Matao le Roux van Caledon is nou na die afgelope ASA- senior atletiekkam­pioenskap ook as die senior hoogspringkampioen aangewys.

Matao le Roux van Caledon nou ook die senior hoogspringkampioen

Matao le Roux van Caledon is nou na die afgelope ASA- senior atletiekkam­pioenskap ook as die senior hoogspringkampioen aangewys.

Die 17-jarige Matao le Roux van Caledon het die Suid-Afrikaanse junior hoogspringkampioen geword.

Slegs drie weke later – die afgelope Vrydag 17 April – het hy die haas onmoontlike vermag toe hy by Atletiek Suid-­Afrika (ASA) se senior nasionale kampioenskap in Stellenbosch die senior titel met ‘n sprong van 2.05 m gewen het. Dit is gewis ‘n besondere prestasie – veral as ‘n mens die ongunstige weersomstandighede tydens die kampioenskapsbyeenkoms in ag neem.

Oor sy uitsonderlike prestasie sê Matao: “Ek kan nog nie glo dat ek nou ook die SA senior champ is nie. Dis my eerste jaar dat ek aan seniors deelneem en om so ‘n goeie prestasie te behaal, is iets wat ek amper nie kan glo nie. Ek voel baie goed oor my hoogte van 2.05 m. Om in die reën te spring, was baie bad, maar ek het steeds my beste gegee. Ek wil ook dankie sê vir my afrigter en my ma wat altyd daar is vir my asook vir die Here wat altyd by my is om my te alle tye en in alle toestande deur te dra en ‘n goeie resultaat te gee.”

Heinrich Fortuin, Matao se afrigter, sê “Matao se deelname aan die Suid-Afrikaanse senior kampioenskap was ‘n geleent­heid om aan ‘n kompetisie van hoogstaande gehalte deel te neem, veral omdat hoogspringers soos Breyton Poole en Taylin Smith, wat al voorheen goeie hoogtes bereik het, ook deelgeneem het.

“Selfs die feit dat dit die hele tyd gedurende die kompetisie gereën het, kon nie Matao se geesdrif keer nie. Hy was, soos gewoonlik, baie opgewonde om te spring, maar terselfdertyd ook kalm, vol selfvertroue en reg vir die oomblik.

“Ons het van die begin af geweet dat daar weens die reën nie baie goeie hoogtes gespring sou word nie en dit het neergekom op wie die weersomstandighede die beste hanteer.”

“Matao is vir eers klaar met kompetisies vir April en ons sien uit na die onderbreking waar die fokus vir die volgende paar weke gaan wees om hard te oefen.

“Ons wag dan vir die aankondigings vir spanne waarvoor hy moontlik gekies kan word, naamlik die span wat Suid-Afrika by die o.20-wêreldkampioenskap asook die Jeug- Olimpiese Spele kan gaan verteenwoordig,” sê Fortuin.

Maeve Jonkers, Matao se ma, het gesê toe hulle uitvind Matao is vir die Boland- senior span gekies, was dit ‘n groot voorreg en eer, want nie baie juniors word vir die senior span gekies nie. Matao se hoogtes was konstant bo 2 m met ‘n persoonlike beste van 2.15m.

“Jy het mos al in die reën gespring terwyl jy boonop nog siek was ook, so doen net jou beste, dis goed genoeg vir my,” het sy aan haar seun gesê toe hulle die weer sien terwyl hulle op pad Stellenbosch toe was.

Jonkers het vertel die atlete het in die reën een vir een uitgeval totdat net Matao en Breyton Poole oor was. “Hulle het die vorige Vrydag ook teen mekaar gespring en hoewel hulle dieselfde hoogte gespring het, is Poole eerste geplaas,” sê Jonkers.

“My hart het in my keel gesit toe Matao 2.05m gespring en gewen het. Vir ‘n junior om die junior en senior nasionale hoogspringtitels in dieselfde jaar te wen, is fenome­naal. Ek bars van trots. Baie dankie aan Matao se afrigter, Heinrich Fortuin.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article