Een van Boland se bekendste afrigters, die 61-jarige Alridge Mercuur, is Saterdagoggend (23 Augustus) aan ‘n massiewe hartaanval oorlede. Mercuur het op 12 Augustus ‘n nieroorplanting gehad nadat sy vrou, Cathleen, een van haar niere aan hom geskenk het.
Mercuur het as afrigter by klubs in die Boland en by die Stormers diep spore in rugby getrap. Hy het ook die Suid-Afrikaanse o.21-span in 2010 afgerig.
Die gemeenskap van Robertson het met groot hartseer van sy onverwagse afsterwe verneem en huldeblyke het van oral ingestroom.
Die span wat hy tans afgerig het, Worcester Villagers, het die tyding van sy afsterwe Saterdagoggend, kort voor hul vertrek na Touwsrivier, ontvang. Hulle gaan hul deelname aan die Top-12-kompetisie aan hom opdra.
Alridge, ‘n gebore en getoë Robertsonner, het sy skoolloopbaan aan die Laerskool De Villiers en Langeberg Sekondệr voltooi. Hy het sy tersiệre opleiding aan die destydse Pentech – deesdae die Kaapse Skiereiland- Universiteit van Tegnologie (KSUT) voltooi.
Sy onderwysloopbaan het by Arcacia Sekondệr in Bonteheuwel begin, waarna hy by Ashton Sekondệr gewerk het voordat hy na die Hoërskool Bonnievale toe is, waar hy Sakestudies gegee het. Hy het die onderwys in Augustus 2022 weens gesondheidsredes halt geroep.
Mercuur was lank by Boland Rugby betrokke en het veral op die ontwikkeling van jong rugbyspelers gefokus. Hy het ‘n Vlak 3- internasionaal geakrediteerde afrigtingsertifikaat gehad en is as een van net ‘n handjievol elite-afrigters gereken. Hy is ook nie net in 2010 as afrigter van die SA o.21-span aangewys, wat onoorwonne was, nie maar was ook van 1993 tot 1997 deel van die Stormers se afrigterskorps onder leiding van Harry Viljoen en Alan Solomons.
Mercuur was ook betrokke by verskeie amateurklubs, waaronder Robertson, voordat hy in 2018 by Worcester Villagers as hoofafrigter aangestel is. Intussen het sy niere probleme begin gee en het hy ook nierdialise begin ondergaan. Hy moes egter in 2020 ‘n driedubbele hartomleidingsoperasie ondergaan en boonop het hy ook intussen Covid-19 opgedoen. Nadat verskeie toetse bevestig het dat sy vrou Cathleen – ‘n nooi Smith, met wie hy reeds 28 jaar getroud was – ‘n geskikte nierskenker kan wees en sy onmiddellik ingestem het om haar een nier vir hom te skenk – het die proses begin om haar voor te berei vir die operasie wat in die Christian Barnard-gedenkhospitaal sou plaasvind.
Mercuur was die afgelope paar jaar (sedert 2021) direkteur van afrigting by Worcester Villagers en het Villagers van die negende posisie op die punteleer ná ‘n paleisrevolusie, waar Villagers bykans sy hele A-span verloor het, gebrei dat hulle die afgelope twee seisoene Top-12-status bereik het.
Nadat die oorplantingproses in 2022 weer begin het, het talle struikelblokke opgeduik. ‘n Datum is uiteindelik vir 12 Augustus vanjaar bepaal. Die operasie het seepglad verloop en hoewel daar aanvanklik bloed in sy kateter ontdek is, wat dit nie ernstig nie. Hy kon selfs op sy eie urineer, wat ‘n bewys is dat sy niere op hul eie funksioneer het, het die familie gesê.
Hy het egter Saterdagoggend ‘n massiewe hartaanval gehad, wat uiteindelik tot sy dood gelei het.
Mercuur, wat naas sy vrou ook twee kinders – ‘n seun, Aran en ‘n dogter, Caitlin – asook ‘n enigste broer, Rossouw, agterlaat, word na alle waarskynlikheid Saterdag ná ‘n begrafnisdiens veras. ‘n Roudiens is Woensdagaand (25 Augustus), gehou. – Alver Uys





