Aanhangers van Irna van Zyl se boeke is dit eens – hulle kan nie wag vir die volgende saga van die baasspeurder Storm van der Merwe nie. En wat die leesgenot nog meer persoonlik vir Overberg-inwoners maak, is die feit dat van haar boeke in die Hermanus-omgewing afspeel. Soos een leser tereg opgemerk het: “Irna van Zyl se boeke spreek tot jou. As Storm van der Merwe in Kwaaiwater of by ‘n restaurant in Hermanus is, dan voel dit vir jou of jy haar enige tyd daar gaan raak loop.”
Irna, wat in Hermanus woon en ook ‘n huis in Pearly Beach het, is nie net lief vir die omgewing nie, maar gebruik ook die Overberg as agtergrond in haar boeke – soos in haar sesde boek, Kanniedood, wat op 5 Mei by die Hermanus-gholfklub bekendgestel is.
Die bekroonde skrywer was in ‘n vol saal in gesprek met die oudjoernalis en skrywer Karin Brynard, terwyl die sanger Karin Hougaard die voorlesing gedoen het.
Die krimi, wat reeds ‘n topverkoper in boekwinkels, is ook op Amazon se topverkopelys. En soos in haar vorige boeke oor Storm van der Merwe, skep dit onmiddellik ‘n tuisgevoel, waar plaaslike lesers die geografie van die verhaal kan volg, want dit speel weer in Hermanus en die Klein Karoo af.
“Die aand was ‘n reusesukses en ons is baie trots op haar hoe die manier hoe sy deur haar boeke ons streek bemark,” het Frieda Lloyd, bestuurder van die Overberg-toerisme gese. Die span van Wordsworth was ook die aand op hul pos sodat lesers hul boeke deur die skrywer kon laat teken.
Meer oor Kanniedood: Speuradjudant Storm van der Merwe en haar kollega Shirien Niemandt is vroegoggend eerste op die toneel in ‘n eenslaapkamerhuis in Zwelihle.
Op die oog af lyk die bejaarde Gerty Jonas se afsterwe na natuurlike oorsake, maar hoekom het Kai nie by sy ma se lyk gewag nie? En hoekom het hy soos mis voor die son verdwyn?
Die lysie raaisels raak al hoe langer. Shirien ignoreer skielik haar oproepe, en kolonel Mier Ritchie kom met die storie vorendag dat Storm oneties opgetree het. Sy word summier tydelik ontslaan. Storm besluit op ‘n kort blaaskans op Jane English se wildsplaas buitekant Barrydale. Maar Jane vertel haar dat ‘n sindikaat net die vorige week skaars vetplantjies gestroop het en smeek Storm om te help om die internasionale smokkelnetwerk oop te vlek. Toe sy instem, verskyn die einste Kai Jonas weer op die toneel.
• 27 Mei gaan Irna Kanniedood ook by Betrag-galery in Stanford bekendstel. Vir nog inligting skakel 067 188 9439.





