Die flamenkodanser Che Adams en klassiekekitaarspeler Nina Fourie-Gouws in die Elogio de la Danza-opvoering wat moderne flamenko met ballet op kitaar- en vioolbegeleiding gekombineer het.

Die Classics for All-musiekfees in Greyton bekoor wyd

Die flamenkodanser Che Adams en klassiekekitaarspeler Nina Fourie-Gouws in die Elogio de la Danza-opvoering wat moderne flamenko met ballet op kitaar- en vioolbegeleiding gekombineer het.

Die Classics for All-musiekfees wat jaarliks in Greyton en Genadendal aangebied word, is ná 22 jaar sonder twyfel as een van die oudste en belang- rikste klassieke musiekfeeste in die Overberg, indien nie in die land nie, gevestig.

Die feeskomitee, onder leiding van die feesdirekteur, Coenie Visser, stel elke jaar ‘n opwin- dende program van hoogstaande gehalte met musici van wêreldgehalte saam. Dit is terselfdertyd ook ‘n verhoog waar nuwe talent blootgestel en ontgin kan word.

Die feit dat verskeie kunstenaars oor die jare gereeld by die fees optree, spreek boekdele vir die gewildheid van dié fees. Elke jaar se produksies is van hoogstaande gehalte, en vanjaar het die feeskomitee hulself oortref deur die musikale skouspel Carmina Burana aan te bied.

Weens onvoorsiene omstandighede kon Visser nie vanjaar se fees bywoon nie, maar uit Peru het hy sy vingers stewig op die pols gehou – nie net met al die reëlings nie, maar het hy ook presies geweet wat elke minuut by die fees gebeur.

Aan Hermanus Times vertel Visser: “Hoewel ek nie self by die fees was nie, is elke konsert na my deurgevoer, so vir ‘n ver- andering kon ek na elke konsert luister, iets wat ek nooit doen wanneer ek daar is nie, want ek hardloop te veel rond. Wanneer ‘n mens ‘n program saamstel, is ‘n mens altyd senuweeagtig of dit gaan byval vind by mense en of jy die nodige ondersteuning gaan kry. Ek het die eerste aandui- ding gekry dat iets besig is om te gebeur toe ek sien dat die eerste konsert, die Cellissimo-tjellokonsert, wat in ‘n tydgleuf is wat gewoonlik nie baie vol sale trek nie, uitverkoop was. Daarvandaan was dit net die een vol saal ná die ander.”

Visser noem dat hulle baie gelukkig was om die Emil Weder-auditorium te kry om vir die galakonsert 350 mense te akkommodeer, en vir die Carmina Burana-opvoering moes 175 kunstenaars op die verhoog wees, terwyl 500 musiekliefhebbers die stoele volgesit het.

Emil Weder se skoolhoof, Anthea Adonis, sê dit was ‘n eer en ‘n voorreg om dié twee konserte in die auditorium te kon aanbied.

Visser het verlede jaar amptelik as feesdirekteur uitgetree, maar nadat hy die Carmina Burana-opvoering in Kaapstad gesien het, het hy gesê indien dié produksie na die Classics gebring kan word, hy as feesdirekteur sal aanbly.

“Hierdie konsert was ‘n reuse- waagstuk. Ons het nog nooit so ‘n enorme produksie aangebied nie en die logistiek daaraan verbonde was natuurlik enorm. Maar dit was ‘n groot sukses. Die mense was mal daaroor en ek het ongelooflik baie, en goeie, terugvoer daaroor gekry.”

‘Jy kon ‘n speld hoor val’

Al die uitvoerings was van hoogstaande gehalte en dis moeilik om spesifieke uitvoerings uit te sonder. Visser noem dat Carmina Burana en die galakonsert beslis hoogtepunte was, maar dat veral die deelname van plaaslike mense ook ‘n hoogtepunt was.

“Die Genadendal Basuinkoor het ‘n uitstekende konsert in ‘n vol venue aangebied. Die terug- voer was ongelooflik en dit was vir my regtig ‘n riem onder die hart.”

Die tubaspeler Likhona Tokota het vir die eerste keer saam met die Basuinkoor opgetree en sê dit was ‘n wonderlike ervaring. Hy het al voorheen by die Classics opgetree en volgens hom word elke jaar net beter en beter.

Joe Peters van die Basuinkoor sê dat hulle al voorheen items by die Classics opgevoer het, maar dat dit die eerste keer was dat hulle ‘n hele konsert aangebied het. “Ons het dit terdeë geniet. Die gehoor was uitstekend en die energie van die gehoor het ons beslis geïnspireer om ons beste te lewer.”

Visser noem dat Philippus Hugo ook altyd ‘n groot bydrae tot die Classics lewer. “Hy het die vermoë om mense bymekaar te bring om ‘n fantastiese opvoering te lewer. Dan was daar natuurlik die vonds van Leone Prins, ‘n jong Emil Weder-leerder, wat in Philippus se Youthful Brilliance- konsert opgetree het. Sy was fantasties. Hierdie kind het daar gestaan asof sy elke dag voor gehore sing.”

Die tubaspeler Likhona Tokota tree met die Genadendal Basuinkoor op. Hy het ook ‘n roerende solo-item gelewer. Foto’s: Mitzi Buys

Visser keer terug na Carmina Burana, wat beslis dié hoogtepunt van die feesreeks was. “Ek wou graag ‘n kinderkoor by die produksie insluit en Greyton Primêr het ‘n koor bymekaargesit. Die kinders moes die Latynse woorde leer en behalwe vir ‘n paar minute voor die konsert het hulle nooit met die orkes en koor geoefen nie, maar toe daardie kinders begin sing, het ek onbeskaamd hier in Peru gesit en huil. Ek is so trots op hulle.

En ja, te danke aan Carmina Burana het ek weer die leisels van die fees oorgeneem.”

Die bekende operasanger Lynelle Kenned, wat in beide die galakonsert en Carmina Burana opgetree het, sê: “Hierdie is my vierde jaar dat ek hier optree. Dit is altyd so ‘n voorreg om deel van die Classics te wees. Tydens die Carmina Burana-konsert kon ‘n mens ‘n speld hoor val en dit was weer eens absoluut wonderlik om musiek met musiekliefhebbers te kon deel.”

Caroline Lawrence (89) woon reeds 35 jaar in Greyton en sê dat sy in die 22 jaar van die Classics elke enkele konsert bygewoon het.

“Ek is so bang dat ek dalk ‘n wonderlike uitvoering nie bywoon nie, so elke jaar woon ek elke konsert by en dit is elke keer ‘n ongelooflik verrykende ervaring.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article