’n Kinderdroom wat oor 800 km strek, is besig om vir Clinton Visagie (26) van Gqeberha ’n werklikheid te word. Hy hardloop van Nelson Mandelabaai tot by Kaapstad om bewusmaking en ondersteuning vir kwesbare kinders, gesinne en mense wat haweloosheid ervaar, te skep.
Visagie het op 10 Oktober alleen met net ’n tent en slaapmat vertrek. Hy het Woensdag (4 November) deur die Hugenote-tonnel by die Paarl Boutique Hotel aangekom.
“Toe ek op 10 Oktober begin het, het Kaapstad so ver gevoel. Nou, hier in die Paarl, kan ek sien hoe die droom ’n werklikheid word,” sê hy.
Die hardloopuitstappie, bekend as The Charity Run 2026, ondersteun die Healing Hands Community Project en die werk wat dié organisasie in gemeenskappe doen.
“Ek wou hê my hardloopuitstappie moes ’n doel hê wat verder strek as persoonlike prestasie. Ek hoop dat meer mense deur my poging van hul werk bewus sal word en saam met my ’n verskil sal maak,” sê Visagie.
’n Kinderdroom word werklikheid
Sy liefde vir hardloop het begin toe hy ’n leerder aan die Kabega Park Primary School in Gqeberha was.
Visagie het in 2010 aan sy eerste Clover 5 km-wedloop deelgeneem. Dié ervaring het die grondslag gelê vir ’n groter droom – om eendag van Nelson Mandelabaai tot in Kaapstad te hardloop.
Hoewel hy die tog aanvanklik alleen aangepak het, sê hy die ondersteuning van gemeenskappe met Roete 62 langs was een van die hoogtepunte.
Inwoners het hul huise vir hom oopgemaak en kos, slaapplek en selfs fisioterapie aangebied.
“Hierdie mense hoef my nie te help nie, maar hulle kies om dit te doen. Dit het my herinner dat goedhartigheid steeds lewendig is in ons gemeenskappe,” sê hy.
Die fisieke eise van die tog was ook groot. Visagie sê hy het reeds 20 kg verloor en moes leer om na sy liggaam te luister en herstel net so belangrik soos hardloop te ag.
Meer as net ’n eindstreep
Vir Visagie gaan die tog oor meer as die afstand wat hy aflê. Hy wil veral aan kwesbare mense die boodskap oordra dat hulle nie vergeet of alleen is nie.
“Ek hoop dat my reis selfs net een kind kan inspireer om aan te hou droom of een gesin hoop kan gee dat dinge beter kan raak,” sê hy.
Visagie beplan om Saterdag (7 November) by die V&A Waterfront oor die eindstreep te hardloop.
Sy eerste prioriteit wanneer hy daar aankom, is om dankie te sê.
“Ek wil eerstens vir God dankie sê dat Hy my deur hierdie reis gedra het. Ná 800 km wil ek net vir ’n oomblik stilstaan, alles inneem en besef dat ’n kinderdroom uiteindelik waar geword het.”
Hy beklemtoon die projek gaan nie by die eindstreep eindig nie, maar die doel is om ook daarna hoop te bly bring.
LEES OOK: Princess Catherine completes mountain challenge to support cancer charity





