Lede van die Caledon-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) het in Junie nie net geleer hoe om pragtige kunswerke te maak nie, maar ook ‘n baie suksesvolle pretdag aangebied.
Nadat die sakelys tydens die Junie-vergadering afgehandel is, het Antoinette Schoeman, ‘n kunstenaar van Botrivier, ‘n baie interessante demonstrasie gegee oor hoe ‘n mens met ‘n paar blertse verf en ‘n skraper, wat ‘n stukkie karton of ‘n ou kredietkaart kan wees, ‘n interessante kunswerk kan maak. Elke lid het ná die demonstrasie die geleentheid gekry om hul eie kunswerke te skep. Antoinette het bygestaan en bemoedig. Die lede het dit verskriklik geniet en was baie trots op hul skeppings, wat van blomme tot abstakte werke gewissel het. Dit was duidelik dié vroue kan nie net bak en brou en brei en hekel nie, maar dat ‘n paar ontluikende kunstenaars onder hulle skuil. Wat lekker is van dié metode van verf is dat dit op skilderdoek sowel as papier gedoen kan word.
Die Caledon-tak het Saterdag 27 Junie ‘n pretdag aangebied. Omdat die bingo-speletjie verlede jaar so gewild was, het hulle meer tyd daaraan bestee. Elke keer wanneer “bingo” uitgeroep is, het die betrokke lid ‘n prys gewen.
Hulle het ook verskeie ander speletjies gespeel, waar pryse ook gewen kon word, asook gelukkige trekkings vir kaartjiehouers gehou. Die pryse het tuisgebakte koekies, beskuit, koeksisters, ingelegde produkte en handewerk-artikels ingesluit.
Michelle en Scarlett Simon-Kühn het ‘n pragtige dans-item gelewer voordat die verversings bedien en die speletjies hervat is.
“Die opbrengs van die kaartjieverkope gaan vir kankerversorging,” sê Corrie Fogwell, die voorsitter van die Caledon-tak. “In oorleg met dr. John Duminy van Hermanus-onkologie sal die behoefte identifiseer word.”
Fogwell het haar dank uitgespreek aan al die borge wat bygedra het om die pretdag so ‘n groot sukses te maak. Sy het Overberg Agri bedank dat hulle die huur van die saal en die musiek, een van die grootste uitgawes, geborg het.
Voor die Julie-vergadering het die lede by AFGRI in Caledon gaan inloer.
Die takbestuurder, Jaco van Lill, het die vroue ingelig oor verskeie John Deere-implemente en hul spesifieke gebruike, waarna ‘n interessante toer deur die stoor en werkswinkel onderneem is. Na afloop van die besoek is die maandelikse vergadering in die Wes-kerk saal voortgesit.



