WORCESTER – Die polisie het Donderdag (7 Mei) met ’n grootskaalse soektog in die berge van die Du Toitskloofpas begin nadat ’n man, wat vroeër by die Du Kloof Lodge aan die Worcester-kant van die tonnel ingeboek het, spoorloos verdwyn het.
Die vermiste man is die 29-jarige Michael Waltman van Kuilsrivier. Volgens Waltman se bekommerde ma, Alex, het haar seun Dinsdag (5 Mei) alleen by die Du Kloof Lodge ingeboek. Hy wou op ’n oornagstaptog in die berge gaan, maar is glo nie toegelaat om dit te doen nie.
Personeel by die lodge het glo Michael se kamerdeur Woensdagoggend vroeg oopgesluit gevind. Alex sê daar word vermoed dat hy Dinsdagaand tog wel met sy oornagstaptog begin het. Volgens Alex het sy Michael Maandag probeer bel, maar sy selfoon was afgeskakel.
Sy vertel dat sy die lodge die Woensdag gebel het omdat sy ’n snaakse gevoel oor haar seun gehad het. Toe sy bel, was die polisie glo reeds by die lodge. Hulle het haar meegedeel dat Michael vermis is en haar ’n klomp vrae gevra.
Volgens Alex het personeel van die lodge en die polisie toe reeds in die onmiddellike omgewing na Michael begin soek. Sy sê al sy bagasie – behalwe sy selfoon en beursie – was nog in sy kamer. Sy motor was ook nog in die lodge se parkeerterrein geparkeer.
Sy sê nadat sy Michael Woensdagaand as vermis by die Paarl-polisie aangemeld het, het sy onmiddellik na die lodge vertrek. Volgens Alex soek die polisie in samewerking met onder meer CapeNature sedert Donderdag na Michael in die bergagtige gebied. Die soektog het tot dusver niks opgelewer nie.
Sy sê daar was gerugte dat haar seun langs ’n rivier gewaar is terwyl hy in die rigting van Worcester stap, maar dit kon nie bevestig word nie. Volgens haar is dit ook onbekend wat hy ten tyde van sy verdwyning gedra het. Die ma sê dit is die eerste keer dat haar seun vermis raak.
Michael is volgens Alex ongetroud, het geen kinders nie en is werkloos.
Nova News het na die polisie uitgereik, maar het teen die tyd van publikasie nog op hul kommentaar gewag.






