KEMPTON PARK – Solidariteit Helpende Hand het Vrydag 24 April op Wêreldboekedag ‘n nuwe vroeëkinderontwikkelingshandleiding bekend gestel wat as kurrikulum by sy Ons Plek-kleuterskole landwyd gebruik gaan word om die ontwikkeling van jong kinders in gemeenskappe te versterk.
Die handleiding, Vroeëkinderontwikkeling: Ons Plek – ‘n Vaste fondament, is die resultaat van vier jaar se navorsing, ervaring in die praktyk en samewerking met kundiges van die Noordwes-Universiteit, asook kundiges uit Helpende Hand se geledere.
Die amptelike bekendstelling het by Ons Plek Kempton Park plaasgevind, met gaste uit die Solidariteit Beweging en akademiese vennote teenwoordig.

Holistiese ontwikkeling
Die handleiding word as baanbrekend beskou omdat dit akademiese navorsing en praktiese gemeenskapswerk integreer in ‘n toeganklike Afrikaans-medium gids vir versorgers en opvoeders.
Dit bied gestruktureerde, toepaslike riglyne vir die holistiese ontwikkeling van jong kinders en stel ‘n konsekwente benadering tot vroeë leer in gemeenskapsgebaseerde sentrums voor.
Volgens Suzette Oosthuizen, Solidariteit Helpende Hand se hoof van Ons Plekke en Sentrums, lê die waarde van die projek in die direkte impak op kinders se lewens.
“Hierdie handleiding is die vrug van vier jaar se toewyding. Dit was ‘n pad van navorsing, praktyk en die begeerte om kennis verder oor te dra. Dit is nie iets wat net op papier bestaan nie, maar iets wat werklik in die lewens van ons kleuters belê word. Ons glo dat elke belegging in ‘n jong kind se ontwikkeling ‘n belegging in die toekoms is,” sê sy.
Langtermynvisie
Oosthuizen sê die vroeë kinderjare is waar die grondslag vir leer, gedrag en welstand gelê word. Hierdie handleiding bring akademiese kennis en praktiese gemeenskapswerk bymekaar om te verseker dat kinders nie net versorg word nie, maar werklik ontwikkel en floreer.
Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is die projek gewortel in die organisasie se kernmissie van gemeenskapsontwikkeling.
Dr. Susan Greyling van die Noordwes-Universiteit wat by die ontwikkeling van die handleiding betrokke was, beskryf dit as die vervulling van ‘n langtermynvisie: “Hierdie projek het oor vier jaar gegroei uit ‘n gedeelde droom. Vandag sien ons dit realiseer in ‘n praktiese hulpmiddel wat opvoeders toerus om kinders doelgerig te ontwikkel en begelei.”
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, word ’n gemeenskap gemeet aan hoe hy sy mees weerlose mense hanteer. “Ware voorspoed lê nie in finansiële welvaart nie, maar in hoe goed dit met ons kinders gaan. As ’n kind reeds as kleuter begin agter raak, bly hy dikwels agter. Daarom is hierdie handleiding so belangrik want dit help om daardie gaping vroeg reeds te oorbrug,” sê Buys.
Die publikasie dien as ‘n gestruktureerde riglyn om versorgers en opvoeders toe te rus met die nodige kennis en hulpmiddels om kinders se fisiese, emosionele, sosiale en kognitiewe ontwikkeling te ondersteun.
Dit sal binnekort te koop aangebied word vir die publiek.






You must be logged in to post a comment.