Vir dié wat deur die skoonheid, biodiversiteit en bewaringswaarde van die Wes-Kaapse kuslyn bekoor word, wag ‘n heerlike verrassing.
Hey Skipper, ‘n nuwe reeks wat die eerste keer op 4 Julie op kykNET verskyn het, gaan jou voor die televisie vasgenael hou. Die reeks word deur die avonturier Dewald Visser vervaardig en aangebied. Hey Skipper neem kykers op ‘n reis na van die wêreld se mees asemrowende mariene-omgewings en verken die verhouding tussen mense, water en bewaring.
As deel van die reeks oor 13 episodes sal die Wes-Kaapse Mariene Beskermde Gebiede (MBG) uitgelig word. Die ses gebiede wat deur CapeNature bestuur word, naamlik Robberg, Goukamma, Stilbaai, De Hoop, Bettysbaai en Rocherpan, word besoek terwyl natuurreservate soos Lambertsbaai-voëleiland, Walvisbaai, De Mond, Dyer-eiland, Keurbooms en Geelkrans ook ingesluit sal word.
Die episodes fokus op die belangrike werk wat mense doen om die ekostelsels te beskerm.
“Storievertelling het die vermoë om mense met die natuur te verbind en kykers sal deur Hey Skipper die kuslyn van die Wes-Kaap kan beleef terwyl hulle meer leer oor die werk wat gedoen word om hierdie ekostelsels te bewaar,” het dr. Ashley Naidoo, die uitvoerende hoof van CapeNature, gesê.
“Hierdie beskermde gebiede vervul ‘n belangrike rol in die handhawing van gesonde oseane, die ondersteuning van biodiversiteit en die skep van geleenthede vir volhoubare natuurgebaseerde toerisme.”
Volgens Visser is die doel van die reeks om kykers te inspireer om die avontuur, skoonheid en bewaringsverhale langs kuslyne oor die wêreld heen te ontdek. “Elke bestemming het ‘n storie om te vertel en ons oseane is gevul met ongelooflike mense, plekke en bewaringspogings. Elke episode sal die belangrikheid van die begrip en beskerming van oseaanomgewings, wat beide die natuur en omliggende gemeenskappe onderhou, beklemtoon.”


