Deur volgehoue harde werk en goeie prestasies is die 17-jarige Matao le Roux van Caledon in die Suid-Afrikaanse span opgeneem wat van 5 tot 9 Augustus aan Wêreld-atletiek se o.20-kampioenskap in Eugene, Oregon, in die VSA, gaan deelneem.
Matao is nie net die Suid-Afrikaanse junior én senior hoogspringkampioen nie, maar ook die Afrika-jeugkampioen.
Maar dié droom lê nou aan skerwe nadat Atletiek Suid-Afrika (ASA) die atlete meegedeel het dat hulle self vir hul visum- en vlugkostes verantwoordelik is. ASA dek slegs verblyfkostes vir die atlete. Dié skokkende nuus is slegs vyf weke voor die atlete se vertrekdatum aangekondig.
Maeve Jonkers, Matao se ma, noem aan Hermanus Times: “Dit was ‘n groot skok om die nuus te ontvang. Dit is regtig moeilik om op sulke kort kennisgewing geld te kry en ek weet regtig nie wat om te doen nie. Matao het so hard gewerk om te kwalifiseer om aan hierdie kampioenskap, waar atlete van 192 lande deel gaan wees, deel te neem. My grootste bekommernis in hierdie stadium is sy visumaansoek, want die tyd loop uit. Daar is ook ekstra kostes verbonde aan ‘n laat aansoek.”
Vetkoeke nie genoeg
Maeve sê sy het onlangs vetkoekverkope as geldinsameling gehou, maar die opbrengs daarvan was eintlik as sakgeld vir Matao bedoel.
“Dit is glad nie oukei nie,” sê ‘n teleurgestelde Matao. “Hulle [ASA] het al lankal van die kampioenskap geweet en nou – net ‘n maand voor die tyd – sê hulle ons moet self ons onkostes betaal. Hulle kon dit al lankal bespreek het en dan kon ons dinge gedoen het om geld in te samel. Nou is dit alles op die nippertjie en nou moet my ma dié kant toe en daai kant toe spring om my daar anderkant te kry.”
Op ‘n vraag van Hermanus Times oor hoe hy sal voel indien hy dalk nie kan gaan nie, antwoord Matao: “Dit sal vir my baie erg wees, want ek sien al baie lank daarna uit om VSA toe te gaan en daar deel te neem. Ek het die hele jaar hard gewerk om dit moontlik te maak om hopelik goed te presteer en nie net my dorp nie, maar ook die hele land trots te maak.”
Matao is met sy uitmuntende prestasies die afgelope tyd werklik nie net die trots van Caledon en die Overberg nie, maar van die hele land en verdien om aan dié kampioenskap deel te neem, is die algemene gevoel. Deelname aan dié kampioenskap is nie net ‘n betekenisvolle mylpaal in enige atleet se loopbaan nie – dit verskaf internasionale blootstelling, ontwikkelingsmoontlikhede en kan die weg baan na senior internasionale sukses.
ASA het in ‘n mediaverklaring gesê hy kan weens ernstige finansiële beperkings en administratiewe uitdagings binne die federasie nie die atlete volledig vir die wêreldkampioenskap finansier nie. “Met beperkte hulpbronne en ‘n gebrek aan korporatiewe borgskappe, vereis ASA dikwels van junior atlete om tot R30 000 elk in te samel om vlugte, visums en ander reisuitgawes na internasionale byeenkomste te dek,” het die persverklaring gelui.
Asa se begroting ‘onder groot druk’
Verder het ander bronne dit duidelik gemaak dat ASA se begroting onder groot druk is weens administratiewe probleme, toenemende skuld en ‘n gebrek aan stelselmatige belegging om jong atlete te ontwikkel.
Nadat dit aan die lig gekom het dat ASA nie alle kostes gaan dek nie, het menige sportliefhebber hulle tot Facebook gewend om hul stem dik te maak.
Van die Facebook-gebruikers is van mening dat die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, van die geld wat die afgevaardigdes wat Bafana Bafana in die Wêreldbeker ondersteun het, kon gebruik het om die jong atlete te help.
Volgens berigte is R19,2 miljoen gebruik om amptenare, legandariese Bafana Bafana-spelers en kunstenaars na die Wêreldbeker te stuur.
• Die beraamde koste vir die visumaansoek is R4 500 en vir die vliegkaartjies nog R30 000. Volgens inwoners verdien Matao dit om dié kampioenskap by te woon. Bydraes vir sy onkostes sal opreg waardeer word. Bankbesonderhede vir enige bydrae is:
M.V. Jonkers
Capitec Bank: Takkode 470010
Spaarrekening
Rekeningnommer: 1377428417
Verwysing: Matao le Roux.
• Bel Maeve Jonkers by 072 530 5902 vir nog inligting.


