Franschhoek-brand
Die brand buite Franschhoek word steeds geblus. Foto: Henry Robbertse (Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit)

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) in samewerking met CapeNature en die Wynland Brandbeskermingsvereniging (FPA), het bevestig dat die brand in die gebied bo Franschhoek steeds buite beheer brand en na Assegaaibos bo die Bergrivierdam versprei het.

Hierdie is die tweede verwoestende brand wat Franschhoek vanjaar tref nadat die eerste brand op 7 Januarie in Wemmershoek – ‘n klipgooi van Franschhoek – ontstaan, en intussen geblus is nadat ongeveer 17 000 hektaar verwoes is.

Die jongste brand het op 17 Januarie uitgebreek, die keer in die La Motte-buurt buite Franschhoek, en word tans bestry.

“Brandbestryders het deur die nag uiters uitdagende toestande beleef, met sterk winde wat die brand in die rigting van ’n gebied bekend as Assegaaibos aangedryf het. Die vuur het daarna oor die Bergrivier gespring en nuwe brandpunte op die berg bo die rivier laat ontstaan,” luidens ‘n verklaring deur die KWDM.

Volgens die munisipaliteit bemoeilik die steil en ongelyke terrein, tesame met digte plantegroei, toegang tot die brandlyne.

Die brand wat op 17 Janaurie in La Motte ontstaan het, het na Assegaaibos versprei. Video: Brenton Matinka/ CapeNature

“Grondspanne kan slegs ontplooi word wanneer toestande dit toelaat, en brandbestrydingspogings was gevolglik hoofsaaklik daarop gemik om eiendom op omliggende plase te beskerm.”

In sommige gevalle het inwoners as ’n voorsorgmaatreël hul huise verlaat. Die munisipaliteit het gesê dat enige verdere veiligheidsmaatreëls direk aan inwoners gekommunikeer sal word indien dit nodig sou wees.

Die verskillende rolspelers sou vanoggend vergader om die ontplooiing van hulpbronne en verdere brandonderdrukkingsstrategieë te bespreek en te implementeer. Inwoners is ook gewaarsku dat waterbomme en ander brandbestrydingsaktiwiteite groot hoeveelhede rook kan veroorsaak.

LEES OOK: Beseerde brandbestryder suksesvol uit Stettynskloof-berge gered

Die KWDM beveel aan dat vensters en deure toe gehou word, veral deur persone wat sensitief is vir rokerige lug.

Brandbestrydingspanne en voertuie van die KWDM se Stellenbosch-, Worcester- en Paarl-brandstasies bly op die toneel, met ondersteuning van CapeNature se Working op Fire-spanne en Volunteer Wildfire Services.

Intussen het die KWDM ook kleiner brande in die Wellington-gebied hanteer, terwyl spanne tans ontplooi is om ’n brand in die Gouda-gebied te bestuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article