In ‘n uitspraak wat as baanbrekend beskryf word, het die Gautengse Hooggeregshof die deur oopgemaak vir hernude debat oor private brandweerdienste en het hul rol om hand aan hand saam met openbare brandweerdienste te werk beklemtoon.
Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit saam met die Gautengse departement van samewerkende bestuur en tradisionele sake en dié departement se nasionale eweknie het vroeer vanjaar hulself tot die hof gewend.
In die hof aansoek beweer die munisipaliteit dat Fidelity SecureFire (PTY) LTD en Sinoville-brandbestrydingsvereniging, teen wie aansoek gebring is, die statutêre voorskrifte oortree rakende die lewering van brandbestrydingsdienste in die gebied van die metropool se jurisdiksie.
Met die aansoek het Tshwane gepoog om ‘n interdik te kry teen die twee brandbestrydings entiteite wat hulle sou keer om enige bedrywighede, funksies of aktiwiteite voort te sit wat bestempel word as “dienste” wat gelewer word in terme van die Wet op Brandweerdienste 99 van 1987. Die ander twee applikante het glo die munisipaliteit ondersteun in hul poging om private brandbestrydingsorganisasies te verbied om te bedryf binne hul munisipale gebied.
Hof aansoek faal teen private brandbestryding
Die uitspraak kom dus as ‘n groot verrassing en word vanuit alle oorde ondersteuning en met ope arms ontvang. Die hooggeregshof het intussen die munisipaliteit se aansoek om private brandweerdienste in die metro onwettig te laat verklaar, met koste van die hand gewys.
Die Sinoville-brandbestrydingsvereniging (SBBV), een van die respondente in die saak, is deur AfriForum se regspan verteenwoordig.
Volgens AfriForum het die hof bevind dat die lewering van brandbestrydingsdienste deur private ondernemings aan hul kliënte, asook deur vrywilligers verbonde aan verenigings, nie deur bestaande wetgewing verbied word nie.
Die hof het egter ook beklemtoon dat sodanige private dienste nie die statutêre bevoegdhede van munisipale brandweerdienste mag ondermyn of oorneem soos uiteengesit in die Wet op Brandweerdienste 99 van 1987 nie.
AfriForum het die uitspraak verwelkom en dit as belangrik vir gemeenskappe beskryf waar munisipale brandweerdienste onder druk verkeer. Volgens Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by die organisasie, is samewerking tussen rolspelers noodsaaklik om inwoners se veiligheid te verseker.
AfriForum het verder aangedui dat daar beplan word om formeel met die munisipaliteit in gesprek te tree, met die oog daarop om vorige kommunikasie terug te trek waarin munisipale brandweerdienste ontmoedig is om met organisasies soos die SBBV saam te werk.
DFW se lot eers in Januarie bekend
In die Drakenstein-munisipale gebied heers ‘n soortgelyke verskil tussen die Drakenstein-munisipaliteit en die Drakenstein-plaaswag (DFW). Navrae is gerig aan die munisipaliteit om luister hoe die pad vorentoe lyk vir private brandbestryding binne die gebied. Drakenstein-munisipaliteit se kommunikasie afdeling het egter laat weet dat hulle nie op die stadium terugvoering kan verskaf nie.
“Die navraag wat u geopper het, hou verband met ‘n regsuitspraak en dit is belangrik dat ons reageer met leiding van ons regspan. Hulle is tans nie op kantoor nie en sal terug wees op Maandag, 5 Januarie 2026, so ongelukkig is ons nie in ‘n posisie om nou kommentaar te lewer nie. Ons sal ‘n antwoord kan gee sodra ons regspan die geleentheid gehad het om die saak te hersien.”
In tussen het Laborie-wynlandgoed in die Paarl ‘n kennisgewing uitgesit dat hulle weer oop is.
Die wynplaas wat uit verskeie restaurante en akkommodasie bestaan is Saterdag (20 Desember) hard getref toe ‘n brand by een van die restaurante, Cucina Di Giovanni, en ‘n gedeelte van die akkommodasie uitgebreek het.
In die nuutste verklaring van Laborie sê hulle dat bedrywighede voortgesit sal word op die res van die landgoed soos die oorblywende restaurante en akkommodasie fasiliteite. Hulle het ook almal bedank vir die ondersteuning in hierdie tyd. Beide die munisipale brandweer en Drakenstein-plaaswag was op die toneel.





