Die Hermanus-Kalfiefees, wat vanjaar weer van 5 tot 10 Augustus gehou word, beloof weer eens pret vir ‘n ieder en ‘n elk.
Dit is egter die boekwurms wat vanjaar kan uitsien na ‘n “fees der feeste”.
• Dinsdag 4 Augustus om 10:00 voer Nadine Petrick ‘n gesprek met Fanie Viljoen, Bianca Flanders en Zelda Bezuidenhout oor hul boeke, hul karakters en sommer net oor hoe lekker dit is om te lees.
• Mike Bolhuis: Maak reg vir ‘n aand vol onverskrokke waarhede en skokkende onthullings wanneer die land se bekendste private ondersoeker, Mike Bolhuis, die verhoog betree. In sy boeke Valskerm-Bataljon Verhale 1 & 2 neem Bolhuis geen gevangenes nie. Hy deel die rou, dikwels gevaarlike werklikhede van sy tyd in die weermag en sy jare lange stryd teen misdaad in Suid-Afrika. Hy tree in gesprek met sy uitgewer, Johan Coetzee, oor die uitdagings om hierdie plofbare verhale op skrif te sit en die invloed wat dit op die Suid-Afrikaanse landskap het. Die praatjie vind op 4 Augusuts om 18:00 in die munisipale ouditorium plaas.
• Die bekroonde joernalis en misdaadskrywer Irna van Zyl is terug met haar jongste Storm van der Merwe-spanningsroman Kanniedood. Wanneer die bejaarde Gerty Jonas in Zwelihle sterf, lyk dit op die oog af na natuurlike oorsake. Maar die vrae begin vinnig opstapel: Hoekom het haar seun, Kai, nie by die lyk gewag nie? Die veelsydige resensent en tekspraktisyn Jonathan Amid gesels met Irna oor die geheime van Zwelihle, die kuns van die spanningsroman en die onverwoesbare aard van Storm van der Merwe. Dit vind Woesdag 5 Augustus om 08:30 in die munisipale ouditorium plaas.
• Kom geniet ‘n heerlike kuier-ontbyt saam met die kosghoeroe Frik de Jager. Frik, bekend vir sy passie vir outentieke geure en die stories agter elke resep, gesels oor sy gewilde kookboeke, KoesterKos en StorieKos.
Tydens hierdie interaktiewe oggend deel Frik nie net sy kookgeheime nie, maar hy tree ook in gesprek met van Suid-Afrika se gunsteling-verhoogkunstenaars (Donderdag, 6 Augustus om 09:00 in die Banketsaal).
• Die geliefde skrywer Wilna Adriaanse is terug met ‘n meesleurende nuwe roman, Grensloos. Adriaanse, wat bekend is vir haar vermoë om diep menslike emosies en komplekse verhoudings met deernis te ontknoop, neem lesers hierdie keer op ‘n reis wat fisieke en emosionele grense bevraagteken. Die resensent en joernalis Nadine Petrick gesels met Wilna oor die inspirasie agter die boek, die temas van vergifnis en vernuwing, en die kuns om stories te skryf wat oor grense heen met lesers praat (Vrydag 7 Augustus in die Banketsaal).
• Vier Vrouedag saam met vier van Suid-Afrika se mees geliefde skrywers van historiese romans. Irma Joubert, Helene de Kock, Jeanette Stals en Malene Breytenbach kom bymekaar vir ‘n fassinerende oggend waar die verlede en die hede ontmoet. Hierdie skrywers is bekend vir hul vermoë om die stof van die geskiedenis af te skud en stemme uit die verlede – veral dié van merkwaardige vroue – met deernis en akkuraatheid lewe te gee. Hulle gesels nie net oor hul jongste romans nie, maar delf ook dieper in die kuns en uitdagings van die skryf van historiese fiksie. Susan Booyens lei die gesprek en verken saam met die paneel die krag van die vroulike stem deur die eeue heen.
• Besoek www.kalfiefees-hermanus.co.za vir nog inligting en die feesgids.


