Foto ter illustrasie: Foto: Franschhoek Wine Valley/ Facebook

‘n Onlangse nuusberig oor drie gevalle van aanvalle en rooftogte op gasteplase in Franschhoek vanjaar, het opnuut opslae gemaak nadat bronne in die berig beweer het die plaaslike polisie sloer om dié sake op te los.

Insidente

In die mees onlangse geval op 2 Augustus is ‘n man en vrou op die Chamonix-wynlandgoed- en gasteplaas naby Uitkykstraat in Franschhoek kort ná middernag oorrompel – só erg dat hulle in die hospitaal opgeneem moes word. Die Paarl Post het berig dat die voorval in die vroeë oggendure plaasgevind het toe drie gewapende rowers by die wyn-en-gasteplaas naby Uitkykstraat in Franschhoek ingebreek en die paartjie aangerand en van verskeie besittings beroof het.

In ‘n soortgelyke voorval sowat ‘n maand tevore is vier vroue op 8 Junie op die Terra de Luc-gasteplaas ook deur drie mans oorrompel. Dit was omstreeks halftwee die oggend. Die verdagtes het blykbaar twee vroue vasgebind en beveel om op die maag te lê terwyl die ander twee vroue op die bed gesit het.

In nog ‘n voorval (op 31 Mei) op die Val d’Or-landgoed in Hoofstraat, is ‘n soortgelyke modus operandi gevolg, waar drie mans toegang tot ‘n wooneenheid verkry en die twee gaste aangeval het deur een in die been te steek. In al die voorvalle is elektroniese toestelle en juweliersware gesteel.

Plaaslike polisie reageer

Volgensl lt.kol. Frederick Rossouw, die bevelvoerder van die Franschhoek-polisiekantoor, word die drie voorvalle steeds ondersoek en is dit volgens hom nie waar dat die plaaslike polisiekantoor sloer om dié sake op te los nie. Rossouw wou egter geen ander kommentaar lewer nie en het die koerant na die provinsiale polisiekantoor verwys wat nie op Paarl Post se navrae gereageer het nie.

Paarl Post wou onder meer weet watter sake word ondersoek en hoe ver die Franshhoek-polisie met hul ondersoek strek.

Die koerant verneem egter dat slegs sake van huisroof aanhangig gemaak is.

Klagtes

Die nuusberig, wat op 27 Augustus in Die Burger verskyn het, beweer die twee slagoffers wat in die jongste voorval op Chamonix aangeval is, het ‘n private speurder aangestel om die voorval te ondersoek.

Die private speurder het toe die bankkaart van een van die slagoffers tot by ‘n winkel in Wellington nagespoor en vasgestel dat dieselfde voertuig in al drie rooftogte en aanvalle vanjaar op kringtelevisie-beeldmateriaal te sien is. Volgens die nuusberig is hierdie inligting aan die Franschhoek-polisie oorhandig.

Rossouw weerlê egter hierdie verklaring en sê die Franschhoek-polisie het geen inligting van die private speurder ontvang het nie. Volgens hom bestaan prosesse vir private speurders om saam met die polisie te werk en inligting te deel.

Die Burger berig dat die familiewoordvoerder van die man en vrou, wat op 2 Augustus op Chamonix aangeval en beroof is, “besef het dat die ondersoek nie gaan vorder nie” toe hulle die ondersoekbeampte gevra het of hy ‘n art. 205-lasbrief bekom het sodat die diensverskaffers gevra kan word om te kyk of daar nuwe simkaarte in die gesteelde fone was. Die ondersoekbeampte het toe glo gevra “of die private speurder dit gedoen het”.

Reaksie van gasteplase

Volgens ‘n anonieme verteenwoordiger van Val d’Or is dit vir die gasteplaas moeilik om te bepaal watter ekonomiese impak die huisroof op dié plaas se inkomste het omdat dit tans winter is en toerisme as ‘n reel in die wintermaande in hierdie gebied afneeem.

Die bron sê dat die gasteplaas ook gelukkig is om met die Franschhoek-polisie se dienste wat dadelik by die toneel was toe die rooftog aangekondig was, om vingerafdrukke en ander inligting te bekom.

‘n Ander ingeligte bron het verduidelik dat die publiek moet onthou dat die polisie, nie net in Franschhoek nie, maar landwyd toegegooi is onder werk met te min mannekrag.

Die bron beweer dat die Franschhoek-polisie doen wat hulle kan om die verdagtes op te spoor.

Jan Lötter van Terra de Luc wou geen kommentaar lewer nie, terwyl geen terugvoering van Chamonix ontvang is nie. Die koerant het ook na die Franschhoek Wine Valley, ‘n toerismevereniging in die dorp, uitgereik, maar geen terugvoer is ontvang nie. Die koerant wou ondermeer weet hoe dié insidente toerisme in die dorp affekteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article