BLOEMFONTEIN – Werkloosheidsvlakke in Suid-Afrika het kritieke vlakke bereik en daadwerklike stappe is nodig om te help om werksoekers hoop te gee.
Dit was die boodskap op Solidariteit Helpende Hand Vrystaat se netwerk-ontbyt op 9 April by Urth in Bloemfontein.
Die uitgebreide werkloosheidskoers draai steeds naby 32%, terwyl werkloosheid onder die jeug selfs hoër is. Hierdie werklikheid plaas nie net druk op huishoudings se finansies nie, maar raak ook mense se eiewaarde, geestesgesondheid en die stabiliteit van die gesin in die gemeenskap.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê Suid-Afrikaners word al armer. “Meer as 30 miljoen mense in dieland leef van staatstoelae waarvan 12 miljoen tydelike toelae ontvang. Dit is ‘n baie hoë getal as ‘n mens in ag neem dat net 7.7 million mense inkomstebelasting betaal en dus indirek vir dié 30 miljoen sorg.”
Byna die helfte van Suid-Afrikaanse Huishoudings (47.9%) leef op ten minste een vorm van maatskaplike toelae.
“Verder is daar in ons land ongeveer 300 000 niewinsgewende organisasies en kerke wat gemeenskappe en individue in nood ondersteun.”
Noëth sê dit is tyd dat daar in Suid-Afrika gefokus word op werksyn in stede van welsyn. “Ja, ons moet omsien na die bejaardes, mense met getstremdhede en kinders. Maar daar moet baie meer gedoen word om diegene wat nie werk nie, te help om te werk.”
In ‘n soeke na oplossings, het Solidariteit Helpende Hand die Toekomsbrug-inisiatief ontwikkel in samewerking met die niewinsgewende organisasie Jakob se Put.

In ander gemeenskappe is reeds bewys dat dit ‘n betekenisvolle verskil kan maak. Hierdie inisiatief bied nie net praktiese ondersteuning vir werksgeleenthede nie, maar skep ook ‘n ondersteuningsnetwerk waar deelnemers hoop, rigting en selfvertroue kan herwin totdat hulle weer die werksmag betree.
“Die Toekomsbrug vir mense tussen werke gaan nie net daaroor om ‘n werk kry nie, maar om mense te help om weer hul waarde raak te sien en met hoop vorentoe te beweeg,” sê Hannie Viljoen, bestuurder van Solidariteit Helpende Hand se Gemeenskapsjaar.
“Ons sien daagliks hoe werkloosheid mense emosioneel, geestelik en fisiek raak. Hierdie inisiatief skep ‘n ruimte waar mense nie alleen staan nie, maar deel word van ‘n netwerk wat hulle ondersteun en toerus met hoop vir die toekoms.”
Die Solidariteit Helpende Hand Toekomsbrug fokus op die ondersteuning van werksoekers om hulle netwerke vir werksgeleenthede uit te brei. Dit sluit ook samewerking met en die fasilitering van verskeie netwerke in die gemeenskap in om werksoekers holisties te ondersteun met die bou van professionele netwerke. Deelnemers word aangemoedig om hul gawes en vaardighede opnuut te verken en doelgerig te ontwikkel vir nuwe werksgeleenthede.
Solidariteit Helpende Hand Toekomsbrug sal binnekort amptelik in Bloemfontein te begin nadat dit reeds suksesvol in Delmas gestig is.
As deel van hierdie proses het Solidariteit Helpende Hand ook ‘n gratis omvattende fasiliteerdersgids ontwikkel. Dit dien as ‘n praktiese hulpmiddel vir ander dorpe en gemeenskappe wat soortgelyke inisiatiewe wil begin en bied duidelike riglyne vir die vestiging en bestuur van die inisiatief.
Viljoen sê Helpende Hand glo dat volhoubare verandering begin waar gemeenskappe self verantwoordelikheid neem en saamwerk om oplossings te vind.
Vir meer inligting oor die inisiatief of om die gids te verkry, stuur ‘n e-pos aan hannie@helpendehand.co.za.






You must be logged in to post a comment.