SALDANHA – Honderde geesdriftige ondersteuners van die Patriotic Alliance (PA) het die Dial Rock-saal in Saldanha Sondag 15 Maart volgepak vir die bekendstelling van die Joshlin Smith-stigting, amptelik bekend as die J.S.Foundation. Familielede van Joshlin het dit ook bygewoon.
Dié stigting is van stapel gestuur om te help met die soektog na die vermiste Joshlin Smith en ander vermiste kinders.
Joshlin het op 19 Februarie 2024 spoorloos verdwyn by haar plakkershut in die Middelpos- informele nedersetting, Saldanha.
Haar ma, Kelly Smith, Steveno van Rhyn en Boeta Appolis, is in Mei verlede jaar lewenslank gevonnis vir mensehandel en tien jaar vir ontvoering. Joshlin word steeds vermis.
Die amptelike bekendstelling van die stigting, is gelei deur Gayton McKenzie, die leier van die PA en huidige Nasionale Minister van sport, kuns en kultuur.

McKenzie het tydens die byeenkoms onthul dat hy binnekort inligting en verklarings oor Ayanda Letoni, een van die hoofkarakters in die destydse verdwyning van Joshlin, aan prof. Firoz Cachalia, die waarnemende nasionale minister van polisie, gaan verskaf. Letoni bevind hom tans in die Oos-Kaap.
Litoni het destyds, tydens Joshlin se verdwyning, ‘n motorwas-besigheid in Diazville besit. Hy was Rens Lombaard, een van die staat se getuies in die hofsaak, se kêrel.
Die nuwe inligting oor Litoni se beweerde betrokkenheid by die Joshlinsaak, is deur private speurders, wat McKenzie aangestel het, bekom.
“Die laaste keer wat ek private speurders betaal het, was 20 dae gelede, toe hulle ‘n klopjag op Ayanda se huis in die Oos-Kaap uitgevoer het.”
Volgens McKenzie het hulle ook onlangs met Rens Lombaard gepraat. “Litoni het blykbaar hulle kind aangerand. Rens is nou bereid om te praat.”
Volgens McKenzie is Litoni die meesterbrein agter Joshlin se ontvoering. “Steveno van Rhyn het reeds destyds, kort ná die voorval, aan my gesê dat Ayanda die kind het. Dit is op video. Die waarheid het in daardie oomblik uitgekom.”
Volgens die PA-leier het hulle Van Rhyn destyds, ná sy bekentenis aan hom, na die plaaslike polisiestasie geneem. Hy beweer dat Litoni egter nooit vervolg is nie weens die inmenging van die destydse LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap.
Volgens McKenzie glo hy dat Joshlin steeds lewe. “Ek gaan die nuwe bewyse (rakende Ayanda Litoni) aan die nasionale minister van polisie oorhandig. Hy is ‘n eerlike man. Wat hy daarmee gaan doen, is sy besluit,” sê McKenzie.





You must be logged in to post a comment.