford, Hermanus en Kleinmond tot Pringlebaai en Bettysbaai – moet nou vir die dorp stem,” het hy aangemoedig.
Die stemlyne is van 12 Julie af oop en elke SMS tel. “Kom ons wys die res van Suid-Afrika waarom Gansbaai moet wen. Dit gaan nie net oor die gees van Gansbaai nie, maar ook die mense,” het Klaas gesê.
Gansbaai is duidelik meer as net ‘n vakansiedorp waar jy die seelewe kan besigtig. Dit is ook die tuiste van Suid-Afrika se geliefde liedjieboer Anton Goosen.
Anton, wat al vir dekades diep spore in Afrikaanse musiek stap, tree ook gereeld in die Overberg op. Sy liefde vir musiek en ook sy jare lange optredes by die Kalfiefees het gemaak dat hy vanjaar, tydens die Kalfiefees se programbekendstelling, ook die Kalfiefees-teël ontvang het.
Nog ‘n bekende kunstenaar wat die stad se liggies vir Gansbaai-omgewing verruil het, is Nianell.
Nianell het onlangs na die omgewing verhuis en kan nie uitgepraat raak oor die natuurskoon en die mense nie. Sy vertel gereeld op Facebook van haar ervarings.
Die wendorp word op 2 Augustus op Kwêla aangekondig. Inwoners sal van Sondag 12 Julie om 19:00 af kan stem. Die stemlyne sluit op 17 Julie om 12:00. Om te stem, SMS die woord GANSBAAI na 33157. Die kostes van ‘n SMS beloop R1,50 en ‘n maksimum van 30 stemme per selnommer word toegelaat.
Die dorp met die meeste stemme word as Kwêla se Dorp van die Jaar aangewys. Die dorp wen ‘n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET. Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ‘n 45-sekonde-advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. ‘n Groot opskop sal in die wendorp gehou word – musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorp-gees! Kwêla sal daar wees om dit te verfilm en dit sal later in die jaar uitgesaai word.
Lottoland skenk in sy eie hoedanigheid R1 miljoen om in die dorp terug te ploeg en wat geoudit sal word.
Elke finalis-dorp moet ‘n sakeplan indien oor wat hulle met die potensiële prysgeld beoog.





