In ‘n tyd waar familieboerdery wêreldwyd onder druk verkeer, bring VIA se splinternuwe reeks Erfenis in die grond weer hoop, trots en inspirasie terug na die plaaswerf. Hierdie stories is ‘n bewys van erfenis wat nie net geërf word nie, maar daagliks opgebou en bewerk word.
Die aanbieder, Peter Pentz – ‘n inwoner van Darling en wat deel van sy eie familieboerdery Groote Post is – bied ‘n vars perspektief as ‘n jong stem in die landboubedryf en iemand wat self tussen generasies beweeg en verstaan hoe tradisie en vernuwing mekaar versterk.
Hierdie boeiende erfenisreeks van ses episodes delf dieper in die ryk, diverse geskiedenis van Suid-Afrika se bekende familieplase, wat wissel van wynlande tot vrugteboorde, groenteplase en veeboerderye.
Erfenis in die grond vertel die inspirerende verhale van ses suksesvolle plase se unieke geskiedenis, hul tradisies en die bydrae wat elkeen steeds tot Suid-Afrika se landboulandskap lewer. Allesverloren, die bekende wynlandgoed in Riebeek-Wes, is een van die plase wat besoek is.
Peter beskryf die reeks as ‘n eerlike en opregte kykie in die lewe van Suid-Afrikaanse boere en hul gesinne.
“Ek het tussen wingerde op Groote Post grootgeword en dis waarskynlik hoekom die stories in hierdie reeks my so diep raak. Dis eerlike, rou en mooi stories van mense wat vir hul grond en vir mekaar leef. Die reeks stel werklik die siel van ons landboubedryf bloot, asook die nalatenskap wat elke generasie agterlaat.
“Dit is ‘n ongelooflike program met pragtige stories en wonderlike mense wat hul ryk geskiedenis deel, groot passie vir landbou het en daarvolgens bou. Die program is ook visueel beeldskoon. Ek het saam met ‘n ongelooflike span gewerk – kreatiewe, talentvolle mense – en saam het ons duisende kilometers deur die land gereis op soek na al hierdie spesiale stories en om almal op die plase persoonlik te leer ken. Dit is die stories van familie en erfenis wat so ‘n integrale rol in Suid-Afrika se landbougemeenskap speel.”
LEES OOK: Visionary founder of Groote Post passes away
Gerrie Janse van Vuuren, die mede-vervaardiger, sê die idee vir die reeks het ontstaan toe hy ‘n ruk in die Nuy-vallei buite Worcester gewoon het. “Ek het op die Conradie-plaas gebly terwyl ek aan ‘n ander reeks gewerk het. Ek het baie tyd gehad om na al die mooi dinge op die plaas te kyk, asook die indrukwekkende plaashuis en die foto’s van mense wat deel van sy geskiedenis is. Ek het gewonder wat elkeen se storie is. Dít is presies wat ons met Erfenis in die grond wou doen – om die stories van die mense op die plase en die pad wat hulle as families gestap het, te deel.”
Hy glo kykers sal veral die historiese elemente geniet en die mense se innerlike verhoudings en kring van samewerking van nader kan bekyk.
Die mede-vervaardiger Nicolaas Viljoen sê die reeks bring die ryk erfenisverhale wat diep in Suid-Afrika se grond gewortel is, na kykers toe. Hy verklap die aanbieder se familieplaas, Groote Post, word ook besoek. “Dit was vir ons as ‘n span ‘n groot voorreg en nadat al die families hul deure vir ons oopgemaak het, ons vriendelik verwelkom het met ‘n koppie koffie en varsgebakte beskuit uit die blik, het hulle hul stories met soveel hart gedeel.”
Die plase wat in die reeks te sien is, bestaan uit Malan en Seuns Plesier-plante – ses generasies, Magaliesberge, Pretoria-Noord (ornamentale plante en produkte); Heuningkrans – ses generasies, Smithfield, Vrystaat (Merino-skaapboerdery); Allesverloren – vyf generasies, Riebeek-Kasteel, Wes-Kaap (wynboerdery); Boompie Alleen – vyf generasies, Vrede, Vrystaat (skaap, bees en sojabone); Grootkaliesfontein – vier generasies, Philippolis, Vrystaat (skaapboerdery); en die Swartland se eie Groote Post – vier generasies, Darling, Wes-Kaap (wynboerdery).



