Hardloper sterf in Bloemfontein.
Hardloper sterf in Bloemfontein. FOTO: Facebook

Hartseer oor atleet se dood kort voor Absa Run Your City Mangaung 10K


BLOEMFONTEIN – Terwyl duisende atlete Sondag 25 Oktober die Absa Run Your City Mangaung10K gehardloop het, heers daar groot hartseer oor een deelnemer wat dit nie gemaak het nie.

Janus Erasmus het verlede week Dinsdag ter voorbereiding van dié wedloop tydens ‘n drafsessie kort voor 08:00 inmekaargesak en sy kop het ‘n randsteen getref.

Hy het in Dan Pienaarrylaan gehardloop toe die voorval plaasgevind het en hy is na die Mediclinic Bloemfontein geneem waar hy die volgende oggend oorlede is.

Janus Erasmus.
Janus Erasmus. FOTO: Facebook

Janus was met sy dood die hoof van die finansiële afdeling en lid van die uitvoerende bestuur van Landmark.

Sy kollegas sê hy sal onthou word vir sy warmte, wonderlike sin vir humor, lojaliteit en sterk werketiek. In ‘n inskrywing op Landmark se Facebookblad, sê sy kollegas hy was hoogs intelligent en het ‘n wye reeks belangstellings gehad. “Hy word onthou vir sy vriendelikheid, sin vir humor, lojaliteit, harde werk en bereiheid om altyd te help. Sy afwesigheid laat ’n groot leemte wat nie maklik gevul sal word nie.”

Hy was ‘n oud-leerder van die Hoërskool Sentraal (2013) en het daarna sy studies aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Die skool het op sy Facebookblad hulde aan hom gebring en meegevoel met sy familie en vriende getuig.

Janus se gedenkdiens vind Maandag 2 November om 11:00 in die Bloemfontein Baptiste-kerk plaas

Hy laat sy vrou, Sunite, en hul twee kinders na, asook sy ouers, Jan en Isabel Erasmus.

ALSO READ: Top runners aim high in final Run Your City in Bloemfontein.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article