Gesinne verduur al vier maande ongerief in ‘onveilige’ saal

rooibrug
‘n Gedeelte van die Rooibrug tussen Robertson en Bonnievale het ook met die Mei-vloede weggespoel. Foto: Francois Lombard/Argief

Gesinne verduur al vier maande ongerief in ‘onveilige’ saal

rooibrug
‘n Gedeelte van die Rooibrug tussen Robertson en Bonnievale het ook met die Mei-vloede weggespoel. Foto: Francois Lombard/Argief

Dis nou al amper vier maande wat hulle ongemak verduur en geen privaatheid het nie.
So sê Anna Sass (64) van die plaas Van Loveren. Sass is deel van vyf huisgesinne wat sedert Mei vanjaar as gevolg van die verwoestende reën- en windstorm in ‘n skoolsaal – – sowat ‘n kilometer vanwaar hul oorspronklike wonings is – gehuisves word omdat hul wonings erge skade in die storms gely het.

LEES: Agri Wes-Kaap waarsku oor groot landbouskade ná verwoestende vloede

Van Loveren is langs die R317-streekspad in die Breedevallei tussen Robertson en Bonnievale.

“Hier is bejaardes en kinders. Die jongste kind is maar twee jaar oud. Hulle is besig om vir ons behuising te kry, maar dit neem nog tyd. Ons huisies is so beskadig dat ons nie meer daarin kon woon nie. Mure het losgekom en die huises is vol sand en modder. Die ander gesinne wie se huise beskadig is, woon by familie.

Volgens haar het hulle geen privaatheid in die skoolsaal nie. Sass sê hulle het net een wasbak wat almal deel. “Van ons maak sommer vir ons water warm, gooi dit in ‘n emmetjie en was ons in die toilet. Dis nogal koud hier in die saal.

“Ons weet nie of hulle besig is om vir ons nuwe huise te bou nie. Hulle het nie aan die begin gesê hoe lank ons in die saal gaan bly nie.”

Past. Nicolaas Burger, ‘n gemeenskapsleier, se sowat 30 mense word tans in die saal gehuisves. Hy se die plek waar die inwoners gehuis word, is onveilig omdat daar geen beligting en omheining is nie.

Hein Otto, ‘n praktiserende prokureur vir Otto Theron Prokureurs, wat namens Van Loveren Vineyards (Edms) Bpk en die nege affekteerde huishoudings optree se die strukturele skade aan plaashuise op Van Loveren as gevolg van die verwoestende reën- en windstorm is van so aard dat verdere bewoning ’n onaanvaarbare risiko vir die veiligheid van die inwoners sou inhou.

“Ons bevestig dat nege huishoudings ná die ernstige oorstromings van Mei 2026 uit nege afsonderlike wonings op Van Loveren ontruim moes word. Die ontruiming het plaasgevind nadat waarskuwings oor stygende watervlakke ontvang is en met die oog op die veiligheid van die betrokke inwoners.”

“Al nege die betrokke wonings is ernstig beskadig. In sommige gevalle is die strukture wesenlik vernietig. In die oorblywende gevalle is die strukturele skade volgens die beskikbare beoordeling van so ’n aard dat verdere bewoning ’n onaanvaarbare risiko vir die veiligheid van die inwoners sou inhou.”

Otto sê die skade is nie van die beperkte aard wat bloot deur gewone herstelwerk reggestel kan word nie, en die huishoudings kan gevolglik nie na die bestaande strukture terugkeer nie.

Volgens hom is dit ongelukkig nie moontlik om ’n datum vir terugkeer te verskaf nie, aangesien die bestaande wonings nie veilig herbewoon kan word nie.

Hy sê Van Loveren en die nege geraakte huishoudings het gevolglik ’n aansoek by die Grondhof ingestel teen die betrokke nasionale en provinsiale departemente, die Langeberg-munisipaliteit en die betrokke ampsbekleërs.

Volgens hom word die hof onder meer versoek om die staatsorgane te gelas om die huishoudings se omstandighede en kwalifikasie vir noodbehuisingshulp te verifieer, geskikte tydelike noodakkommodasie met basiese dienste te voorsien en daarna permanente geskikte alternatiewe akkommodasie te bewerkstellig.

“Aangesien die aangeleentheid voor die hof dien, kan ons nie vooruitloop op die hof se beslissing of ’n tydsraamwerk waarborg wat van die optrede van die staatsorgane afhanklik is nie.”

Otto sê Van Loveren het sedert die ontruiming, binne sy beskikbare vermoë, omvattende bystand aan die huishoudings verleen. Dit sluit onder meer die volgende in:

  • Vervoer tydens die ontruiming en die berging van geredde huishoudelike besittings;
  • Tydelike huisvesting van die meerderheid van die huishoudings in die Goudmynsaal op die plaas;
  • Die voorsiening van kos, water, elektrisiteit, skoonmaakmiddels en ander basiese benodigdhede aan die huishoudings in die saal;
  • Ondersteuning met die vervanging van identiteitsdokumente en ander dokumentasie wat in die vloed verlore geraak het;
  • Hulp met skool-, gesondheids- en emosionele ondersteuningsbehoeftes;
  • Finansiële hulp vir die vervanging van meubels aan huishoudings wat reeds elders gehuisves kon word, met ’n onderneming om soortgelyke hulp aan die oorblywende huishoudings te verleen wanneer hulle geakkommodeer word; en
  • Pogings om tydelike huurakkommodasie te bekom en verdere fondse vir hulpverlening in te samel.

Hy sê die gemeenskapsaal is egter slegs as ’n onmiddellike noodmaatreël beskikbaar gestel en is nie ontwerp of geskik as langtermynbehuising vir verskeie huishoudings nie.

    “Van Loveren bly bereid om, binne sy vermoë, met die staatsorgane saam te werk om ’n werkbare oplossing te implementeer.”

    LEES OOK: Flood-damaged wine bottles become symbols of hope

    NovaNews WhatsApp channel QR code

    You need to be Logged In to leave a comment.

    Gift this article