FRANSCHHOEK – Nóg ’n inbraak op ‘n wyn- en gasteplaas in Franschhoek is aangemeld toe twee tot drie verdagtes Donderdagaand (30 Oktober) ’n kothuis op Dieu Donné geteiken het. Hierdie is die derde voorval in Uitkykstraat vanjaar.
Kol. Frederick Russouw, stasiebevelvoerder by die Franschhoek-polisie, het bevestig dat die polisie ‘n saak van huisbraak en diefstal ondersoek.
Hierdie voorval, volgens Russouw, het tussen 22:30 en 23:00 plaasgevind toe die verdagtes ’n kothuis op die wyn- en gasteplaas betree het.
Paarl Post het vroeër die maand berig oor ‘n inbraak op 12 Oktober op ‘n gasteplaas genaamd Courchevel in Franschhoek, ook in Uitkykstraat, waar drie verdagtes vermoedelik drie mense wat in ‘n kothuis op die plaas geslaap het, oorrompel, vasgebind en besteel het. Courchevel is ‘n klipgooi van die Chamonix-wynlandgoed- en gasteplaas waar gaste ook op 2 Augustus deur drie rowers oorrompel en só erg aangerand is dat hulle in die hospitaal opgeneem moes word nadat hulle van hul besittings beroof is.
LEES OOK: Reeks inbrake ruk Franschhoek; gemeenskap weet glo wie is betrokke
Volgens inligting wat die koerant bekom het, het die inwoner van die kothuis die verdagtes buite opgemerk en hulself in die kothuis se badkamer toegesluit waarna die verdagtes vermoedelik ‘n beursie gesteel en toe van die toneel gevlug het.
Hulle het glo toegang tot die kothuis verkry deur ‘n deur oop te breek.
Russouw het verduidelik dat dit in hierdie stadium onbekend is of daar twee of drie verdagtes was en wat alles gesteel is.
Russouw het ook gesê dat die inwoner van die kothuis vermoedelik dadelik óf die polisie óf ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy geskakel het.
Ryan Trevaskis, akkommodasiebestuurder by Dieu Donné, het die voorval bevestig, en bevestig dat dit ‘n gas in die kothuis was wat besteel is.
“Die verdagtes het met geweld toegang tot die kothuis verkry deur die deur oop te breek. Gelukkig is die gas nie in die voorval beseer nie. Ons wil graag ons sekuriteitspanne en die Franschhoek-polisie bedank vir hul vinnige reaksie en bystand op die toneel. Die veiligheid van ons gaste bly ons hoogste prioriteit, en ons sal aanhou om hulle op hoogte te hou van veiligheidsmaatreëls in en rondom die gebied, het Trevaskis gesê.
Volgens inligting het die Franschhoek-polisie asook private sekuriteitsmaatskappye nog lank ná die voorval na die verdagtes gesoek, maar kon hulle nie vastrek nie.
Volgens Russouw kan hy geen beskrywings van dié verdagtes bekendmaak nie.
Vorige voorvalle
Drie verdagtes word ook in verband met die inbrake op Chamonix, die Terra de Luc-gasteplaas op 8 Junie en die Val d’Or-landgoed op 31 Mei gesoek.
Vier vroue is op 8 Junie omstreeks 02:00 op Terra de Luc deur drie mans oorrompel. Die rowers het blykbaar twee vroue vasgebind en beveel om op hul maag te lê terwyl die ander twee vroue op die bed gesit het. In die voorval op Val d’Or in Hoofstraat is ‘n soortgelyke modus operandi gevolg, waar drie mans toegang tot ‘n wooneenheid verkry en die twee gaste aangeval het deur een in die been te steek. In al die voorvalle is elektroniese toestelle en juweliersware gesteel.
Verdagtes
Paarl Post het vroeër berig dat daar minstens vier tot vyf sake van huisrooftogte hierdie jaar by die Franschhoek-polisie aangemeld is asook ‘n onbekende aantal klagtes van huisbrake of diefstal op plase.
Die koerant het ook berig dat die verdagtes in verband met die diefstal en inbrake op gasteplase in Franschhoek blykbaar in Groendal tuis is. Een verdagte, ‘n man, is glo bekend aan die Franschhoek-gemeenskap en sy besonderhede is aan die Franschhoek-polisie verskaf.
Russouw het by ‘n vorige geleentheid aan die koerant bevestig dat die Franschhoek-polisie bewus is van die drie verdagtes en ook reeds mense ondervra het, maar niemand kon in hegtenis geneem word nie omdat geen verdagtes wat in die polisie se visier is nog met die rooftogte op gasteplase verbind kan word nie.






