Jabulile Hlongwane with some of the vegetables.
Jabulile Hlongwane with some of the vegetables.

PHUTHADITJHABA – Die Mofumahadi MaMontoeli Mota-groenteprojek van die Batlokoa Ba Mota-kultuurgemeenskap in Tsheseng, Phuthaditjhaba in die Vrystaat, maak ‘n groot bydrae tot die ekonomie in die streek. Die groep slaag die afgelope paar weke daarin om genoeg groente aan ‘n plaaslike voedingskema te voorsien en daarby ‘n surplus wat deur die gemeenskapslede verkoop word.

Die groenteprojek is ’n gesamentlike inisiatief van die uitvoerende komitee van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers (NHTKL), AfriForum, Saai en die kantoor van die tradisionele leier Montoeli Mota van die Batlokoa Ba Mota. Die geskiedkundige vennootskap is tot stand gebring as deel van die eerste jaarlikse Lenaka-gedenklesing wat aan die einde van 2024 by die Manthatisi Hoërskool gehou is. AfriForum en Saai ondersteun die projek deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN).

Die verkope van die groente maak ’n wesenlike bydrae daartoe om gemeenskapslede se sosio-ekonomiese omstandighede en toegang tot bekostigbare, voedsame kos in die gebied te verbeter. Spinasie, wortels, pampoen en uie is met sukses geproduseer. Dit volg op die opleiding in groenteproduksie wat gemeenskapslede in Desember ontvang het en die suksesvolle installering van ’n sonkrag-aangedrewe drupbesproeiingstelsel in September.

'n Groenteprojek in Tsheseng lewer genoeg om 'n ekstra inkomste vir 'n gemeenskap te bring.
Met groente van die groenteprojek is van links Ouma Mashoko, Mphuthi Jaco en Mamotseare Pitso. FOTO’S: Verskaf

“Ek is baie trots op ons gemeenskapslede wat deur hul harde werk en deursettingsvermoë daarin slaag om meer groente te produseer as wat die voedingskema nodig het en wat hulle in staat stel om ook ’n inkomste te verdien,” sê Mota. “Ek is ook trots dat hulle die kennis en vaardighede wat aan hulle oorgedra is, met sukses gebruik omdat dit dien as bewys van die potensiaal wat in landelike gebiede deur die regte ondersteuning ontsluit kan word.” Ek hoop hierdie sukses motiveer ander rolspelers om ook deel van die projek te word sodat dit tot sy volle potensiaal kan ontwikkel.”

Hy sê die jaarlikse Lenaka-gedenklesing dien nie slegs as ’n platform om die Sotho-erfenis en kulturele identiteit te vier nie, dit fokus ook daarop om ontwikkeling binne tradisionele gemeenskappe te bevorder. “Die sukses van hierdie projek bevestig die positiewe rol wat tradisionele leiers en tradisionele leierskapstrukture, soos die NHTKL en provinsiale huise, in die sosio-ekonomiese ontwikkeling van voetsoolvlakgemeenskappe kan speel wanneer opregte vennootskappe met ’n gedeelde visie en waardes tot stand gebring word,” sê kgosi Thabo Seatlholo, voorsitter van die NHTKL.

'n Groenteprojek in Tsheseng lewer genoeg om 'n ekstra inkomste vir 'n gemeenskap te bring.
‘n Groepie gemeenskapslede in die tuin in Tsheseng.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, is goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe, gegrond op wedersydse erkenning en respek, noodsaaklike boustene vir die versekering van vreedsame en voorspoedige naasbestaan in die land. “Talle gemeenskappe het groot uitdagings wat slegs deur gemeenskapsbou opgelos kan word. Dit is verblydend om te sien hoe hierdie projek gemeenskapselfstandigheid tasbaar bevorder en ’n positiewe impak op mense se lewens maak,” sê Uys.

Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai, sê talle landelike, kommunale gebiede het goeie landboupotensiaal wat die beste deur die kommersialisering van landboubedrywighede ontwikkel en benut kan word. “Daarom is dit noodsaaklik om die groei van meer kommersiële boere in hierdie gebiede te bevorder waar dit die nodigste is. Projekte soos hierdie skep ontwikkelingsgeleenthede vir kleinboere wat die potensiaal het om tot kommersiële boere te ontwikkel. Dit is daarom vir Saai ’n prioriteit en voorreg om ook by hierdie inisiatief betrokke te wees.”

Die projek is na Mota se ma, koningin MaMontoeli Mota, vernoem. “Goeie dade soos hierdie, wat ’n toekoms vir ons kinders moontlik maak, is die beste manier om ons voorouers se nalatenskap te eer,” sê Mota.

LEES OOK: Jeuglede verf padstrepe om strate om skole veiliger te maak

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article