Daniël Grove blink uit in alles wat hy aanpak.

Vir Daniël Grove bestaan daar nie iets soos om die handdoek in te gooi nie.

Dié 16-jarige Hermanus-inwoner, wat op ‘n plaas in die Hemel-en-Aarde-vallei woon, het net een doel voor oë – en dit is om in alles uit te styg wat hy aanpak.

Daniël het pas van die UIPM-Vyfkamp-­wêrelkampioenskap in Kaïro teruggekeer. Die kampioenskap op 12 April was nie net die begin van die vyfkamp-seisoen nie, maar het ook ‘n paar veranderings gehad – waar die atlete gewoonlik oor 200 m swem, moes hulle dit nou oor 100 m doen.

Daniël het teen die senior atlete meegeding en ‘n merkwaardige prestasie behaal. Dié jong atleet het 39ste uit 117 atlete in Kwalifikasie B geëindig. Hy het slegs twee punte gekort om vir die halfeindronde te kwalifiseer.

Die twee punte en sy uitslag het hom nie ondergekry nie en hy het sommer dadelik toe hy sy voete in Hermanus sit, weer hard begin oefen. “Ek is tevrede met my uitslae,” het Daniël ná die byeenkoms gesê. “Skerm is ‘n gebied waaraan ek meer aandag sal moet gee aangesien die Oosterse lande baie sterk in daardie dissipline is.”

Hy het ook reeds vir ‘n internasionale skermafrigtingskursus ingeskryf. Sy familie staan bankvas agter hom en volgens Daniël kon hy dit nie sonder hul hulp regkry nie. Sy oupa het ‘n hindernisbaan op die plaas opgerig, waar Daniël kan oefen. Volgens hom het die ruwe terrein en die omgewing hom gehelp vorm om een van die beste junior atlete te wees – veral as dit by die hindernis-afdeling kom.

Al is Daniël maar net 16 jaar oud, sal sy titels senior atlete groen van jaloesie laat. Hy is tans die o.17- SA skermkampioen, die o.19- SA tweekampkampioen, die o.17- en o-19- SA moderne-vyfkamp-kampioen, die o.17-driekamp-wêreldkampioen en die o.19-laserloop-wêreldkampioen.

Sy program vir die res van die jaar is net so vol. Al gaan hy die volgende wêreldkampioenskap weens skoolverpligtinge misloop, wil hy graag in Junie by die volgende UIPM-Wêreldbeker in Hongarye genoeg ranglyspunte versamel om vir die eindronde te kwalifiseer – slegs 36 atlete kan vir die eindronde kwalifisieer.

Verder wag die o.19-wêreldkampioenskap vir hom in Augustus, gevolg deur die Laserloop/Biathle-wêreldkampioenskap in Madeira in Oktober, ‘n dissipline waarin hy die verdedigende wêreldkampioen is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article