Dit was nooit my droom om ‘n joernalis te word nie.
Hoewel lees en skryf altyd deel van ons familie-gene was, het ek dit nooit oorweeg om ‘n nuusskrywer te word nie. In ons huis was koerante en tydskrifte lees verpligtend, maar dit was nie ‘n beroepskeuse nie. My mense was mynwerkers.
Ek onthou hoe my pa elke Sondag die Rapport se verskillende afdelings aan ons uitgedeel het. My een broer lees eers die sport, ek die tydskrif, my pa die sake en my ander broer die Kaap Rapport ens. As jy klaar is dan gee jy maar aan.
Een van ons vriende, Romeo, het nie gehou van lees nie. Hy het Sondae gesit en televisie kyk terwyl ons lees. Wanneer ons klaar is, het hy altyd gevra: “Wat sê die papers?”
Nou dwaal ek af, want ek wou eintlik praat oor hoe ek nie eintlik ‘n joernalis wou word nie. Ek wou ‘n skrywer word, want dit was die ding wat die maklikste vir my gekom het. Maar ek wou nie nuus skryf nie. Ek wou stories vertel met helde in en gelukkige eindes en mooi meisies.
Stories waarin net die bad guys seerkry en kinders kan speel sonder die vrees om seergemaak te word. Waar mense in vrede saam lewe…
Toe beland ek in die joernalistiek.
Omdat ek van ‘n klein dorpie af kom, was ek baie beskerm teen die wreedheid van die lewe. Toe ek vir koerante begin werk het ek, ‘n arme protestante laaitie, besef boosheid is oral rondom ons. En dit is so algemeen dat sommige koerante nie eens meer daaroor wil skryf nie.
Ek kan nie eens meer onthou hoeveel stories ek al oor moorde en verkragtings geskryf het nie. Daar is maklik niks waaroor ek nog nie berig het nie, maar steeds voel ek iets gaan binne-in my dood as ek hoor van ‘n kind wat leed aangedoen is. Dan wonder ek hoe boos moet jy wees om ‘n weerlose kind skade aan te doen?
Deesdae as ek ‘n man en ‘n jong kind saam sien, kyk ek na die kleinste detail. Watter kleur klere het hulle aan. Hoe lyk die man? Hoe stap hy? Het die kind kenmerke waaraan sy uitgeken kan word?
Ek doen al hierdie dinge omdat my kop vir my sê dat ek binnekort oor hierdie kind moet skryf.
Die joernalistiek het my so baie die afgelope 24 jaar geleer, maar een van die grootste lesse is dat ek bitter min mense moet vertrou. En daarin lê my probleem.
Ek wil nie so wees nie, want ek hou baie van mense. My vrou sê altyd sy weet wanneer ek lanklaas ander mense gesien het, want ek begin kriewelrig raak. Maar my vertroue in die mensdom is geskaad.
Ek kry onlangs ‘n oproep van iemand wat my liederlik uittrap en sê joernaliste is die skuim van die aarde. Hy was nie tevrede met iets wat ek geskryf het nie. Nadat hy al sy woede uitgeskel het, vra ek hom: “Hou jy van mense?”
Hy aarsel aan die ander kant van die lyn en sê: “Ek hou baie van mense, maar joernaliste is mos nie mense nie.” Ons albei raak toe vir ‘n oomblik stil en ek bars uit van die lag. Die volgende oomblik toe lag die oom ook. En toe lag ons saam.
Toe besef ek, ek like nogal my job.



